‘Tienling’-vrou was nie swanger; regering begin met regsaksie

Die 37-jarige Gosiame Thamara Sithole van Tembisa. Langs haar sit haar kêrel, Tobogo Tsosetsi. (Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency/IOL)

Die Gautengse regering het met regstappe teen die Independent Media-groep en Piet Rampedi, redakteur van die Pretoria News, begin weens hul beriggewing oor ’n tienling wat gebore is en opvolgberigte waarin die provinsiale regering van ’n toesmeerdery en nalatigheid beskuldig is.

Pretoria News het vroeër die maand berig dat die 37-jarige Gosiame Thamara Sithole van Tembisa in ’n Pretoriase hospitaal aan sewe seuns en drie dogters geboorte geskenk het. Foto’s is ook van ’n “hoogswanger” Sithole gepubliseer, maar vir dae lank was daar geen nuwe inligting of foto’s van die beweerde tienling nie.

Rampedi het volgehou die tienling is gebore en het later beweer dat ’n toesmeerdery plaasgevind het om mediese nalatigheid te probeer verdoesel. Hy het ook later in berigte aangevoer dat Sithole teen haar wil in ’n mediese fasiliteit aangehou word en dat sy gedwing is om vir sielkundige waarneming te gaan.

Die Gautengse regering het Woensdag gesê hy het by al die openbare en private hospitale in Gauteng navraag gedoen en daar is geen rekord by enige hospitaal van die geboorte van ’n tienling nie. Volgens Thabo Masebe, woordvoerder van die provinsiale regering, was Sithole glad nie die afgelope tyd swanger nie.

Die Pretoria News het in ’n berig op 17 Junie beweer die babas is by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria gebore, maar dat dit onbekend is waar Sithole en haar tienling hul bevind. Daar is beweer die regering se “ontkenning” rakende die geboorte van die tienling is “deel van ’n veldtog om mediese nalatigheid waarby senior politici en staatsamptenare betrek word, te verdoesel”.

“Hierdie bewerings is vals, ongegrond en het slegs ten doel om die goeie reputasie van die Steve Biko Akademiese- hospitaal en die Gautengse regering skade te berokken,” het Masebe gesê.

Maatskaplike werkers van die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling het volgens Masebe kontak met Sithole gemaak om vas te stel waar sy haar bevind en of die departement enige bystand aan haar kan lewer.

“Die maatskaplike werkers was bekommerd oor Sithole se geestestoestand en het gereël dat sy in die Tembisa-hospitaal opgeneem word vir waarneming. Sy is op 18 Junie in die hospitaal opgeneem en mediese toetse is gedoen. Sy sou aanvanklik vir 72 uur by die hospitaal gehou word, maar na aanvanklike ondersoeke het dokters aanbeveel dat sy vir ’n verdere sewe dae by die hospitaal gehou word vir verdere waarneming, in ooreenstemming met die Wet op Geestesgesondheidsorg.”

Volgens Masebe is intussen vasgestel dat Sithole nie onlangs geboorte gegee het of in die afgelope tyd swanger was nie.

“Die provinsiale regering sal voortgaan om mediese, sielkundige en maatskaplike ondersteuning aan Sithole te gee en berading verskaf sou sy dit benodig.”

Die Gautengse regering het sy kommer oor Rampedi en Independent Media se optrede uitgespreek.

“Die provinsiale regering het die staatsadvokaat opdrag gegee om regsaksie teen Rampedi en die Independent-groep in te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Misky ·

Mense is darem baie verveeld en terselfdetyd vindingryk om sulke nonsens uit te dink. Net ‘n paar weke voor die geval, was daar die vrou wat beweer het sy is ontvoer en die hele land in rep en roer gehad het. Hoop hulle almal kry ‘n gepaste straf en verantwoordelik gehou vir enige onkostes aangegaan.

ES ·

Ek onthou dit, Misky. Sy het op Twitter plasings gemaak oor waar sy haarself “bevind” tydens hierdie “ontvoering” en dit net als om ‘n eks-kerel se aandag te kry…

Stof ·

Is dit regtig nodig om elke keer as iemand verontreg voel, na die grashalmpie menslike owerhede te gryp en gelykgeskape medeskepsels heen en weer te vervolg.
Vader het ons almal geskep as gelykgeskapenes, met die doel om tot Sy eer te handel.
Laat ons dus eerder uitreik na die persone en instansies wie se intehriteit nou so liederlik deur die modder gesleep word. Ons is dit aanmekaar verskuldig.
Waarvan dan, getuig hierdie dierlike optrede nou?
WSJD.

Daniel ·

Hulle het geen kredietwaardigheid meer, word feite nie nagegaan voor publikasie?

Riley ·

Dis waar… en so copy paste elke aanlyn nuus portaal ‘n ander se werk – al is dit nie nagevors nie…. helse snowball hierdie!

Keelvol ·

Volgens een van die vele berigte het dié Piet Rampedi beweer dat hy n privaat speurder aangestel het om ondersoek in te stel. Volgens “bevindings” was die sithole vrou by die HF Verwoerd hospitaal gewees en geboorte gegee.

Maar geen hospitaal lêer nommer kon verskaf word nie. Geen geboorte sertifikaat of registrasie van geboorte kon op die bevolkings registeer opgetel word nie.

Sy wou geen fotos van die “tienling” laat neem nie. Dit was tog n rare wêreld gebeurtenis gewees.

Daar was op die oog af geen tekens dat sy geboorte geskenk het nie.

Dié Piet Rampedi het nagelaat om in een van sy “berigte” te vermeld dat hy nooit met sithole en die kêrel/man n behoorlike onderhoud gehad het nie. Hy die “onderhoud “ per WhatsApp gevoer. Hy het haar dus nooit fusies gesien nie. Hy het geen melding van n kinderarts se naam gemaak wat die vrou behandel het nie. Hy het geen bewyse gehad dat sy wel swanger was nie.

anniekiewiet ·

Hoekom niks oor haar kêrel nie? Het hy nie gehelp met die foto’s en die storie nie?

Eiervrug ·

Voorstel. Maak ‘n oproep na Independant media en stel voor dat hy afgedank word. Dit kos ‘n oproep. Dan kan julle die land se geld liewer aanwend om julle korrupte kaders aan die pen te laat ry. Use it, dont use it….

Vanessa ·

Ek persoonlik het gedink daai maag is darem bietjie baie groot so ek het besluit om my nie verder aan die berigte te steur nie!

gpsa ·

Gaan maak net seker daar is nie 10 by sassa gerigestreer nie.

Sêmanet ·

Nogal nê? Sy behoort ook in die sop te kom oor die valse stories wat sy begin het. Seker gedink die wêreld en sy vrou gaan nou skenkings maak vir Afrika. Oorsee word ouers met so baie kinders (linge) bygestaan deur die staat.

Sandra ·

Ek het gister die brief gelees wat die Rampedi geskryf het om jammer te se. Maar al se hy dat hy jammer is, het hy ‘n “maar”. Mnr Rampedi, mens se nie jammer en dan “maar” nie. Dis jammer en niks anders nie.

koos10 ·

Sy “verskoning” was meer gemik op sy kolegas en die nuus bedryf. Hy is nie ‘n joernalis se agterend werd nie. Hier ou en sy koerant moet maar gestraf word.

Boon ·

Skors Rapedi as journalis en beboet sy werkgewer. Want hy het fopnuus versprei.

Riley ·

En so ook die ander nuus instansies wat copy paste copy paste op hulle webblaaie…

Jakes ·

Die ANC regering het natuurlik gedink dat hier nog n wereldrekord deur n suidafrikaner opgestel gaan word. Wat n lekker siek grap. Wat nogal merkwaardig is, hoekom is die vrou se maag so groot? Sekerlik is dit n gesondheids probleem.

anniekiewiet ·

Is die joernalis dalk familie of goeie vriend van enige van hulle?

Noels244 ·

My mond hang oop, hoe kon enigiemand dink dat jy so iets kan “fake” en daarmee wegkom?

Jr ·

Our peeeple ” dink ons sal dit koop. Hulle doen die tipe ding elke dag in die sirkus tent in Pretoria

Inkpot ·

Wat my die meeste verstom is dat daar sowaar mense is wat dit geglo het.

Meisie ·

Dit maak net vir my sin dat as sy swanger was met 10 babas sou daai pensie gehang het.. but in anyways.. ons het grooter probleme as om te worry oor die nonsens!

Maggies ·

By elke rokie was daar ‘n vuurtjie.
Almal praat nou van die joernalis en koerant, maar wat van die poserende paartjie?
Hulle moet tog sekerlik met die waarheid na vore kom en daarvolgens ook straf dra.

Moedeloos ·

Presies my redenasie ook. Nou word sy gepamperlang maar intussen is sy net so skuldig want hoe kom sy op die foto met die boepie. Nou wonder ek of die feit dat sy reeds n tweeling het ook “fake nuus” is of die waarheid.

Patch ·

Die “ouers” moet ook vervolg word sou ek sê. Net so skuldig!

Anita ·

Net n geldmaak foefie. Nou moet hul maar verduidelik waar die skenkings is wat hul so vinnig opgeraap het. Lekker SA se naam wereldwyd deur die modder gesleep.

KB ·

Ek het uit die staanspoor gesê daar is ‘n knak iewers (re “vir geestelike waarneming gestuur”)…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.