Tiener verdrink tydens skooluitstappie

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: David Di Veroli/Unsplash)

Die liggaam van ’n 16-jarige leerder is Vrydag by St. Lucia, KwaZulu-Natal, uit die water gehaal nadat hy die vorige dag tydens ’n skooluitstappie in die see verdwyn het.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê NSRI-lede sowel as veldwagters van die iSimangaliso-vleilandpark is Donderdag omstreeks 15:00 na die kus by St. Lucia ontbied nadat ’n leerling tydens ’n skooluitstappie onder die water verdwyn het.

“Die leerder is vermoedelik deur die seestrome meegesleur voordat hy onder die water verdwyn het,” bevestig Lambinon.

Die onderwysers het die reddingspan ontbied.

“Ondanks die uitgebreide soektog na die tiener was die reddingspoging onsuksesvol.”

Die polisie se soek-en-reddingspan is ook na die toneel ontbied.

Die iSimangaliso-vleilandpark se veldwagters het Vrydagoggend die liggaam van die tiener by die First Rocks-gebied in St. Lucia gekry.

“ʼn NSRI-swemmer het die liggaam uit die water gehaal.”

Die tiener se liggaam is vir ʼn nadoodse ondersoek gestuur en die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.