Tienerseun sterf ná jaagtog agter kapers aan

Stoffel van Tonder. Foto: Verskaf

Stoffel van Tonder. Foto: Verskaf

Stoffel van Tonder (17) is Donderdagaand in die hospitaal oorlede nadat hy en sy broer verlede week in ʼn ongeluk betrokke was terwyl hulle ʼn vermoedelik gekaapte motor agternagesit het.

Hannes Venter, voorsitter van die Akasia Inwonersforum, het aan Maroela Media gesê ʼn blou VW Polo is verlede Woensdagaand in Clarina in Pretoria-Noord gekaap. “Die eienaar van die Polo het pas by die huis gekom toe vier gewapende mans in ʼn swart Golf GTI agter hom stilgehou het. Die kapers het sy kinders uit die motor gehaal voordat hulle met die Polo weggejaag het.”

Volgens Venter is die slagoffer ʼn lid van die forum en het hy onmiddellik alarm gemaak. Stoffel en sy broer, Marius (28), wat as vrywilligers by die forum betrokke was, het van die kaping verneem en begin patrollie ry op soek na die gekaapte voertuig.

Venter het gesê die broers was op die Hornsnek-pad, noordwes van Pretoria, toe ʼn blou Polo verby hulle gery het. Marius het ʼn U-draai met sy motor gemaak en die Polo agternagesit. Volgens Venter het die broers agter die Polo aangery om die nommerplaat in die oog te probeer kry en sodoende vas te stel of dit die motor was wat gekaap is.

Venter het gesê Marius het ʼn taxi en nog ʼn motor probeer verbysteek toe hy glo beheer oor die motor verloor het. “Die motor het gerol. Marius het sy sleutelbeen gebreek terwyl Stoffel nek- en kopbeserings opgedoen het. Marius is die volgende dag uit die hospitaal ontslaan. Stoffel het Donderdagaand [gisteraand] aan sy beserings beswyk.” Die ongeluk het glo kort ná 21:00 plaasgevind.

Volgens Venter is die kapers nog nie vasgetrek nie. Stoffel word oorleef deur sy ouers en drie broers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Debs ·

ai mense my hart gaan uit na die familie.
en WEEREENS skollies betrokke mense mense mense …..

Peet Schabort ·

Wat ‘n ongelukkige sameloop van omstandighede terwyl jy die rampokker probeer hokslaan. Sterkte aan die betrokkenes.
Graag sou ek wou hoor by ‘n kundige in hoeverre polisse en assuransie van lewens en voertuie beïnvloed word deur ongelukke van hierdie aard d.w.s. buurtwag en soortgelyke aksies deur die deelname van privaat individue.

Theodeen ·

Ai so hartseer om te weet hy moes op so wyse sterf. Hy verloor sy lewe en die krimineel gaan aan met syne…Wonder hoeveel mense hy nog so gaan laat sterf? Sterkte aan sy pa oom Sarel. Ons dink aan julle.

George ·

My innige simpatie em meegevoel aan die familie. Dit is hartseer om iemand op so ‘n manier te verloor. As dit troos sal bring moet hy onthou word vir sy bydrae om hierdie land ‘n beter plek te maak. Jong manne ek salueer julle toewyding.

magda ·

Peet se vraag na versekering in sulke omstandighede. Ek was ‘n Polisie Reservis vir 10 jaar gewees en jy moet jou eie lewens versekering uit neem of jou huidige lewens versekering aan pas wat dit ook dek. Wat ek nie kan verstaan nie, hy was nie veronderstel om sy minderjarige broer by hom in die voertuig te he nie.

Liza Jacobs ·

Aan al die mense wat wonder hoekom hy in die kar was … Ja Hy was dalk miderjaarig maar hy het sy patrollie opleiding en hy is n lid van die sektor . Hy sou elke dag sy lewe gee om seker te maak ander mense is veilig . Hy was die braafste ou wat ek geken het . Aan sy geliefde familie baie sterkte !! Ons het julle vreeslik baie lief !

laurika ·

Aan liewe Stoffel
jy was altyd die liefste kind al
ons hart gaan uit na tannie myra en oom sarel en die tweeling en boetie jaco
ons hoop die here dra julle in die tyd
bid vir julle
rus in vrede stoffel

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.