Tienerselfmoord: Wanneer rooi ligte moet flikker

Argieffoto: www.planoallergydoctor.com

Argieffoto: www.planoallergydoctor.com

“Die huidige stand van tienerselfmoord is skrikwekkend. Meer as 9,5% van alle nie-natuurlike sterftes onder tieners is as gevolg van selfmoord en een uit vyf tieners is depressief. Meer moet gedoen word.”

So sê Meryl da Costa, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Depressie-en-Angsgroep (Sadag). Da Costa het gereageer op vrae rakende die hoë aantal jong mense wat die afgelope maand selfmoord gepleeg het.

Anneke Mostert, ʼn 12-jarige meisie van Johannesburg, het op 12 Julie haarself met haar pa se .38-vuurwapen doodgeskiet. Die Springbok-senter Frans Steyn se broer, Wimpie (31), het op 3 Augustus sy lewe op die familie se plaas buite Bethlehem geneem. Enkele dae daarna het ʼn derdejaar Kovsie-student, RJ Lues, homself met ʼn jaggeweer in sy motor geskiet. Dinsdag is die 14-jarige Klara Göttert se liggaam by ’n winkelsentrum in Fourways gevind nadat sy vermoedelik van die boonste vloer na haar dood gespring het.

“Tieners is beslis onder meer druk as in vorige jare,” het Da Costa gesê. “Gewoonlik werk albei die ouers en ervaar self erge stres. Boonop moet tieners kwessies soos groepsdruk, boelies, finansiële probleme by die huis, huishoudelike geweld, trauma, dwelmmisbruik en verhoudingsprobleme trotseer. Baie tieners is nie toegerus om hierdie stresfaktore te hanteer nie en voel asof hulle niemand het om mee te praat nie.”

Volgens Da Costa is depressie wat nie gediagnoseer word nie die hoofoorsaak van selfmoord en daarom is bewusmaking rondom die onderwerp van kardinale belang. “Tieners en jongmense moet weet hulle is nie alleen nie. Daar is mense wat hulle kan help en wie hulle kan vertrou.”

Da Costa het gesê dit is nie altyd moontlik om selfmoordneigings by ʼn kind te identifiseer nie, maar ouers en vriende kan op die uitkyk wees vir sekere waarskuwingstekens. Persone wat selfmoord wil pleeg sal dikwels direk of indirek daaroor praat, byvoorbeeld deur stellings te maak soos “my familie sal beter sonder my klaarkom”. Soms praat persone wat selfmoord oorweeg asof hulle afskeid neem of beplan om weg te gaan.

Inligting wat deur Sadag verskaf is, beklemtoon dat tekens van moontlike depressie of selfmoord ernstig geneem moet word. Ongeveer 75% van mense wat selfmoord pleeg gee vooraf een of ander waarskuwing van hul voornemens aan ʼn vriend of ʼn familielid.

Sadag identifiseer die volgende as die mees algemene waarskuwingstekens vir depressie onder tieners:

  • Depressiewe bui
  • Verandering in slaapgewoontes, eetlus of gewig
  • Moegheid of min energie
  • Praat of beweeg teen ʼn buitengewone stadige tempo
  • Gevoelens van waardeloosheid, selfverwyt of skuld
  • Buitengewone angstigheid, spanning of woedeuitbarstings
  • Doods- of selfmoordgedagtes
  • Gevoelens van hopeloosheid of desperaatheid
  • ʼn Geskiedenis van fisieke of emosionele siekte

Persone wat hulp nodig het of iemand ken wat hulp nodig het, kan die Sadag-noodlyn by 0800 567 567 skakel. ʼn SMS kan ook na 31393 gestuur word en ʼn berader sal jou terugbel. Besoek www.sadag.org alternatiewelik vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann Marx ·

Daar mag uitsonderlike gevalle wees…..maar die wat daaroor praat (en dreig om dit te doen) doen dit selde. Die wat nie daaroor praat nie…..is die wat dit net eenvoudig doen…en die res van die wêreld in absolute verstomming laat…

Ek was self ook daar ·

Presies Johann. My seun het GEEN van bg tekens getoon nie en tog het hy dit gedoen

Driné Ras ·

Ek voel die druk wat in die skole is op kinders is te veel en die kinders kan die emosionele druk en stres nie meer hanteer nie. Kinders kry nie meer tyd om net kind te wees nie. Ek voel die skole boelie die kinders meer as wat kinders mekaar boelie. Dit het ‘n negatiewe impak op die kinders wat lei tot depressie ens. Daar word verwag dat kinders op Rittalin en nog meer…gesit moet word wat lei tot slapeloosheid en depressie. Ek voel daar moet meer klem gele word op skool sisteme (standaard van skool)wat kinders boelie en’n onsersoek moet gedoen word oor die sogenaamde standaard by skole ivm tienerselfmooorde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.