Tienling wel gebore, ‘maar regering smeer toe’

Die 37-jarige Gosiame Thamara Sithole van Tembisa. Langs haar sit haar man, Tobogo Tsosetsi. (Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency/IOL)

Lees ook ander instellings se jongste reaksie op die bewerings hier

Die tienling wat glo in Junie vanjaar in Tembisa gebore is, is nou kwansuis die moontlike slagoffers van ’n mensehandelsindikaat in Gauteng.

Dít was van die vele bevindings wat Woensdag ná afloop van ʼn maande lange “onafhanklike ondersoek” deur dr. Iqbal Survé, uitvoerende hoof van Independent Media, tydens ’n nuuskonferensie bekendgemaak is. Independent Media besit Pretoria News, wat aanvanklik die storie van die tienling gebreek en later vir skenkings gevra het.

Die onthullings bevat vele skokkende kinkels wat die hele gebeurtenis sowaar na ʼn Hollywood-rolprent laat klink – maar die groep hou egter vol dat hy alle bewerings kan en binnekort sal bewys.

Maroela Media het vroeër berig dat die geboorte van die sogenaamde “Tembisa 10” uit verskeie oorde, onder andere deur die regering, as fopnuus bestempel is. Dit nadat nie ʼn enkele foto van die babas opgespoor kon word en niemand hulle skynbaar met ʼn oog gesien het nie. Foto’s van ʼn oënskynlike hoogswanger Gosiame Thamara Sithole (37) het wel op die voorblad gepryk.

Die mediagroep sê nou die hele insident vorm glo deel van ʼn reusetoesmeerdery wat handuitgeruk het toe die storie oor die geboorte oorspronklik deur die Pretoria News gepubliseer is.

Volgens Survé is die 10 babas beslis gebore, maar kan die vraag oor wat uiteindelik van hulle geword het, slegs deur die regering beantwoord word.

Die verslag impliseer onder andere hooggeplaastes in die regering, mediese personeel, polisiebeamptes, sakepersone en maatskaplike werkers en beskuldig die partye van toesmeerdery wat met mediese nalatigheid en mensehandel verband hou.

Luidens die verslag is Independent Media glo by verskeie geleenthede deur onder andere die regering gedreig indien hulle met beriggewing oor die tienling sou voortgaan.

Survé sê meer “skokkende onthullings” met stawende bewyse, name van betrokke persone en hospitale, onderhoude en opnames sal oor die volgende paar weke in ʼn videoreeks van 10 episodes bekendgestel word.

Die geboorte

Die leidende dokter wat Sithole regdeur haar swangerskap behandel het, is glo ʼn Nigeriese man wat onder twee name praktiseer – onder meer by die Sunninghill private hospitaal in Johannesburg, waar Sithole glo vele besoeke afgelê het.

Die mediagroep beweer die tienling, waarvan twee glo kort ná geboorte dood is, is deur middel van ʼn keisersnee by ʼn private hospitaal in Tembisa gebore nadat Sithole ʼn induksie by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria ontvang het. Die oorblywende agt babas het daarna glo spoorloos verdwyn.

Verder het die onafhanklike ondersoek bevind dat Sithole se selfoonsein glo tussen 18:00 en middernag op die aand van die geboorte verdwyn het, en dat die babas waarskynlik in hierdie tydperk elders heen vervoer is.

Sithole was ondanks beloftes deur haar Nigeriese dokter nie toegelaat om later weer haar pasgebore babas te sien nie. Sy is ook nie ingelig dat twee babas gesterf het nie.

Verskeie mense, onder wie mediese personeel, polisiebeamptes en ʼn maatskaplike werker, het vandaar glo saamgesweer om Sithole teen haar wil in die Weskoppies-inrigting in Pretoria te laat opneem, onder die voorwendsel dat sy aan geestesversteurings ly.

Sy is glo gedreig dat sy vir altyd daar sou moes bly tensy sy in die openbaar erken dat sy nooit swanger was nie.

Sithole ook ʼn slagoffer

Die mediagroep meen Sithole was sélf ʼn slagoffer wie se kwesbaarheid vanweë haar sukkelende omstandighede deur “invloedryke, magtige mense” uitgebuit is. Dit is nie duidelik of haar man ook as ʼn slagoffer beskou word en wat sy rol in die gebeure was nie.

Survé meen sommige staatshospitale in Suid-Afrika is die episentrum van mensehandel en dat talle mense en kinders al slagoffers daarvan was.

Luidens die verslag het mensehandel – spesifiek die handel van babas – ʼn jaarlikse omset van miljarde rand in Suid-Afrika.

Sommige babas word glo ook vir moetie en ander doeleindes verkoop.

Piet Rampedi, die joernalis wat die storie gepubliseer het, het ook die afgelope maande onder skoot gekom en is onder meer van onetiese joernalistiek beskuldig.

Survé sê egter die grootste fout wat Rampedi gemaak het, was om te betrokke by die Sithole-egpaar te raak.

Rampedi het Sithole tydens haar swangerskap glo persoonlik tydens vier van haar 40 doktersbesoeke by staat- en private hospitale vergesel en blykbaar genoegsame bewyse gehad om die storie te skryf.

“Dit was veronderstel om ʼn goedvoelstorie te wees – dit was nie ʼn ondersoekende storie nie. Toe ons onderneem het om ondersoek na die gebeure in te stel, het ons nooit verwag om te ontdek wat ons intussen ontdek het nie,” sê Survé.

Hy sê die Independent Mediagroep sal oor die volgende 12 maande gereeld stories oor die krisis van mensehandel in Suid-Afrika dra om dit bloot te lê en ʼn einde daaraan te maak.

Dit is nie duidelik wanneer die eerste episode van die Tienling-sage beskikbaar sal wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

42 Kommentare

Willem ·

Ja, en Vader Kersfees woon by die noordpool waar hy partymaal partytjies houvir die tandemuis en sy vriende.

Pieter ·

Smaak my hier is koppies wat in kersvader en die tandemuis glo. Die afduime omdat daar met dit gespot word. Ai, vader tog.

Jacobus ·

Is dit hierdie dr Iqbal Survè wat miljarde rande van die staat se pensioendonds ontvang het???

JohanR ·

JA dis die selfde ou wat nogal ‘n goeie koerant in Kaapstad(die Argus) op gemors het toe hy dit verander het in ‘n ANC mondstuk! Ek lees nou die Burger in Kaapstad, en die Beeld in Gauteng as ek daar gaan keier. Die ou is skelm verby!

Racheltjie Debeer ·

Ag asseblief! Dis die grootste twak storie ooit! Dink die mense ons is almal onnosel??????

Mercia ·

Agnee komaan! Ál 10 haár babas?!! Klink heeltemal te dik vir ‘n daalder. Met nog ‘n klomp gerieflike meevallertjies soos verlore selfoonsein, geen foto’s, dreigemente van Weskoppies?!
Klink soos ‘n Hollywood film ja…….’n “low budget” een!

Nick ·

Kyk soos die een ou gese’ het: ‘if you don’t know that you don’t know the things you should know…. then you might think you are clever’
Praat van ‘n poep voer!
Baanaana republic.

Di ·

Niks is onmoontlik in hierdie korrupte land van ons nie. Glo daar gaan BAIE onderduimse dinge aan waarvan ons nie bewus is nie

Hendrik ·

Wel, as mens al die samesweringsteorië teen die Covid-entstowwe kan glo, kan mens seker maar hierdie storie ook glo! Beide bevat halwe waarhede en maak konneksies tussen onverwante dinge. Hierdie is ‘n handboek voorbeeld van hoe ‘n samesweringsteorie gemaak en geglo word.

Zilla ·

Wil net seker maak by julle dat dit nie vandag 1 April is nie
Oh. My. Greatness
Ek is sprakeloos

AndrewL ·

Die ou neem dalk ‘n ietsie. Dit is so duidelik dat hul iets probeer spin om hulself beter te laat lyk.

Francois ·

Oh no… Hierdie raak nou soos Sewendelaan en Binnelanders se storielyne wat op raak.

JohanR ·

Kan hulle nie die storie in 7de Laan se storielyn in bring nie? Dit kan net ‘n verbetering aan bring!

Blomme ·

Sensasiesoekers… Wil daai klomp geld van Guinness Book of Records opraap!

Dup ·

Net in SA………..die “babas” is seker deur n tokoloshi verwek en daarna met ñ ruimteskip ontvoer……hulle woon tans in ñ luukse oord genaamd “Nakandalala” êrens in die Blouberge…..

Johanna ·

Van hierdie regering en Nigeriese dokters kan mens enige iets te wagte wees. Geld wat stom is maak reg wat krom is.

koos10 ·

En vye is …….
Hierdie ou probeer sy eie koerant red, wat die eerste berig geplaas het. As jy bewyse het, hoekom dit nie wys nie????

Capri ·

Ek vra verskoning as ek verkeerd is!! Dit lyk of sy ‘n omgekeerde was skottel onder haar rock het, jy kan die groewe sien!! Kyk mooi!!

Johan D ·

Dink die perd nou wraggies dat ons hom moet glo veral omdat daar so baie mense kamma betrokke is? In so ʼn groot groep moet dit mos al lankal geglip het!

Blikke ·

Modereer maar lekker…ek dink ek is nou klaar met julle!!!

Swartskaap ·

Ja Blikke. Hulle modereer hulself uit lesers en ondersteuners. Sensorskap hier is erger as onder pw botha.

Annelize ·

It is not the lie that bother me so much, it is the insult to my intelligence that has me in a knot.

Leuens, leuens, en nogmaals leuens. Dr. Surve moet dalk oorweeg om ‘n draaiboekskrywer in Hollywood te word, hy sal dit ver bring met sulke wilde verbeeldingsvlugte.

Susan ·

Ag nee wat, wat ‘n belaglike spul. Is daar nie meer belangrike goed in die lewe om ons oor te bekommer of te praat nie, nou word daar tot ‘n video reeks tyd, en geld aan spandeer, as om te berig dat 10 babas in dun lug verdwyn het. Ook word daar gepraat van haar man, volgens vorige berigte was/ is hy getroud en volgens sy eintlike vrou sorg hy finansieel nie vir hulle kinders nie. Dis die deurmekaarste teenstrydigste artikels wat ek nog van gehoor het, so die slotsom waartoe ek kan kom is dat dit ‘n klugspel is!

Misky ·

Geld maak storie en vir hoeveel miljoene daan die 10 episode fiksie verhaal verkoop word? Sal graag al daai ‘bewyse’ wil sien en hoekom so lank stil tot nou en nie lankal met dit op die lappe gekom nie?

miavos ·

Die storie is vals van die ‘begin’ tot die ‘einde’. Dit was ‘n geldmaak ‘scam’ van die begin af. Hierdie ‘scammers’ het mense se intelligensie totaal onderskat. Ek hoop hulle word almal goed vasgevat.

Martie ·

“Independent Media besit Pretoria News, wat aanvanklik die storie van die tienling gebreek en later vir skenkings gevra het.”

Die stelling sê genoeg.
Volgende storie asb.

Inkpot ·

Die mense kan tog nie dink dat enige iemand hulle glo nie.
Die maklikste om hierdie snert te ontbloot is om haar na ‘n dokter te stuur om vas te stel of sy onlangs geboorte geskenk het en natuurlik sal hulle dit nie doen nie, hulle sal aanvoer dat haar “menseregte” geskend word.

AH ·

Ek wonder of daar een persoon is wat daarop uit is om ‘n afduimpie vir elke kommentaar te gee? Dit lyk nogal so!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.