Tieners vas na aanval op plaas

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

Twee tienerseuns is in hegtenis geneem nadat hulle glo by ʼn huis op ʼn plaas naby Herbertsdale in die Wes-Kaap ingebreek het en ʼn bejaarde vrou aangeval het.

Kapt. Bernadine Steyn, woordvoerder van die polisie, het gesê die twee seuns, 17 en 18 jaar oud, het Saterdag kort na middernag by die huis ingebreek. ʼn 82 jarige vrou was alleen in die huis. “Twee verdagtes het die voordeur oopgedwing en die slagoffer met ʼn mes en ʼn skêr aangerand. Sy het snywonde aan haar hande en kop opgedoen.”

Steyn het gesê die verdagtes het met ʼn radio en drie selfone gevlug. Die bejaarde vrou is na ʼn hospitaal in Mosselbaai vervoer waar sy in ʼn stabiele toestand is.

Die 17-jarige verdagte is Saterdag op die plaas in hegtenis geneem en die gesteelde radio is in sy besit gevind. Die 18-jarige seun is Saterdagaand in Herbertsdale in hegtenis geneem. Die verdagtes sal Maandag in die Mosselbaai-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.