Tieners verdrink in Kaapstad; liggaam van nog ʼn drenkeling gevind

Milnerton-strandmeer (Foto: NSRI)

Een tiener het verdrink en ʼn ander tiener word vermis ná hulle vermoedelik in systrome beland het toe hulle by twee verskillende strande in Kaapstad geswem het.

Die liggaam van ʼn man wat verlede naweek by ʼn ander strand verdrink het, is ook intussen gevind, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) Saterdag gesê.

Stad Kaapstad se wetstoepassers by Monwabisi naby Khyelitsha is Vrydagmiddag omstreeks 17:30 deur ʼn gesin ontbied toe hul 14-jarige seun in die moeilikheid beland het by Monwabisi-strand, het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, gesê. Die tiener het in die see verdwyn. “Ondanks ʼn omvattende soektog deur verskillende spanne in die see en aan die kuslyn insluitend ʼn poging deur vyf NSRI-reddingswemmers, was daar geen teken van die tiener nie.” Die soektog duur voort.

In ʼn afsonderlike voorval is die NSRI Vrydagmiddag omstreeks 17:50 ontbied na ʼn verdrinkingsvoorval by Lagoon Beach in Milnerton. “Omstanders het ʼn 13-jarige seun uit die water gehal en met KPR-pogings begin,” het Lambinon bygevoeg. Alle pogings om hom by te bring, was egter tevergeefs. Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

“Die twee voorvalle Vrydag in Kaapstad het gebeur tydens die ebgety. Dit wil voorkom of albei die tieners in sterk systrome beland het. Hooggety was omstreeks 15:00. Die nuwe maan springgety bereik Saterdag ʼn hoogtepunt en die springgety is hoër as die gewone hooggety en die ebgety laer as gewoonlik.” Volgens Lambinon sal dié toestande nog in die komende week voortduur.

Kaapstad se mariene wetstoepassers het Vrydagoggend omstreeks 11:00 die liggaam van ʼn man by Mnandistrand, naby Mitchells Plain gevind. “Die liggaam is geïdentifiseer as die man wat verlede Sondag by Mnandi gaan swem het. Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.”

Lambinon het sy meegevoel betuig met die familielede van al drie persone.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elsabe ·

Die publiek ken nie die getye en hoe die oseane reageer daartydens nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.