Tienermeisie se moordenaar gevonnis

Michaela Adriaanse. Foto: SAPD

Michaela Adriaanse. Foto: SAPD

Die vonnisoplegging van Michaela Adriaanse se moordenaar begin Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof.

Adriaanse (16) se liggaam is in Maart verlede jaar in ʼn beboste gebied in Kalkbaai gevind. Bradley Noble (36) is Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof skuldig bevind vir die verkragting van en moord op Adriaanse. Waarnemende regter Yolanda Renqe het gesê Noble was nie ʼn geloofwaardige en eerlike getuie nie en sy weergawe van die gebeure op 19 Maart 2015 was “vol teenstrydighede”. Sy het gesê sy is tevrede dat die staat sy saak bo alle redelike twyfel bewys het.

Adriaanse het op 19 Maart verlede jaar saam met ʼn groep vriende die Wynberg- openbare swembad besoek, maar hulle is toegang geweier omdat dit ʼn skooldag was. Hulle is daarna na die Kalkbaai-strand waar hulle dagga gerook en whisky gedrink het. Hulle het daar vir Noble ontmoet wat homself as ʼn dwelmhandelaar van Retreat voorgestel het.

Later die dag het Adriaanse met een van haar skoolvriende baklei en van die groep af weggestorm om by ʼn groep mans van Manenberg te gaan aanluit. Sy is later terug na haar vriende toe, maar het net haar sak by hulle gekry en toe weer gegaan.

Adriaanse se vriende het gedurende die verhoor getuig Noble het gesê hy sal vir Adriaanse sê om terug te kom en hy het agter haar aan geloop. Dit was die laaste keer wat sy lewend gesien is.

Michaela Adriaanse se pa en suster in die Wes-Kaapse hooggeregshof. Foto: ANA

Michaela Adriaanse se pa en suster in die Wes-Kaapse hooggeregshof. Foto: ANA

Die tienermeisie se vriende het daarna ure lank na haar gesoek. Omstreeks 20:00 het hulle die laaste trein huis toe geneem. Hulle is na Adriaanse se ouerhuis en het vir haar ouers gesê sy is nêrens te vinde.

Die familie het dieselfde aand nog die saak by Muizenberg-polisiestasie aangemeld. Die polisie is die aand na Noble se huis, maar hy was nie tuis nie. Net na middernag het die beamptes weer na sy huis teruggekeer en hom toe tuis in die bed gevind. Noble het aanvanklik ontken dat hy by die strand was tot hy een van Adriaanse se skoolvriendinne gesien het. Hy het daarna ontken dat hy geweet het waar Adriaanse is en het die polisie gehelp om na haar te soek.

Drie dae later, op Sondag 22 Maart, is Adriaanse se liggaam in ʼn beboste gebied in Kalkbaai gevind. Sy is met ʼn groot voorwerp, vermoedelik ʼn klip, doodgeslaan.

Noble het dwarsdeur die verhoor volgehou hy is onskuldig en het aan die hof gesê Adriaanse het ingestem om seks met hom te hê. Noble het die blaam vir die moord op Trevor Benn, ʼn staatsgetuie, gepak. Hy het gesê Benn het by die toneel opgedaag en wou met Adriaanse seks gehad het, maar toe sy weier, het hy haar doodgemaak.

Die regter het egter hierdie weergawe van gebeure geweier en gesê Benn was nooit by die misdaadtoneel nie. Sy het gesê Noble het baie swak gevaar onder kruisverhoor en was nie eerlik met hof nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

tamboti ·

Waarom geen foto van moordenaar nie? Hy is nou skuldig, hy moet gestraf word – ook ontbloot en verneder word. Ek sou verkies dat hy ook gebrandmerk word as moordenaar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.