Tiener word stadig wakker ná ongeluk

Steyn Steenberg in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Steyn Steenberg (16) is besig om stadig maar seker wakker te word van die verdowing waaronder hy die afgelope week geplaas is nadat hy verlede Sondag in ʼn ernstige motorfietsongeluk was.

“Ons verlang só na hom. In dié stadium oorskadu dit die traumatiese nuus wat ons hom gaan moet meedeel as hy [heeltemal] wakker is,” het Jacques, Steyn se pa, Vrydag aan Maroela Media gesê.

Jacques verduidelik dat Steyn sy oë nog net op skrefies oopmaak waar hy in die waakeenheid van die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion behandel word. Hy weet vermoedelik in dié stadium nog nie dat sy been geamputeer is nie, hoewel sy ouers hom vanoggend van sy been vertel het.

Steyn is ook nog steeds aan ʼn ventilator gekoppel en kommunikeer deur sy kop te knik of te skud. Jacques meen dit is wel duidelik dat hy kan hoor en verstaan wanneer iemand met hom praat, maar of hy enigiets later, wanneer hy heeltemal wakker is, gaan onthou, is ʼn ander storie.

“Ons het hom vertel [van sy been], maar hy gaan waarskynlik nie onthou nie en ons sal weer die nuus met hom moet deel,” sê sy pa.

Steyn word nog geleidelik van die verdowing gespeen. “Dit is ʼn lang proses. Ons wil almal hê hy moet al regop sit, maar dit werk nie so nie.”

Volgens Jacques verminder hospitaalpersoneel sy verdowing elke uur. As alles goed gaan, sal hy na verwagting teen vanaand heeltemal wakker wees. Hy sal wel nog aan die ventilator gekoppel wees totdat hy op sy eie kan asemhaal wat na verwagting eers Maandag sal wees.

Steyn Steenberg (Foto: Verskaf)

“ʼn Ou het maar gemengde gevoelens. Ons wil hom wakker en by ons hê, maar dan moet jy vir hom van sy been vertel. Vir nou is ons meer opgewonde as wat ons opsien daarteen,” erken hy.

Maroela Media het vroeër berig Steyn het op Moedersdag ʼn draai met sy motorfiets gaan ry toe hy sowat ʼn kilometer van sy ouerhuis vermoedelik teen ʼn staalversperring gebots het. Al drie sy hoofslagare in die been is tydens die ongeluk afgesny. Sy beserings was van só ʼn aard dat dokters tussen sy lewe en sy been moes kies, en sy been is gevolglik geamputeer.

Dokters het ná die ongeluk aan die Steenbergs gesê as dit nie vir Steyn se jong ouderdom was nie, sou hy nie die ongeluk oorleef het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sani ·

Eerste berig het gese n motorfietsongeluk , Sterkte Steyn word gou beter .

Anja van der Merwe ·

Dagsê Sani

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Dit is inderdaag ‘n motorfietsongeluk. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

Gesiggie ·

Dit moet bitter swaar wees vir die ouers… sterkte en met die genade van Bo sal jul als kan oorwin,mag Steyn gou beter word.

Jaco ·

Die arme seun en sy gesin. ‘n Mens se hart breek vir hulle, Ek kan my maar net indink hoe erg dit kan wees. Hulle is in ons gedagtes en ons wens hulle alle voorspoed toe. Mag dit gou beter gaan.

Helena. ·

Ek glo dit sal makliker gaan om hom voor te berei terwyl hy nog in n koma is. Hy verstaan en hoor as daar met hom gepraat word..dis baie moeilik maar ek wil glo dit gaan minder van n skok wees as hy geheel en al uit die koma is. Ek voel nogtans baie jammer vir die ouers en die mooi seun. God gee krag na kruis..wees net sterk en glo.

Monice ·

My dogter was saam met Steyn in dieselfde Laerskool en nou in dieselfde Hoërskool. En dis wonderlik hoe die kinders bid en tekens soos plakkers met Steyn se naam op en wit strikkies dra om te laat weet dat hulle aan hom dink. Aan Steyn en sy ouers dra ons almal julle op aan God.

LIEZL ·

Ek sou dieselfde sê om met hom te praat terwyl hy nog onder verdowing is. Hy weet nie van sy been nie, maar hy weet ook nie dat hy dit oorleef het nie. So wanneer hy sy oë oopmaak sal hy beslis dankbaar wees dat hy nog leef! Glo ek, sterkte vir julle! Hy gaan sterker hier uitkom

LINDA ·

Ek sal ook my kind stadig voorberei soos hy geleidelik bykom van die verdowing. Elke dag dit vir hom se en byse maar Jesus het jou laat lewe. Jy kan weer aangaan met jou lewe al is jou been nie daar nie. Sulke jong kinders aanvaar sulke nuus baie beter as wat n mens dink. JESUS sal hom in elk geval help om oor die skok te kom. Sterkte aan die ouers.

Mariaan ·

O genade nee…ek sou eers wag tot dit veilig genoeg is vir hom om so skok te verwerk…maar net my mening…sterkte vir julle

jax ·

ek bid vir jou boeta!
sterk wees, jy’s ‘n REUS
Vader asb stuur U engele en beskerm hierdie vegter!

Boerin ·

My hart breek vir jou Steyn…pragtige aktiewe seun. Onthou jy sal weer die stukke kan optel omdat JY kan!
God sal SY Hand oor julle hou! Sterkte

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.