Tieners sterk aan ná ongeluk wat ouerpaar eis

Francois en Sylvia de Vos (Foto: Facebook)

Dit gaan onder die omstandighede goed met die twee tieners wat die afgelope naweek saam met een van hulle se ouers in ʼn motorongeluk tussen Sasolburg en Heilbron in die Vrystaat betrokke was.

Jonathan de Vos en Catherine Myburgh, albei gr. 9-leerders aan die Hoërskool Marais Viljoen in Alberton aan die Oos-Rand, was vroeg Saterdagoggend saam met Jonathan se ouers, Francois en Sylvia de Vos, in ’n bakkie op die R57 toe die bestuurder beheer oor die bakkie verloor en dit teen ʼn boom gebots het.

Francois en Sylvia is op die toneel dood verklaar en die tieners is met ernstige beserings na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas. Jonathan het ernstige beserings aan sy bene opgedoen.

Elanza de Villiers, ʼn onderwyseres by die Hoërskool Marais Viljoen, het Woensdag aan Maroela Media gesê Jonathan (15) het ná die ongeluk ʼn operasie aan sy bene by ʼn hospitaal in Alberton ondergaan. “Die operasie was suksesvol en hy is vandag reeds in ʼn rolstoel,” het sy gesê.

Catherine (15) het ernstige beserings aan haar milt, gesig, oog en skouer in die ongeluk opgedoen en is na ʼn hospitaal in Bloemfontein in die Vrystaat oorgeplaas waar sy vandeesweek twee operasies aan haar gesig en arm ondergaan het. Volgens De Villiers word die besering aan haar milt vir nou gemonitor.

Martie Heystek, skoolhoof by die Hoërskool Marais Viljoen, vertel dat leerders by die skool hartseer en besorgd is oor hulle maats Jonathan en Catherine. Verskeie skoolmaats en personeel het reeds vandeesweek die tieners besoek.

Francois en Sylvia sal op 20 September vanuit die Volle Evangelie Kerk van God in Randhart, Alberton, ter ruste gelê word.

Die ongelukstoneel. (Foto: Netcare 911)

Dit is nie in die stadium duidelik of Jonathan se gesondheid hom sal toelaat om teen dán sy ouers se begrafnis by te woon nie.

Sy pleegouers sien nou na hom om, het Heystek verduidelik.

“Die Marais Viljoen-familie betuig ons opregte medelye aan Jonathan en sy familie. Ons dra die twee leerders aan die Here op en vertrou vir ʼn spoedige herstel,” het die skoolbestuur op sosiale media geskryf.

Ook die gewilde Afrikaanse rocksanger Francois van Coke het sy medelye aan Jonathan in ʼn video op Facebook betuig. Die video is op die skool se Facebookblad gedeel.

“Vir julle twee [Jonathan en Catherine], ek hoop julle word vinnig gesond. Alles van die beste daar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Die Heilbron/Sasol pad is ‘n doodspad…. oortrek met slaggate en padverbruikers wat net mooi niks voel vir mens of dier…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.