Tienerseun vermis aan KZN-kus

Reddingsbeamptes soek Dinsdagoggend met onder meer vier branderski’s na die vermiste tienerseun. Foto: IPSS Medical Rescue

Die soektog na ʼn vermiste tienerseun aan die noordkus van KwaZulu-Natal is Dinsdagoggend kort ná sonop hervat.

Paul Herbst, woordvoerder van IPSS Medical Rescue, sê die 16-jarige seun het Maandag omstreeks 17:00 in die see by Blythedale-strand geswem toe hy blykbaar in die moeilikheid beland het.

ʼn Polisiebeampte wat van diens af was, het gesien hoe die leerder van die woonbuurt Gledhow by Stanger, sowat 5 km van die kus af, see-in getrek word, sê Herbst. Die beampte het IPSS sowel as die plaaslike brand-en-reddingsdiens in kennis gestel.

IPSS se waterreddingsafdeling en lewensredders van die KwaDukuza-munisipaliteit het Blythedale toe gekom en met ʼn uitgebreide soektog begin.

Teen sononder, nouliks ʼn uur nadat die soektog begin het, moes dit weens swak lig afgelas word. Vroeg vanoggend het reddingswerkers weer begin soek, het Herbst vanoggend by navraag bevestig.

IPSS Medical Rescue word bygestaan deur die plaaslike owerheid se brand-en-reddingsafdeling. Foto: IPSS Medical Rescue

Beamptes het die strand afgesper en waarskuwingsvlae vertoon. Hulle vra dat lede van die publiek die afgesperde gebied vermy.

Vanoggend word gesoek met IPSS se vier vaartuie ter see, enkele voertuie op land en ʼn boot van die plaaslike owerheid. Herbst sê ʼn hommeltuig word ook ingespan om met die soektog van Blythedale af noord- sowel as suidwaarts te help.

Blythedale-strand was in Junie verlede jaar in die nuus toe die polisie ʼn gedeelte van die strand opgegrawe het op soek na die oorskot van twee slagoffers van die pedofiel Gert van Rooyen.

Die soektog was die gevolg van ʼn meer as jaar lange ondersoek deur die SAUK-aktualiteitsprogram Fokus, maar het niks opgelewer nie, het Maroela Media destyds berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stuiwer ·

Ek kan my nie indink hoe die ma moet voel nie. Dis verskriklik. Ek hoop hulle kry hom lewendig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.