Vier tienermeisies is Dinsdagaand deur seestrome by Dappat se Gat by Kogelbaai naby Gordonsbaai meegesleur toe hulle gaan swem het.
Die meisies, almal in hulle laat tienerjare, het volgens ʼn verklaring van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in die moeilikheid beland toe hulle in die see geswem het. “Drie van die meisies kon daarin slaag om na veiligheid te swem, maar een meisie (19) het vermis geraak.”
Volgens berigte het ʼn man die see ingeswem om die meisies te probeer help, waarna hy self in die moeilikheid beland het. “Die man kon daarin slaag om na veiligheid te swem,” volgens die verklaring.
Ten spyte van ʼn uitgebreide soektog wat polisieduikers en lede van die NSRI insluit, is daar steeds geen teken van die vermiste tiener “wat die laaste keer ʼn paar honderd meter van die strand af opgemerk is nie”.
Ag dit so n jammerte…. hoop dat die Meisie gevind sal word,om berusting aan haar ouers te gee… Sterkte aan die gesin… en Jammer aan al die vriende wat so iets moes beleef..
My hart huil vir die ouers van hierdie meisie… 31.12.2015 het my dogter in die moeilikheid beland by Dappat se gat. Genade op genade het haar twee redders haar uitgebring. As dit nie vir hul was nie… Ek dank God vir my kind en die twee manne wat haar uitgebring het se lewe…
Retha
Ek het op Oujaarsdag amper daar verdrink. Dis nie n dood wat ek enige iemand sal toewens nie. Ek dank God vir Andre en Matthys wat nooit laat los het of ophou swem het nie of ek was ook n statistiek… Sterkte aan die familie.
Mense wees asb waaksaam en paraat. Te veel ongelukke.
Ons was geensins onverskillig nie. Heuphoogte in die water en een golf het my omgeslaan. Getrek tot in n gat waar ek nie kon uit nie en binne sekondes was ek in die moeilikheid. Dis n verskriklike ondervinding. Maak nie saak hoe paraat jy is of hoe goeie swemmer nie dit gebeur so vinnig soos n oogknip!