Tienerseun verdrink tydens visvanguitstappie

Foto: NSRI

Foto: NSRI

ʼn 18-jarige seun het vroeg Saterdagoggend verdrink toe hy en vriende met pylgewere vis gejag het.

Justin Erasmus, adjunkstasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Port Elizabeth-stasie, het gesê die groep vriende het by die Thunderbolt-rif naby Kaap Recife in Port Elizabeth in die Oos-Kaap visgevang.

Volgens Erasmus was daar heelwat ander vissermanne op die toneel. Twee ervare vissermanne het alarm gemaak toe die seun nie weer na die oppervlak teruggekeer het nie. “Met ons aankoms op die toneel was talle vissermanne en skubaduikers reeds besig om na die seun te soek.”

Erasmus het gesê verskeie vaartuie, ʼn helikopter en polisieduikers was ook op die toneel en ʼn uitgebreide lug-, see- en strandsoektog is gedoen. “Die seun se liggaam is kort hierna gevind en deur twee vissermanne na die oppervlak gebring. Sy liggaam is op ons seereddingsvaartuig gelaai en die seun is op die toneel dood verklaar.”

Volgens Erasmus is die seun se liggaam na die Noordhoek Skiboot-klub geneem waar die polisie en forensiese patologiedienste reeds gewag het.

Die familie van die seun word deur die polisie se traumaberaders ondersteun. Die polisie ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

WitBlits ·

Baie tragies en my innige simpatie aan die ouers en naasbestaandes om ‘n jongman in die fleur van sy lewe te verloor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.