Die soektog na ʼn vermiste tienerseun aan die noordkus van KwaZulu-Natal is Dinsdagoggend kort ná sonop hervat.
Paul Herbst, woordvoerder van IPSS Medical Rescue, sê die 16-jarige seun het Maandag omstreeks 17:00 in die see by Blythedale-strand geswem toe hy blykbaar in die moeilikheid beland het.
ʼn Polisiebeampte wat van diens af was, het gesien hoe die leerder van die woonbuurt Gledhow by Stanger, sowat 5 km van die kus af, see-in getrek word, sê Herbst. Die beampte het IPSS sowel as die plaaslike brand-en-reddingsdiens in kennis gestel.
IPSS se waterreddingsafdeling en lewensredders van die KwaDukuza-munisipaliteit het Blythedale toe gekom en met ʼn uitgebreide soektog begin.
Teen sononder, nouliks ʼn uur nadat die soektog begin het, moes dit weens swak lig afgelas word. Vroeg vanoggend het reddingswerkers weer begin soek, het Herbst vanoggend by navraag bevestig.
Beamptes het die strand afgesper en waarskuwingsvlae vertoon. Hulle vra dat lede van die publiek die afgesperde gebied vermy.
Vanoggend word gesoek met IPSS se vier vaartuie ter see, enkele voertuie op land en ʼn boot van die plaaslike owerheid. Herbst sê ʼn hommeltuig word ook ingespan om met die soektog van Blythedale af noord- sowel as suidwaarts te help.
Blythedale-strand was in Junie verlede jaar in die nuus toe die polisie ʼn gedeelte van die strand opgegrawe het op soek na die oorskot van twee slagoffers van die pedofiel Gert van Rooyen.
Die soektog was die gevolg van ʼn meer as jaar lange ondersoek deur die SAUK-aktualiteitsprogram Fokus, maar het niks opgelewer nie, het Maroela Media destyds berig.
Ek kan my nie indink hoe die ma moet voel nie. Dis verskriklik. Ek hoop hulle kry hom lewendig.