Twee 14-jarige seuns was Dinsdagmiddag steeds soek nadat hulle by Heroldsbaai in die Suid-Kaap deur golwe van die rotse afgeslaan is.
Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê die seuns het op die rotse visgevang toe die voorval gebeur het.
Die seuns, onderskeidelik van George en Kimberley, is saam met ʼn 29-jarige familielid van die rotse afgeslaan. Die man kon daarin slaag om na veiligheid te swem en hulp te ontbied.
“Ons het reddingswemmers op die toneel ontplooi en ʼn reddingsboot is die see ingestuur,” het Lambinon gesê. “Skymed se reddingshelikopter, beamptes van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, George se nooddiensbeamptes, die polisiediens en munisipale lewensredders neem almal tans aan die soektog deel.”
Volgens Lambinon is daar steeds geen teken van die vermistes nie. “Die polisie se duikspan gaan voort om onverpoos na die twee tieners te soek.”
Dankie vir eerlike nuus dekking