Tieners gooi 66-jarige glo met klippe dood

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

ʼn Inwoner van die klein Noord-Kaapse dorp Ritchie is na bewering vandeesweek deur twee tieners met klippe doodgegooi.

Die aanval het gevolg nadat hy die vermeende motordiewe betrap het wat besig was om sy motor te probeer steel.

Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die moord het Donderdag om 04:00 plaasgevind.

Daar word beweer dat die 66-jarige slagoffer die oggend twee verdagtes by sy huis op Ritchie betrap het. Hulle was glo besig om sy maroen Volkswagen Golf te steel.

“Die verdagtes het na bewering begin om die eienaar met klippe te bestook. Van die klippe het ook die slagoffer teen die kop getref,” sê Kock.

“Hy het by sy huis ingestrompel waar hy ineengestort het en op die toneel dood is.”

Die slagoffer se vrou het haar man in die huis aangetref en die polisie, asook die buurtwag, na hul huis ontbied.

Die verdagtes het egter reeds te voet van die toneel gevlug.

Volgens Kock is twee tieners, onderskeidelik 14 en 17 jaar oud, later die dag in hegtenis geneem vir hulle beweerde betrokkenheid by die moord.

“Die verdagtes is om 16:30 in Motswedimosa by Ritchie in hegtenis geneem,” sê hy.

“Die minderjariges sal eers deur ʼn voorlopige assessering met ʼn proefbeampte gaan voordat hulle in die hof verskyn.”

Die twee tieners sal na verwagting Dinsdag in die hof verskyn.

Die Modderrivier-polisie is intussen steeds besig om die moordsaak te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Misky

Absoluut skokkend en nog so jonk en reeds vrot van binne!!!!