ʼn Tienermeisie is dood toe die motor waarin sy ʼn passasier was Vrydagmiddag in Mpumalanga omgeslaan en gerol het.
Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, het gesê die enkelvoertuigongeluk het omstreeks 17:30 op die R35-pad tussen Bethal en Middelburg plaasgevind.
“By paramedici se aankoms op die toneel het hulle die meisie, vermoedelik 14 jaar oud, op die grond aangetref. Sy is op die toneel dood verklaar,” het Van Huyssteen gesê.
Een van motor se insittendes het op die toneel rondgeloop met geringe beserings. Die ander drie insittendes is deur paramedici van die provinsiale nooddienste behandel. Hulle het ook geringe beserings opgedoen.
“Die vier pasiënte is met ambulanse na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir mediese behandeling,” het sy bygevoeg.
Die oorsaak van die ongeluk word deur die owerhede ondersoek.