Tieners aangekla ná 14 kangaroes se gru-dood

Hope, die kangaroetjie wat die aanval oorleef het. (Foto: WIRES/Facebook)

Twee Australiese tienerseuns is Dinsdag van die roekelose mishandeling en doodmaak van ’n dier aangekla nadat 14 kangaroes, waaronder twee klein kangaroetjies, oor die naweek aan Australië se Ooskus dood gevind is.

Die diere is oënskynlik wreedaardig doodgemaak met slegs een kangaroetjie wat die aanval oorleef het. ʼn Polisiewoordvoerder het aan die BBC gesê die diere is vermoedelik deur ʼn motor getref.

Die twee 17-jarige seuns is in hegtenis geneem nadat plaaslike inwoners Saterdagoggend op 14 dooie oostelike grys kangaroes naby Batemansbaai, sowat 280 km suid van Sydney, afgekom het.

Die diere is volgens die polisie in twee afsonderlike gebiede naby die strand aangetref.

ʼn Lid van die publiek het op een oorlewende kangaroetjie afgekom. Die diertjie is intussen Hope gedoop.

“Dit gaan verbasend goed met haar,” het Janelle Renes, voorsitter van die wildreddingsorganisasie Mid South Coast WIRES, intussen aan die nasionale uitsaaier ABC gesê.

“Toe sy hier aankom was sy redelik leweloos. Dit het ongeveer twee uur geneem om haar weer warm te kry en om werklik tekens te sien dat sy gaan oorleef.”

WIRES het die aanval veroordeel.

“Dit is ʼn tragiese en sinnelose daad wat ʼn onuitwisbare merk op ons toegewyde vrywilligers wat op die toneel gereageer het, sowel as die plaaslike inwoners, gelaat het,” het WIRES op Facebook geskryf.

Die seuns sal na verwagting op 22 November in Australië se kinderhof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

AW ·

Kan maar net probeer dink watse verskonings daardie twee sal hê, vir dit wat hulle gedoen het !!

Maar ons almal weet dat iewerste, in hulle lewe het iets lelik verkeerd geloop.

Sandra ·

Ek wil nie eens die artikel lees nie, want die opskrif maak my sommer woedend. Ek hoop hulle kry groot moeilikheid oor die insident.

Toy ·

Hulle moet hulle straf vat soos ‘n man. Sonde wat hulle gedoen het.

Harley Davidson ·

Australia was waartoe mense gestuur wat kriminele was vanaf Engeland so die mense wat deur die eeue daar gebly het se voorouers was ernstige misdadigers, nou wonder ek of hierdie seuns ook van daardie voorouers afstam.

Misky ·

Mag hulle die ergste moontlike straf denkbaar kry!!!! Absoluut demonies

Elinette ·

Julle weet, ek dink daar moet iets ernstig verkeerd wees met iemand wat so iets aan ‘n onskuldige dier doen. REGTIG VERKEERD. Soos in heeltemal, totaal geheel en al VERKEERD, onsosialiseerbaar en beslis nie van die kaliber persoon wat onder normale mense, in ‘n normale gemeenskap toegelaat moet word om te funksioneer nie.

Dirk Mostert ·

Dit maak my woedend dat diere goedsmoeds op ons paaie doodgery word. Vrydag omtrent 10vm op die N7 tussen van Rhynsdorp en Bitterfontein het ‘n swart kar agter my ‘n skilpad getrap. ‘n Entjie verder was ‘n valk besig om te vreet op die pad. Ek het spoed verminder en dieselfde kar agter my gedwing om ook stadiger te ry om die valk kans te gee om te vlieg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.