Tienerseun vermis in see; vrou gered

(Argieffoto)

ʼn Tienerseun word sedert Sondagmiddag in die see in die Strandfontein-gebied in Valsbaai naby Kaapstad vermis terwyl ʼn vrou kort daarna amper in dieselfde area verdrink het.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê lede van die NSRI Strandfontein is om 13:22 ontbied ná berigte van ʼn moontlike verdrinking by Fisherman’s Walk.

Twee vaartuie, NSRI-reddingswemmers, lewensredders, lede van die provinsiale nooddienste en die duikeenheid is na die toneel ontbied.

“By ons aankoms op die toneel is daar onmiddellik begin met ʼn soektog na ʼn 15-jarige seun van Belhar wat glo onder die water verdwyn het terwyl hy geswem het.”

Volgens Lambinon is daar ná ʼn uitgebreide see- en lugsoektog nog geen teken van die tienerseun nie. Polisieduikers gaan voort met die soektog. “Ons gedagtes is met die vermiste tiener se familie in dié tyd.”

Die NSRI is kort hierna, omstreeks 14:30, weer na die Strandfontein-area ontbied nadat ʼn vrou in die see by die Sonwabe-strand in die moeilikheid beland het.

“By ons aankoms was die vrou reeds deur ʼn omstander uit die water gehaal. Paramedici het haar begin behandel en sy is in ʼn stabiele toestand na ʼn nabygeleë hospitaal geneem,” het Lambinon gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cora Simpson ·

Verstaan nie. Die vrou het verdrink, maar is stabiel?

Kandas ·

Cora Simpson, die vrou het àmper verdrink in dieselfde area.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.