Twee gesinne feitlik uitgewis in ongeluk

Van links: Jacques, Ian, Christa, Jordan en Donovan (Foto: Verskaf)

Jordan Marais (16) is die enigste oorlewende van ‘n ongeluk op die N3, wat Sondag die lewe van sy ouers asook dié van sy broer en ouers se vriende geëis het.

Die Greyling-gesin van Pretoria-Noord was Sondagaand saam met vriende in ‘n minibus op pad terug van Uvongo waar hulle vakansie gehou het.

Maroela Media het vroeër berig die minibus , ʼn Prado en ʼn vragmotor het Sondag teen mekaar gebots. Twee insittendes van die Prado is deur paramedici van die provinsiale nooddienste op die toneel dood verklaar.

Ian (52) en Christa (45) Greyling het saam met hul jongste seun, Jacques Marais (15), in die ongeluk omgekom. Jordan en Jacques is Christa se seuns uit ‘n vorige huwelik. Jordan veg tans om sy lewe in ʼn hospitaal in Bloemfontein. Hy was in die wrak vasgekeer en moes met behulp van meganiese toerusting uit die wrak bevry word.

Jordan se ouer half-broer, Donovan Delport (22), het verlede week per vliegtuig na Pretoria teruggekeer omdat hy Woensdag begin werk het. Die Greyling-gesin se goeie vriende, Willie, Zelde en Lize Snyman is ook almal in die ongeluk dood.

Volgens Theo Burger, senior mede-leraar van die Herlewingsentrum Wonderboompoort en ook ʼn jarelange vriend van die Greylings, is Jordan in ʼn kritieke toestand in die hospitaal se intensiewe sorgeenheid.

“Hy is tans in ʼn diep koma. Dokters het Maandag ʼn sewe uur lange operasie op hom uitgevoer om die bloeding op sy brein te stop,” vertel Burger.

“Dit is baie tragies. Ek het nog Sondagoggend met Ian gesels. Hy het my vertel dat hulle Sondag gaan terugry omdat hy Maandag weer moet begin werk. Ek het nie besef dit sou ons laaste keer wees wat ons praat nie.”

Ian was die eienaar van Greyling-vervoer, ʼn familiemaatskappy wat hy by sy pa oorgeneem het. Christa het saam met Ian by die maatskappy gewerk. Die egpaar sou November vanjaar tien jaar getroud wees.

Burger en die Greyling-gesin is al vir die afgelope 15 jaar vriende. Die gesin is ook al vir amper 30 jaar deel van die Herlewingsentrum Wonderboompoort-gemeente.

“Hulle was wonderlike mense. Ian was so saggeaard en kon nooit vir iemand nee sê nie. Hy en Christa was baie lief vir mekaar.”

Volgens Burger was die kinders ook aktief betrokke by die kerk se tienergemeenskap.

Jacques was ʼn gr. 9-leerder aan Hoërskool Overkruin in Sinoville en Jordan in Único Akademie, ‘n private skool in Pretoria.

“Ons gebede en meegevoel aan die familie. Mag julle vertroosting in hierdie hartseertyd ontvang. Ovies is saam met julle hartseer,” lui Hoërskool Overkruin se inskrywing op hul Facebookblad.

Burger sê nog geen begrafnisreëlings is getref nie.

*Hierdie berig is gewysig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mariaan ·

Skokkend hartseer..hierdie tipe goed is net te veel vir my! Hoekom gebeur sulke tragiese goed?? Ai ..sterkte aan hierdie arme mense se families..dat n vakansie so tragies moet eindig!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.