Tienermeisie sterf in botsing

Argieffoto: ER24

ʼn 16-jarige meisie is dood en drie mense beseer in ʼn botsing tussen twee voertuie Maandag in die Oos-Rand.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die twee voertuie het mekaar reg van voor op die R23 (High Road) in Benoni getref.

“Met paramedici se aankoms op die toneel is die twee voertuie aan die kant van die pad aangetref. Die liggaam van die jong meisie is ʼn paar meter ver van een van die voertuie aangetref. Drie ander mense het op die toneel rondgedwaal,” het Meiring gesê.

Paramedici het die meisie ondersoek. Sy het verskeie beserings opgedoen en geen teken van lewe getoon nie.

“Noodhulp is dadelik toegepas in ʼn poging om haar by te bring. Ondanks volgehoue pogings is sy ná ʼn geruime tyd op die toneel dood verklaar.”

Die ander drie mense is ondersoek en vir geringe tot matige beserings behandel. Hulle is na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Die oorsaak van die ongeluk is onbekend. Owerhede was op die toneel om ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Kannaland ·

Die oorsaak is altyd onbekend, ek wens die redes wil ook aan die publiek bekend gemaak word, sowel as die identiteit van die skuldige bestuurder. Skuldige bestuurders moet gestraf word. Wat het die een kar in die aankomende verkeer gedoen? Verbygevat oor wit lyn? Beheer verloor agv te hoe spoed? Ek hoop Google en Tesla vang spoed met automatiese karbestuur sodat alle menslike “foute” uitgeskakel kan word.

Vraagteken ·

Dit is mos nie eties om iemand te beskuldig voor ‘n geregtelike ondersoek afgehandel is nie?

Wat gebeur as jy iemand die skuld gee en na’ die tyd word dit bevind dat meganiese probleme die oorsaak was?

Kannaland ·

Meganiese probleme is ook mense se fout, daar is n rede waarom bande nie glad moet wees nie, waarom karre gediens moet word, en baie belangrik, waarom mense binne spoedperk moet bly vir as iets fout gaan om genoeg tyd en afstand het om mee te werk om die ongeluk te voorkom. Daar is nie iets soos ongelukke nie, dit is swak risikobestuur en oortreding van reels. Ware fratsongelukke is baie raar.

Anoniem ·

As ‘n voertuig padwaardig is, behoort ‘n ongeluk nie deur meganiese probleme veroorsaak te word nie.

Corical ·

Hulle weet dalk nog nie eers wat gebeur het nie, moet hulle nou sommer net hul eie gevolgtrekkings maak, sodat jy hulle weer kan sleg sê as hulle iets verkeerd gekry het ? Hou op so nuuskierig wees, goeie genade.

Anoniem ·

As jy High Road ken en weet hoe die mense daar ry, sal jy verstaan. Moenie so gou vuur spuug nie.

Vraagteken ·

Corical, ek stem 100% met jou. Die kommentaar van sekere mense is kinderlik.

Estie ·

Ja-nee, Kannaland, wat as die ander voertuig se wiel moontlik gebars het? Jy weet nie wat die oorsaak was nie? En wat gaan jy doen met al die “skuldiges” se name – raam en in jou voorkamer hang? Gaan dit die oorledenes almal terugbring? Jou kommentaar is ongevraag. Ek hoop van harte jy is nie eendag een van die “skuldiges” nie.

Saamstem ·

Estie, ek sien op n daaglikse basis mense wat vernietig is, dood of ernstig beseer, as gevolg van totaal nalatigheid van padgebruikers, wetstoepassers wat skoonveld is en politici wat flenters omgee vir wet en orde. Kanaland se opmerking is gevraagd, en as meer mense ag slaan sal ons nie al hierdie ellende op ons paaie en in ons land ervaar nie.

Vraagteken ·

Saamstem, verduidelik gou vir my die volgende; hoe sal die bekendmaking (wanneer daar nog nie eers ‘n ondersoek ingestel is nie) van die identiteit wie skuldig is onhafhanlike partye se bestuurgewoontes beinvloed?

linda ·

Baie bestuurders beskou dit hulle plig om nie in hulle bane te hou nie, ry oor die wit streep, die dat daar so baie kop aan kop botsings is – ek sien elke dag hoe mense veral om n draai oor die wit streep ry

Mensdom ·

Terwyl julle meer belangstel in wie se skuld dit is of wat gebeur het sit daar ouers en treur oor die dood van ‘n kind.

Mense waarom het ons so selfgesentreerd geraak en ophou omgee oor ons mede mens?

JSG ·

Dis tragies, ja, maar meer tragies indien mense sterf agv nalatigheid. Het in my polisie tyd gesien dat omtrent alle kop aan kop botsings agv nalatigheid was.
Simpatie aan die ouers vir die verlies van ‘n kind.

Kannaland ·

Presies JSG, jy het ervaring en weet ook dat meeste kop aan kop botsings se oorsaak neerkom op nalatigheid. Ons moet ophou polities korrek wees, die meisie is onskuldig dood soos soveel ander mense op ons paaie as gevolg van padvarke en ander wat niks omgee vir wetstoepassing nie. Ons paaie is n slagveld in vergelyking met beskaafde lande waar padrisiko BAIE laer is.

Lee ·

Baie baie sterkte aan die ouers van die 16 jarige meisie wat haar lewe verloor het. Rus in Vrede meisiekind. Mag God sy arms styf om die familie hou. Dis die seerste seer om ‘n kind te verloor. xx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.