Tienerseuns se heldedaad red Jhb-vrou

Kyle Lax (links) en Nathan Austin (middel) saam met brig. Morgan Govender. Foto: Verskaf

Kyle Lax (links) en Nathan Austin (middel) saam met brig. Morgan Govender. Foto: Verskaf

Twee plaaslike tienerseuns van Port Alfred in die Oos-Kaap het Woensdag tot die redding van ʼn 40-jarige vrou van Johannesburg gekom toe hulle haar van verdrinking gered het.

Kapt. Mali Govender, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê brig. Morgan Govender, bevelvoerder van die Port Alfred-kluster, was besig om die strand te patrolleer toe die vrou se  seun hom genader het.

“Die kind het aan hom gesê sy ma is besig om te verdrink en het hom gesmeek om sy ma te red,” het Govender gesê.

Brig. Govender het dadelik alle nooddienste, waaronder die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), ontbied.

Twee tienerseuns, Kyle Lax en Nathan Austin, albei leerlinge aan die Hoërskool Port Alfred waar Nathan volgende jaar hoofseun is, was in die omgewing en het toestemming gevra of hulle kan help.

Hulle het met ’n lyfplank en reddingsboei tot by vrou geswem waarop sy kon dryf totdat bemanning van die NSRI by die toneel aangekom het.

Volgens Juan Pretorius, bevelvoerder van die NSRI in Port Alfred, het die bemanning omstreeks 14:00 op die noodoproep by West Beach reageer.

“Hulle was sowat 300 m in die water van die strand waar ʼn NSRI-vaartuig hulle gekry het. Ons het die vrou, wat in ’n kritieke toestand was en simptome van byna-verdrinking getoon het, aan boord geneem en na die marina geneem vanwaar sy met ʼn ambulans na ʼn hospitaal geneem is. Die vaartuig is toe terug om die seuns na die land te bring,” het Pretorius gesê.

Govender het gesê die vrou is in die plaaslike hospitaal gestabiliseer en later na ʼn hospitaal in Port Elizabeth oorgeplaas, waar sy tans behandeling ontvang. Haar toestand is kritiek, maar stabiel.

Brig. Govender het die seuns vir hul heldedaad bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

al ·

Trots op die 2 helde wat SA oplewer! Mag jul jongmanne geseen wees.

Trots ·

Skitterend! Julle maak ons trots ek wil slvei julle seuns se ouers geluk wens julle is goed groot gemaak!

Pieter ·

Dis goed om te weet daar is nog sulke uitmintende tiener seuns hier. Ons meer sulke tipe seuns is die land nodig. Goed gedaan.

Hendrik ·

dankie julle twee manne. daar is nog mense soos julle vir wie n ander se lewe belangriker is as jou eie. DIT!! laat my hart sommer klein van trots al ken ek julle nie.

Bokkie ·

Mense onderskat die see.Dit is nie swembad nie.Dankie vir die 2 jongmanne hierbo wat so vinnig opgetree het.

Koos1 ·

Om jou eie lewe in gevaar te stel, om ‘n vreemdeling s’n te red, vat BAIE moed.
Dan aan julle twee, strekte ook met volgende jaar se studies. Nathan, jy is beslis die Hoofseun titel waardig. Ook aan julle ouers, dankie, julle het twee helde grootgemaak en mag beslis trots wees ok hulle!!!

Chris ·

Pragtig manne! Jul ouers en die gemeenskap kan trots wees op julle heldedaad!

vonnie ·

Indien ons meer sulke optrede kry, by alle rasse teenoor alle rasse, kan ons nog van die land die droom land maak wat dit kan wees. Welgedaan seuns, julle gee n man hoop vir die toekoms.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.