Tiener vergeet ongeluk waarin gesin sterf

(Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Jordan Marais (17), die enigste oorlewende van ʼn ongeluk wat meer as ʼn jaar gelede feitlik sy hele gesin uitgewis het, moes vir weke ná die tragiese voorval daagliks herinner word dat sy familie dood is.

Dít omdat hy keer op keer vergeet het van hul afsterwe weens ʼn breinbesering wat hy tydens die ongeluk opgedoen het.

Nou, meer as ʼn jaar ná die ongeluk en met twee breinoperasies agter die rug, is Jordan besig om die stukke van daardie dag se legkaart bymekaar te sit.

Jordan se ouers Christa (45) en Ian Greyling (52) en broer, Jacques Marais (15), het verlede jaar op 10 Januarie in ʼn ongeluk op die N3 by Harrismith omgekom. Jordan en sy ouboet, Donovan Delport (23) – wat vroeër huis toe is vir werk – is die enigste oorblywende lede van dié gesin van Pretoria-Noord.

Die gesin se boesemvriende, Willie (44) en Zelde (41) Snyman en hul dogter Lize (15), is ook in die ongeluk dood.

“Ek begin nou weer stukkies van die ongeluk onthou,” sê Jordan.

“Ek kan onthou dat dit donker was en erg gereën het. Ek het na buite gekyk toe ek my ma hoor skreeu. Voordat ek myself kon kry, het die ongeluk gebeur.

“Toe ek weer bykom, was my broer, wat langs my in die kar gesit het, nie meer daar nie. Ek het na my gesin geroep, maar net my ma het geantwoord.

“Sy het vir my gesê om nie bekommerd te wees nie, want my ouma sal na my kyk.

“Ná dit onthou ek niks nie.”

Jordan nadat hy uit die hospitaal ontslaan is. (Foto: Verskaf)

Jordan was vir drie weke ná die ongeluk in ʼn koma en toe hy eindelik bykom, het hy aanhou vergeet van die noodlottige dag.

Hy is daagliks daaraan herinner, en is elke keer in stukke gelaat daarna. Naderhand het dit die hersteltyd van sy kopbesering belemmer en eers sowat twee maande later het die realiteit ingesink dat sy gesin nie meer by hom is nie.

Jordan se ouma, Suzette Schoeman (65) by wie hy nou woon, sê dit was ʼn traumatiese tyd vir Jordan. Sy self moes haar kind en kleinkind aan die dood afstaan.

“Hy het heeltyd gedink die ongeluk het in Phuket, Thailand, gebeur waar hulle gesin ʼn jaar vantevore vakansie gehou het. Hy kon niks van die jaar ná daardie vakansie, asook die ongeluk onthou nie,” sê sy.

Jordan bieg dit is moeilik om aan te pas noudat die herinneringe van sy tyd saam met sy gesin na hom begin terugkom.

“Omdat ek nou weer begin onthou wat ons almal saam gedoen het, is dit soms moeilik om aan te gaan,” sê hy.

“Maar my ouma doen so baie vir my en herinner my gereeld dat ek eerder vorentoe moet kyk want my lewe gaan nie stilstaan nie.”

‘Opgee nie ʼn opsie’

(Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Jordan sê hy is trots op wat hy sedert die ongeluk bereik het.

Dié lewenslustige tiener het verskeie beserings opgedoen, waaronder aan een van sy bene en sy kop. Sedert die ongeluk het Jordan se beenbesering herstel en kan hy weer gemaklik loop. Hoewel hy verlede jaar weer moes leer lees, skryf en praat, is hy eindelik op 17 Januarie vanjaar terug skool toe, gereed om met gr. 10 te begin.

“My ouma het altyd vir my gesê opgee is nie ʼn opsie nie,” sê hy.

Volgens Suzette is Jordan terug na Único Akademie, ʼn private skool in Pretoria, maar dat dit aanvanklik vir hom ʼn uitdaging was om aan die skoolroetine gewoond te raak.

“Alles was vir hom vreemd en selfs vakke soos Afrikaans en Engels, wat hy vir jare voor die ongeluk gehad het, sukkel hy skielik mee. Hy moet nou basies alles van voor af leer.”

Hoewel Jordan nie meer enige vorm van kontaksport mag speel of oefening doen wat skudding in sy brein veroorsaak nie, is hy nie te veel hieroor gepla nie. Hy beoog om in die toekoms in die IT-bedryf te werk en sit nou skouer aan die wiel om weer met sy akademie op te vang.

Donovan sy ‘steunpilaar’

Jordan het saam met sy half-broer Donovan ʼn houtkruis by die ongelukstoneel gaan opsit. (Foto: Verskaf)

Donovan is volgens Suzette ʼn werklike steunpilaar vir Jordan.

“Hy is die enigste boetie wat Jordan nou oor het. Hy bly net om die draai van ons, so hulle sien mekaar daagliks.”

Dié twee broers het vroeër in Januarie, op die dag van die ongeluk ʼn jaar vantevore, ʼn houtkruis by die ongelukstoneel gaan opsit.

“So ondersteun hulle mekaar.”

Jordan is ook onlangs deur sy oorlede broer se gewese skool, Hoërskool Overkruin, genooi vir die onthulling van ʼn gedenksteen vir Jacques.

“Jordan was so dankbaar om dit te kan bywoon, aangesien hy sy hele gesin se gedenkdiens gemis het omdat hy in die hospitaal was,” sê Suzette.

“Dit was so spesiaal vir hom.”

Jordan het op daardie dag ook al Jacques se klere aan die skool geskenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christine ·

Sjoe, met ‘n knop in my keel en trane wegpik, het ek die tragiese gebeurtenis gelees. Wat ‘n voorreg dat die jongman so ‘n stunning ouma en broer aan sy, sy het. Sterkte Jordan, jy sal ‘n sukses maak van jou toekoms. Sit skouer aan die wiel en moet nie jou ouma se woorde vergeet nie: ‘Opgee is nie ‘n opsie nie’. Donovan en jou ouma is twee wonderlike steunpilare.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.