Tienerwetenskaplikes oorsee met baanbrekerswerk

Miné Steenkamp (Foto: Facebook)

Twee jong wetenskaplikes sal volgende maand hul navorsing by ’n internasionale wetenskap-ekspo in Taiwan ten toon stel, nadat dié slimkoppe beoordelaars tydens Eskom se jaarlikse Ekspo vir Jong Wetenskaplikes beïndruk het.

Farida Cajee (18) van Hoërskool Schweizer-Reneke in Noordwes en Miné Steenkamp (16) van Hoërskool Douglas in Kimberley in die Noord-Kaap sal Suid-Afrika vroeg Februarie by die 2020- Taiwan International Science Fair verteenwoordig.

“Dié tieners het beoordelaars betower met hul vernuf, diepte van kennis en die bemeestering van ondersoekmetodologie,” sê JeVanne Gibbs, woordvoerder van die Ekspo vir Jong Wetenskaplikes.

Luidens ’n verklaring wil Cajee deur haar navorsing ’n manier vind om mense met amputasies derduisende rande op prostetika te bespaar. Cajee het ’n breinbeheerde 3D-gedrukte prostetiese hand ontwerp wat daarop gemik is om ’n meer bekostigbare prostetiese alternatief te wees.

Dié projek behels ’n kopstuk wat breingolwe meet, saam met ’n prostetiese hand van herwinde materiaal wat met behulp van ’n mens se gedagtes kan beweeg.

Farida Cajee (Foto: Facebook)

Die projek waarmee Steenkamp na Taiwan reis, wil help om misdaad te bekamp en is geïnspireer deur ’n moord in haar familie.

Sy ondersoek die gebruik van Artemisinin, gekombineer met Luminol, om getuienis meer doeltreffend op misdaadtonele uit te wys. Die gebruik van ’n slimfoon as die naspoorder moet ook meer akkurate ontledings op die toneel bied.

Steenkamp se navorsing het die prys vir Eskom se mees innoverende projek losgeslaan.

“Terwyl ons met vanjaar se wetenskap-ekspo in Taiwan begin, is dit bewonderenswaardig dat ons juis twee meisies het wat Suid-Afrika as leerders verteenwoordig en ook meer meisies kan aanmoedig om wetenskaplike studies en loopbane te verken,” sê Parthy Chetty, uitvoerende direkteur van die Eskom-ekspo.

Die Taiwan International Science Fair vind van 3 tot 7 Februarie in Taipei plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Capie ·

Baie geluk aan die twee meisies. Julle is ‘n voorbeeld aan ander, maar dit is selde dat ander in die land ‘n goeie voorbeeld navolg

Julie Jansen van Rensburg ·

PRAGTIG!!! Dit is’n riem onder diehart om te lees(en sien) dat daar sulke pragtige jeugdiges is wat ‘n sukses van hulle lewens wil maak. Ek wens hulle alle voorspoed toe, want as hulle so aanhou, wag daar’n baie blink toekoms op hulle!!!

Julie Jansen van Rensburg ·

PRAGTIG!!! Doe so voort, jong mense – julle is ‘n voorbeeld vir ander, en ek voorspel ‘n blink toekoms lê nog vir julle voor. Baie geluk en seënwense !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.