Tiener vermoor glo kêrel op Valentynsdag

mes-aanval

Argieffoto

ʼn 18-jarige meisie is in hegtenis geneem nadat sy glo haar kêrel op Valentynsdag vermoor het, het die polisie in die Vrystaat Dinsdag gesê.

“Thando Lushaba het Saterdag by haar 23-jarige kêrel se huis opgedaag toe sy hom saam met ʼn ander vrou betrap het,” het sers. Mamello Mokhuoane, woordvoerder van die polisie, gesê. “Sy is daar weg en het na haar huis in Thabong teruggekeer.”

Die kêrel het daarna glo saam met sy vriende en Lushaba se boetie gaan drink en toe hulle vroeg Sondagoggend terugkom, het sy hom gekonfronteer oor sy verhouding met die vrou. “Hulle het glo begin baklei en sy het hom een keer in die bors gesteek,” het Mokhuoane bygevoeg.

Lushaba se boetie en ander getuies het met die man na ʼn hospitaal in Welkom gehaas. Hy is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Lushaba het Maandag in die Welkom-landdroshof verskyn op aanklag van moord. Sy sal na verwagting volgende week weer in die hof verskyn om aansoek te doen om borgtog.

Mokhuoane het gesê die oorledene se naam mag nog nie bekend gemaak word nie, aangesien sy familie nog nie in kennis gestel is van sy afsterwe nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theresa ·

Sinneloos en nou is lewens verwoes. Beweeg net aan – daar is baie visse in die see. Wens almal wil dit besef. Geen man of vrou is so iets werd nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.