Tiener weet nog nie van amputasie ná ongeluk

Steyn Steenberg in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

“Ek gaan wil weghardloop, want dit sal vir my baie moeilik wees. Dit lê soos ʼn berg voor my.”

Só sê ʼn ma van Pretoria oor die oomblik wanneer sy aan haar 16-jarige seun die nuus sal moet breek dat sy been geamputeer moes word nadat hy in ʼn ernstige motorfietsongeluk betrokke was.

Christa en Jacques Steenberg het Donderdag met Maroela Media op die tweede verdieping van die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion gesels waar hulle al dae lank langs hul seun, Steyn, se hospitaalbed waak.

Steyn, ʼn gr. 10-leerder aan die Hoërskool Garsfontein, is tans onder verdowing en aan ʼn ventilator gekoppel in die waakeenheid van die hospitaal, en sal na verwagting oor die volgende paar dae stadig van dié verdowing gespeen word. Dit is dán wanneer die moeilike taak vir sy ouers voorlê om hul tienerseun te vertel van sy been wat hy Sondag in die ongeluk naby sy ouerhuis verloor het.

ʼn Sielkundige asook die gesin se predikant sal by wees wanneer hulle hom vertel, verseker die ouerpaar. “Dit is belangrik dat ons sterk staan wanneer hulle hom môre of oormôre wakker maak,” verduidelik ʼn effens emosionele Jacques. “Ons kan nie dat ons gevoelens hóm ontstel nie.”

Steyn is eindelik stabiel en ontvang reeds sy tiende eenheid bloed nadat hy op Moedersdag met sy motorfiets teen ʼn staalversperring gebots het.

Jacques het aan Maroela Media gesê hy was besig om kos te maak vir hul gesin se Moedersdagete toe hy ʼn oproep van ʼn onbekende nommer ontvang het. Dit was ʼn onbekende vrou wat hom ingelig het dat sy seun in ʼn ernstige motorfietsongeluk betrokke was. Die vrou het genadiglik verby die ongelukstoneel gery en by die tiener stilgehou waar Steyn haar gevra het om sy pa te bel.

Christa en Jacques Steenberg in die hospitaal. (Foto: Tania Heyns)

“Steyn het Sondagmiddag ʼn draai gaan ry met die veiligheidsklere aan. Hy weet hy mag nie daarsonder gaan ry nie. Hy gaan ry seker elke dag twee of drie keer ʼn ent en elke keer is hy binne 30 minute terug,” verduidelik sy pa. Dié keer was egter anders nadat Steyn omstreeks 15:30 op dié dag gaan ry en die ondenkbare gebeur het.

“[Toe die vrou bel] het ek gevra of ek met Steyn oor die foon kon praat. Ek kon hoor hy is paniekbevange, maar hy het duidelik gepraat. Ek het hom gevra hoe erg het hy seergekry. Hy het net gesê: ‘Pappa, baie erg. Dit is baie seer. Kom dadelik.’”

By hul aankoms op die toneel het Steyn se motorfiets ʼn ent van hom af gelê.

“Hy het op sy rug gelê met sy arm uitgestrek. Ek het aanvanklik gesien daar is ʼn lelike sny aan sy arm en sy gewrig is gebreek. Die gewrig was heeltemal verplaas. Ek het ook die plas bloed gesien, maar eers nie die been nie,” vertel Jacques.

Steyn se been was met ʼn handdoek toegegooi.

Die tiener kon in dié stadium praat en het aanhoudend gevra hoe ver die ambulans weg is. “Ek het net gedink ‘dankie tog, my kind kan praat’. Hy het toe half op sy sy gekom en ek kan nie onthou of ek of Christa die handdoek opgelig het nie, maar ons het dit opgelig en tóé sien ons daardie been,” vertel Jacques, die afgryse duidelik op sy gesig.

“Ek kon verstaan dat hulle die been toegegooi het,” voeg Christa by.

Hoewel dit nie duidelik is wat presies die oorsaak van die ongeluk was nie, vermoed die Steenbergs dat Steyn teen ʼn staalversperring gebots het. “Die been het dalk aan die agterkant van die versperring beland en soos die been teen dié versperring geskaaf het, het dit die been gesny.”

Steyn se been was “basies af,” verduidelik sy pa. Al drie sy hoofslagare in die been is tydens die ongeluk afgesny.

Die tiener se laaste woorde voordat hy sy bewussyn verloor het, was om vir sy pa te sê dat hy begin sukkel om te praat. Steyn se lippe het kleur verloor en hy het slaperig geraak.

Steyn het reeds talle briewe van bemoediging van sy klasmaats ontvang. (Foto: Tania Heyns)

Later sou hulle hoor dat as dit nie vir Steyn se jong ouderdom was nie, hy moontlik nie die ongeluk sou oorleef nie.

ʼn Ambulans het eindelik gekom waarna Steyn morfien vir die ondraaglike pyn toegedien is voordat hy na die Netcare Unitas-hospitaal gehaas is. Steyn se longe het met sy aankoms by dié hospitaal platgeval.

Christa verduidelik sorgvuldig soos net ʼn ervare verpleegster van beroep kan dat dokters eers dreineringspype ingesit het sodat die longe weer kon uitsit voordat hulle hom intubeer het. Daarna moes hy vir ʼn skandering gaan om die skade vas te stel. Hiér het dokters agtergekom dat die tiener se bekkenbeen ook gedurende die ongeluk gebreek het.

“Hy het daardie aand net al hoe meer onstabiel en kritiek geword,” vertel Christa.

“Ek wou van my kop af raak in daardie uur waartydens hy vir die skandering moes gaan,” erken Jacques. “Ek wou net hê hy moet in die teater kom sodat hulle sy been kan aanwerk. Ek het my toe nog net bekommer oor die been. Ek het toe nog nie besef dat my kind se lewe in gevaar is nie.”

Steyn ís toe later die aand in die teatersaal ingestoot waar sy dokters egter besef het hulle sal moet kies tussen die tiener se lewe óf sy been. Steyn se been is gevolglik geamputeer en dít sonder narkose aangesien hy nie narkose sou oorleef nie.

“Ons het buite gesit en het later begin dink dat ons ons moet voorberei op die ergste,” verduidelik Christa. Dit is duidelik dat dit vir haar moeilik is om aan daardie oomblik te dink.

“As ʼn mens later aan al hierdie dinge dink, is jy net dankbaar dat hy nog hier is. Daar is sekere dinge wat dokters eers later vir ʼn ouer kan vertel.”

Jacques vertel dat hulle ondersteuning uit alle oorde ontvang. “Mense is emosioneel oor hierdie 16-jarige seun wat sy been verloor het. Die been is nie vir ons belangrik nie. Ons seun is vir ons belangrik.”

Christa erken dat sy wel oor baie dinge wonder wanneer sy kans kry om ʼn blaaskans van die hospitaal te neem en huis toe te gaan. “Ek sien anderdag sy twee skoolskoene in sy kamer staan en toe wonder ek, maar hy is ʼn besonderse kind. Hy sal orraait wees.”

Volg Steyn se vordering op Facebook en Instagram.

Steyn Steenberg (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Jax ·

Liefste Steyn, al lees jy die eers later, jy gaan ok wees, die Here het besluit
om vir jou die groot swaar rugsak te gee, jy’s ‘n vegter van formaat!
Dankie abba Vader dat U sy lewe gespaar het, hou hom onder U bloed, genees hom binne en buite, asook sy ouers.
Boeta!!!! ons kyk uit vir jou jy’s mos ‘n yster!

Chantel Nel ·

Ons het ‘n vriend wat verlede jaar in ‘n ongeluk was waar ‘n persoon hom raak gery het. Hy het baie kere vir sy lewe geveg. Hy het sy bekkenbeen ook gebreuk het en ook is sy een been korter as die ander een na die ongeluk. Lang storie kort. Die dokters het vir hom gese dat hy nie weer sal kan loop nie (nooit weer nie) Deur die Here se genade en harde werk het hy hulle almal verkeerd bewys. Hy lewe en loop weer. Steyn en Ouers – moenie moed opgee nie die Here sal julle almal dra hierdeur en Steyn SAL weer gesond word.. ” Here ek pleit die bloed van Jesus oor Steyn en sy ouers, ABBA ek vra dat U hom asb. sal genees en by hom sal wees deur die pad van herstel. Ek bid dit in Jesus Naam. Amen.

Genieve ·

O’nee dis hartseer ai my hart gaan uit na julle kan dink hoe n julle voel baie sterkte die Gees sal self onderneem ek glo jy sal herstel boeta.

marco polo ·

Sjoe, as mede-motorfietsryer is dit altyd skrikwekkend om sulke stories te lees. Baie sterkte aan Steyn en die familie.

Danielle ·

Een ding wat mense sukkel om te verstaan is dat dit nie God se wil is vir ons om seer te kry of deur moeilike situasies te gaan nie, God toets ons nie, Hy gee nie vir jou n swaar rugsak om te kyk hoeveel jy kan hanteer nie. Dis nie God se skuld nie en Hy het nie die ongeluk laat gebeur as n “toets” nie. Dit was ‘n ongeluk, dis al, dit was wel God se genade en Sy liefde wat die seun gered het, en hom steeds beskerm en aan die lewe hou.

Mag jy gou herstel Steyn, en geseende pad vorentoe he! Mag God jou dra deur elke moeilike gedagte, oomblik en elke struikelblok, sodat jy dit met vrede en vreugde in jou hart sal oorkom en weet God het jou lief!

Lientjie ·

Dankie tog nog iemand was soos ek voel. God is n God van liefde nie van seer en rugsakke gee nie. Soms kan die duiwel maar probeer wat hy wil God sal altyd vir ons baklei maak nie saak wie of wat jy is nie, After all, Hy het jou naam geken nog lank voor jou geboorte. Sterkte seun alles sal reg kom hou net aan glo en vertrou.

LINDA ·

Steyn Jesus het klaar jou hand in Syne! Hy wil jou gebruik as getuie oor hoe Hy jou lewe gespaar het. Jesus het jou nog nodig hier op aarde. Dit sal vir jou n groot skok wees maar Jesus laat niks oor ons kom wat ons nie kan hanteer nie. In jou hartseer sal Hy jou vertroos want jy Steyn is Syne. Dankie Jesus dat U hom gespaar het. AMEN.

Andrea ·

Baie sterkte, liewe seun en ouers. Ek kan my skaars julle ervaring indink. Ek glo die Here sal jul ondersteun, nou en ook in die toekoms. Baie sterkte.

Gesiggie ·

My innige meegevoel aan die ouers en ook aan Steyn wat die slegte nuus moet ervaar… ek kan net dink hoe swaar dit vir jul as ouers moet wees en vir jul kind om te aanvaar dat sy been afgesit is. Maar ek stem saam jou Jax… Steyn die pad wat nou wag mag lank en swaar wees… maar met God as jou leidsman en jy as n vegter, sal jy die son sien skyn… en wag daar vir jou n nuwe toekoms . Alle sterkte en als wat mooi is.

Abel ·

Dit is verskriklik, maar ons is saam met julle dankbaar dat julle seun leef. Bid dat julle pad vorentoe saam met Jesus aan julle sy draaglik sal wees.

Sterkte en liefde vir julle

Helena. ·

Pragtige jong seun..jy leef en dis wat belangrik is..ek hoop en bid dat jy hierdeur gaan kom en jou lot met vrede in jou hart sal aanvaar. Sterkte aan ouers net die Hemelse Vader kan julle hierdeur dra.

Lena Jonk ·

Liewe ouers, ons bid vir julle ons Almagtige God sal julle seun mooi laat herstel en vir julle die Genade gee om hom by te staan en te versorg. Dis vir n ouer bitter om daardie seer en hartseer van jou kind te sien. Hou moed glo en houvas aan julle Geloof, as sal graag van sy vordering op die herstelpad wil hoor.

? leser ·

steenberg seun, ek bid die Here om jou het herstel, afgesien van die been, die herstelpad gaan lank wees, maar pappa en mamma is daar om na jou om te sien, sterkte ook aan steenberg familie, julle geloof is sterk en hou aan Sy Hand vas, Hy is ons enigste Groot Geneesheer

MS ·

Sterkte, Seun, aan jou en jou ouers. Laat my dink aan daai Bethel liedjie – I raise a Hallelujah, Heaven comes to fight for me. God is met julle in hierdie moeilike tyd.

Endria ·

Ek self was 2 jaar terug in n baie lelike moterfiets ongeluk en het my bekken baie sleg gebreuk teen die heup potjie. Senuwees afgesny in die ander been ens. Julle seun gaan hierdie struikelblok oorkom en hy gaan n sterker mens hier uitstap. Na so ervaring besef mens eers werklik hoeveel jou lewe werd is en n been maak nie die mens nie. Met wilskrag en geloof sal hy deur dit kom. Daars gese ek sal nooit weer normaal loop of enige van my sport kan beoefen nie. Vandag twee jaar later dank ek God en baie goeie dokters. Loop normaal en neem deel aan sport. Hou moed en wees sterk. Baie sterkte

Chantel van Staden ·

Baie sterkte Steyn. Bid vir jou en jou familie.

Blackie ·

Steyn, jy is in goeie hande. Ek bid vir jou en vir jou gesin. Baie sterkte.

Kevin ·

Jammer om te hoor steyn..hoop vir n vinnige herstelling.

Maar meroela media.. Daai is my nefie se foto.. Dit is nie steyn in die hospitaal bed nie.. Haal dit asb af van die blad af en kry die regte fotos.

Anja van der Merwe ·

Dagsê Kevin

Dankie vir jou kommentaar. Die foto het ons van die ouers self ontvang. Dit is inderdaad Steyn.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

Jacques Steenberg ·

Kevin ek ken jou nie geweet jys familie nie.
Kan jou waarborg dis ons seun.

Mariaan ·

So mooie jong seun…sterkte aan jou en jou ouers…ons spreek lewe!!

DS ·

Sterkte aan Steyn en sy ouers vir ‘n moeilike pad wat voorle. Ek glo die Here laat nie slegte dinge met ons gebeur nie maar Hy laat toe dat dit gebeur. Lees maar Job en julle sal verstaan wat ek bedoel. Net die Here weet wanneer dit die einde van jou lewe is en niks wat enige iemand doen kan daai dag, uur, minuut en sekond verander nie.

Hugo ·

Liewe Steyn , my seun Hugo (11jaar) het 6 weke terug in amper presies die selfde motorfiets ongeluk gekom waar ‘n lemmetjies draad sy boon been spiere af gesny het tot op die femur been. Dit het sy hoof slagaar met mm gemis . Hugo moet nou vir 6 maande nie eers dink aan sport nie. Hy het 20% spier masa verloor net om die spiere te probeer aan mekaar vas heg.Jesus was my seun genadiglik om hom sy been te spaar. Maar weet net dat daar wel ‘n baie groot spesiale taak op jou en my seun se hande lê, deur vir almal te vertel van GOD se groot genade oor julle lewens. Ons sal saam vir en my seun bid vir geneesing. Sterkte Steyn
Liefde van Hugo en die Dercksen’s

' annetjie ·

Liewe christa en jacques baie sterkte met die ongeluk waardeur julle pragtige seun sy been verloor het ek wil vir julle baie sterkte toewens en dat ons altyd moet onthou ons dien n groot Here hy sal julle deur als dra ek dink aan julle sterkte groete annetjie

Derick ·

Ai dit is erg, baie erg. Mag die Here julle versterk in hierdie moeilike tyd. Mag Hy julle seun aanraak, dat hy volkome herstel.

Pieta ·

Liewe Christa, Jacques em Steyn, ek weet dit is ‘n groot terugslag veral op die ouderdom waar mens nog alles wil doen soos miskien rugby of krieketspeel maar die lewe gaan aan. Ek het my been op sewe jarige ouderdom verloor. Was nog in die Johannesburgse Kinderhospitaal so dis baie lank terug. Toe ek uiteindelik terug is by die skool het my maatjies ook tussen sewe en ses my aanvaar soos ek toe teruggekom het. Ons kon nooit ‘n duur kunsbeen soos Oscar sin bekostig nie maar die meeste bene was van goeie gehalte en die mense wat nou bene maak is fantasties. Hulle is regtig omgee mense. Baie sterkte vir jou en mag jou wond gesond word sonder infeksie. Aan Christa en Jacques baie sterkte en baie liefde en glo net dat Ons Hemelse Vader. Hy sal nooit die kruis te swaar maak om te dra nie

Leser ·

Ek bid hierdie familie al die krag wat hulle nodig het deur hierdie tyd en dat Steyn vinnig sal herstel. As ‘n ma, kan ek nie eers dink wat julle as ouers moet deurgaan nie. Baie sterkte.

Anon ·

Shoe ek raak skoon emotional as ek hier lees. Baie sterkte aan die ouers en die seun. Ek bid dat die Here julle help en lei in die tyd.

Hattinghs ·

Steyn, Christa, Jacques en Karla, ons is trots om julle ons vriende te noem. Julle is ñ voorbeeld in geloof, blymoedigheid, hoop en kosbare gesinsliefde tydend hierdie traumatiese tyd in julle elkeen se lewens. Omdat julle in alles die HERE voorop stel, sál dit met julle goed gaan, al gebeur wat. Baie liefde, ons 6 xx

Karin ·

Hierdie dinge ruk aan ‘n mens, maar die Genade van ons Here Jesus is groot. Ons sien dit elke dag. Baie sterkte Steyn, Christa en Jacques.. Ons kan ons nie indink waardeur julle nou gaan nie. Ons dien ‘n genadige Almagtige God en Hy stuur net sy sterk soldate om die moeilike oorloe te baklei. Ons bid vir julle en glo en vertrou Steyn gaan ok wees.

Sean ·

Ai ou seun, daar lê ‘n swaar tyd vir jou voor, maar onthou God gee die grootste uitdaagings net aan sy sterkste krygers (Warriors)
Liefde Groete en respek en gebede.
“Dad” Pres. – Proud Riders

GM ·

Iets wat ek nou weer nie kan verstaan nie, is dat mense altyd ander wil reghelp/aanval wat Godsdiens aanbetref. As die een ou dit beskou as ‘n ‘swaar rugsak’ – dan is dit die persoon se siening, (dit was vir my ‘n mooi en opregte boodskap van die persoon af), nes dit die ander se siening is wat voel dat die Here nie sulke ongelukke laat gebeur nie. Op die ou einde van die dag, bly ons almal mense, met ons eie sienings en interpretasies want geen, maar geen, mens kan sê DIS hoe die Here handel of nie handel nie.
Die Bybel is vol wreedheid, nie net vol liefde en genade nie.
Daar is gedeeltes waar daar aangedui word dat ons nie nou als volkome verstaan nie, maar eendag sal – dit dui mos nou aan dat ons nie als weet nie? Nou hoe kan ons dan sê die een ou verstaan sy Bybel verkeerd en jy is reg? Haal die mooi uit die boodskap uit, mens hoef nie saam almal te stem om hul opinies te respekteer nie. Dis net soos dié mense wat kla as iemand sê die Here het sy mooiste blom kom pluk – almal is nie ewe goed met hul gevoelens deel nie, maar hul probeer tog troos. Ek hou nie van die frase nie, maar ek val nie ander aan wat dit gebruik nie.

Sterkte aan die seun en sy ouers.

Julie Jansen van Rensburg ·

My innige meegevoel met die gesin – ek het self jare terug motorfiets gery, en is eendag deur ‘n nalatige bestuurder getref terwyl my regter flikkerlig aangedui dat ek wou draai, maar die bestuurder was te besig om met sy/haar passasier te praat en het nie opgelet nie, derhalwe het die bestuurder my aan die regterkant probeer verbysteek en my in die proses getref. Gelukkig het ek redelik lig daarvan afgekom, daar die straat baie stil was, maar dit kon veel erger gewees het, en later het ek maar na motorvervoer oorgeskakel. Ongelukkig is dit ook ‘n feit dat vele jongmense vandag geneig is om roekeloos te ry – ek beskuldig niemand in besonder nie – maar hulle moet besef dat ‘n motorfiets NIE ‘n speelding is nie – asseblief, waarsku julle kinders om eers goeie ondervinding op te doen – leer om die masjien ordentlik te hanteer en nie roekeloos rond te jaag nie. Sterkte!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.