Tienerseun ‘kritiek’ ná geweerskoot in gesig

Argieffoto

ʼn 15-jarige seun is in ʼn kritieke toestand nadat hy Maandagmiddag tydens ʼn vermoedelike fratsongeluk by sy ouerhuis met ʼn swaarkalibergeweer in die gesig geskiet is.

Die seun is ʼn gr. 10-leerder aan die Hoërskool Upington.

Kapt. Jacques September, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 15:00 in Robinsonstraat in Upington plaasgevind.

“Die polisie ondersoek nie in die stadium enige aanklagte nie. Ons ondersoek net die omstandighede rondom die voorval,” het hy gesê.

Volgens September was die seun vermoedelik alleen by die huis ten tyde van die voorval en het ʼn familielid op hom afgekom. Die tiener is onmiddellik na die Mediclinic Upington gehaas.

“Sover ek weet is sy toestand steeds kritiek. Hy is [Maandagaand] na ʼn hospitaal in Bloemfontein gehaas.”

Esmarie Cronjé, woordvoerder van die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein, het aan Maroela Media gesê die seun word tans in die waakeenheid van dié hospitaal behandel. Sy toestand is volgens haar kritiek maar stabiel.

Sy het gesê die seun se ouers en familie wil nie in die stadium kommentaar oor die voorval lewer nie.

Dié voorval is die derde in die afgelope jaar waarby ʼn leerder van Hoërskool Upington betrokke is.

Maroela Media het vroeër berig Brandon Roux (18) is in Julie 2017 dood aangetref in ʼn bad water in ʼn werkershuis op ʼn soutpan naby Askham in die Noord-Kaap. September het destyds aan Maroela Media gesê sy liggaam is deur ʼn gesinsvriend gevind.

Maverick Links (14) is ook in Augustus 2017 dood toe hy en ʼn maat met die maat se pa se dienspistool gespeel en daar ʼn skoot afgevuur is.

ʼn Woordvoerder van die skool was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gesiggie ·

So jammer dat sulke dinge moet gebeur…” aan die seun, mag jy gou herstel, en mag als net 100% wees vir jou…. Fratsongelukke gebeur, maar partykeer so onnodig”’

Blommie ·

SA kan gerus by NEW Zealand gaan kers opsteek wat skool, huiswerk ens aanbetref. Daai kinders weet nie wat huiswerk en skool druk is nie.

Piet ·

Die kind hoef mos nie Shelock Homes te wees om te sien waar sy ouers die sleutel wegsteek nie.

Matrys ·

Ek hoop van harte die kind herstel vinning en ten volle. Maar op ‘n punt van orde, daar bestaan eenvoudig nie ‘n ding soos ‘n “fratsongeluk” as iemand geskiet word nie. Dis of doelbewus of dis nalatigheid – geen geweer het nog ooit homself geskiet nie, ‘n mens het hom maak skiet. Ons lees soos klokslag elke 3 maande van ‘n voorkombare skietongeluk – veral met jaggewere – en ons moet ophou om eufemismes te wil gebruik. Die woord is nalatigheid!

Boerseun ·

N soortgelyke voorval het jare terug gebeur in upington,maar die kind het probeer selfmoord pleeg.

Verbaas ·

Matrys ek stem 100% saam. Ek en my man het ‘n hele paar gewere. Leer jou kinders wapen veiligheid. Hulle gaan saam Jagtersvereniging toe, skiet saam en leer saam oor die veiligheid van wapens. Die van julle wat aan ‘n vereniging behoort sal weet waarvan ek praat. Indien jou kinders dit onder die knieg het mag hulle verseker weet waar die kluis se sleutel is vir indien daar ‘n geval is waar hulle hulself moet beskerm wanneer die ouers nie in staat is nie.

Blommie ·

Hoekom is kritiek in aanhalingstekens ? Dit skep ‘n wanindruk oor die erns van die situasie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.