Tienerseun verdrink: Geen sleutels vir rubberboot

Foto: NSRI

Foto: NSRI

ʼn 18-jarige man het verdrink in die Strand in Kaapstad terwyl wetstoepassers nie die sleutels vir ʼn rubberboot kon kry nie en hul tweerigtingradio op die strand gelos het, het Beeld Woensdag berig.

Vernon Naudé (18) het Vrydag in die see verdrink terwyl ʼn helikopter en vrywilligers van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) tevergeefs na hom gesoek het.

Die rubberboot het glo eers sowat 40 minute later die see ingejaag aangesien die sleutels by ʼn beampte se huis was, het ʼn polisievrou wat van diens af was aan Beeld gesê. Sy het gevra om anoniem te bly.

Toe die rubberboot uiteindelik in die water was het beamptes besef hulle het die tweerigtingradio op die strand gelos. Die boot het glo verskeie kere verby Naudé, wat die omstanders en die wetstoepassers vanaf die strand kon sien, gery.

Naudé se liggaam is die volgende oggend deur twee branderplankryers in die water gevind. Volgens die polisievrou het ʼn seuntjie aanvanklik ʼn lewensredder ingelig dat daar iemand in die moeilikheid is. Die lewensredder het glo “nonchalant” na die see gestap en later teruggekeer.

Richard Bosman, uitvoerende direkteur vir veiligheid en sekuriteit van die Stad Kaapstad, het aan Beeld gesê daar was volgens die operateur tegniese probleme met die boot se enjin. Hy het gesê die voorval word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ijani ·

Ja… tegnies kan die enjin nie aangeskakel word sonder die sleutel nie. Pateties!

Babs ·

“Volgens die operateur tegniese probleme met die boot se enjin”. Die probleem was die sleutel wat by iemand se huis was en die tweerigting radio wat op die strand bly lê het. Raak ontslae van die beamptes en die lewensredder.

Annemarie ·

Dis so ‘n skande! Hoe kyk mens daai ouers in die oë? Hierdie mense moet summier “gefire” word!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.