Tienpunt-aksieplan vir erfenisbewaring

Oudpresident Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria (Foto verskaf aan Marianne Styan)

Oudpresident Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria (Foto verskaf aan Marianne Styan)

Die Solidariteit Beweging het ’n tienpuntplan bekendgestel om die toenemende krisis oor die skending van Afrikanerstandbeelde en -monumente te hanteer. Die plan behels kort-, medium- en langtermynaksies en gaan oor die volgende paar weke verder verfyn word.

Die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, sê die aksieplan het noodsaaklik geword in die lig van die landwye voorvalle van beskadiging van Afrikaner-erfenisse die afgelope twee weke.

  1. Steun die Erfenisstigting deur R100 000 te skenk

Die Solidariteit Beweging steun die Erfenisstigting se projekte om Afrikaner-erfenisse te bewaar en skenk as eerste stap R100 000 wat die stigting kan aanwend vir herstelwerk aan beskadigde monumente. Solidariteit, AfriForum en die Helpende Hand is lede van die Erfenisstigting en gaan alles in hul vermoë doen om die Erfenisstigting onder leiding van Sonja Lombard te help om die stigting se uitvoerende vermoë uit te bou. Ons ondersteun ook ander bewaringsorganisasies se projekte om erfenisse in stand te hou en te bewaar.

  1. Dring aan op polisiebeskerming vir standbeelde

Ons het reeds die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gevra om die beskerming van standbeelde op te skerp en sterk teen oortreders op te tree. Dit sal voorkom dat wetteloosheid uitbrei en verseker dat almal binne die raamwerk van die wet optree. Ons het die Erfenisstigting gevra om die departement van kuns en kultuur te nader om toe te sien dat die departement sy verantwoordelikhede nakom.

  1. Hofaksie

Die Solidariteit Beweging gaan die hooggeregshof dringend nader om die EFF te verbied om EFF-lede aan te hits om misdaad te pleeg deur standbeelde te beskadig. Die aanhitsing om ’n misdaad te pleeg is op sigself ’n strafregtelike oortreding en boonop roekeloos onverantwoordelik in hierdie tyd van spanning. Indien nodig, sal AfriForum weer sterk optree soos voorheen toe konsentrasiekampterreine in Winburg en Mafikeng verwaarloos en geskend is.

  1. Beplanningsberaad deur FAK en Erfenisstigting

Buys het die FAK gevra om ’n dringende beraad oor erfenisbewaring te reël sodat beplanning oor die hantering van die krisis en die toekomstige bewaring van standbeelde en monumente gedoen kan word. Dit sal in oorleg met die Erfenisstigting geskied en deel vorm van die stigting se eie beplande gesprekke met alle belanghebbendes oor die hantering van die krisis.

  1. Fondswerwing

Instandhouding van standbeelde en monumente het die afgelope paar jaar toenemend ’n probleem geword. Die probleem kan toegeskryf word aan verwaarlosing deur die owerheid en onderhoudskoste. Hoewel dit uiters jammer is dat die krisis ontstaan het, kan die huidige bewustheid tog die geleentheid skep om die publiek bewus te maak van die behoefte wat ontstaan het om monumente en erfenisse te onderhou en om lede van die publiek te vra om geldelik by te dra tot die herstel, onderhoud en bewaring van ons erfenisskatte. Mense wat ’n bydrae wil maak, kan hul naam en die woord “skenk” na 42315 SMS, waarna AfriForum met hulle in verbinding sal tree. Die geld wat op dié manier geïn word, sal direk aan die Erfenisstigting oorbetaal word vir die herstel en onderhoud van monumente. AfriForum het ook aangebied om die Erfenisstigting by te staan met geldinsamelingsaksies.

 

  1. Openbare bewusmaking en steunwerwing

Dit is nodig dat ’n openbare veldtog van stapel gestuur word om mense bewus te maak van die belangrikheid van die bewaring van ons erfenisse. Steun moet ook gewerf word vir die talle projekte wat reeds landwyd onderneem word. Ons benadering is om ons in ’n gees van wedersydse erkenning en respek te beywer vir erfenisbewaring. Terselfdertyd stel ons dit duidelik dat die eensydige verskuiwing of verwydering van ons kultuurerfenisse nie aanvaarbaar is nie en sterk teengestaan sal word.

  1. Betrokkenheid

Ons gaan ons sowat 300 000 lede (dit wil sê lede van Solidariteit, AfriForum en die Helpende Hand) vra om aktief te help om erfenisprojekte landwyd en met raad en daad te ondersteun. Hierdie ondersteuning kan begin deur besoek te bring aan die naaste museums, standbeelde en monumente en om hulp aan te bied waar nodig. Die gemeenskap verkeer soms onder die wanindruk dat die staat hierdie erfenisse bewaar, wat nie die geval is nie. Die enigste oplossing is om self verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar. AfriForum ondersteun byvoorbeeld reeds geldelik die instandhouding van bepaalde konsentrasiekampterreine en monumente soos die Vegkop-terrein naby Heilbron.

  1. Geskiedenisbevordering

Dit het die afgelope ruk duidelik geword dat groot onkunde oor die geskiedenis heers. Daarom beplan ons verskeie projekte om meer kennis oor die geskiedenis te versprei. Ons mag nie toelaat dat die Afrikaner se geskiedenis gekriminaliseer word nie. Dit is nodig om die verlede in perspektief te stel. Ons moet ook die ANC se poging teenstaan om sy weergawe die amptelike weergawe van die verlede te maak. Die FAK gaan gevra word om spesiale verantwoordelikheid te aanvaar om geskiedeniskennis onder leerders te bevorder, terwyl Kraal Uitgewers se geskiedenispublikasies ook spesiale aandag gaan geniet.

  1. Gesprekke met die regering

Die Solidariteit Beweging wil met die regering praat oor die bewaring van erfenisse volgens wetlike riglyne, en sal daarop aandring dat die staat sy bewaringsverantwoordelikheid teenoor ons as belastingbetalers nakom. Verder sal ons graag deelneem aan die minister van kuns en kultuur se beoogde beraad op voorwaarde dat dit ruimte vir almal se standpunt bied en nie net ’n forum sal wees vir verdere aanvalle op die Afrikaner en sy geskiedenis nie. Ons benadering by so ’n beraad sal weereens wees om wedersydse erkenning en respek te bevorder.

  1. Langtermynoplossings

Dit is duidelik dat langtermynoplossings gevind sal moet word vir die volhoubare bewaring van veral Afrikaner-erfenisse. Terwyl ons daarop aandring dat die betrokke owerhede hul wetlike plig nakom om monumente te beskerm en in stand te hou, sal Afrikaners self groter verantwoordelikheid daarvoor moet aanvaar. Daar is baie monumente wat nie deur die staat ondersteun word nie en nou al vir jare verwaarloos word. Die uitdaging wat die ligging van sommige standbeelde en monumente bied, verg spesiale aandag en blywende oplossings sal daarvoor gevind moet word. Die Erfenisstigting as die Solidariteit Beweging se bewaringsvennoot en plaaslike bewaringsorganisasies sal hieroor geraadpleeg word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mike ·

Ek sien nie dat daar beplan word om die beelde te skuif nie.

Fanus ·

Nee,waarom Mike? Ons lewe in ‘n demokrasie en die HELDE bly waar hulle is.

Bruno Stef ·

Mense ons onderhandel met kommuniste en hulle metode van onderhandeling is drie tree vorentoe een tree terug en dan gaan dit gepaard met die skuif van die doelpale by elke geleentheid denkbaar.Laat ons mense nie mekaar aanval en weerspreek nie dit het al verskeie kere in die verlede tot groot skeuringe en verleentheid gely,Bly gefokus op ons doelwit en onthou niemand is groter as ons saak nie almal se bydrae tel ontsettend baie as n EENHEID.

Anton Smit ·

Ek sien ook nie dat daar beplan word om die nuwe SA beelde met verf te besmeer nie

Paul ·

Toe stel soliforum ons nie teleur nie want die sms geldinsameling is reg in die middel van die plan. Nou kan jy ‘n geldjie skenk met jou sms en vir lank daarna jou hare uit jou kop trek van die frustrasie van al die bedeloproepe en mooipraatjies om nog by te dra tot die meer as R14m/m wat soliforum reeds ontvang en op nuttelose hofsake en skikkings buite die hof mors en hul nessie lekker warm veer met groot salarissen en luukshede. Met die geld sorg hulle ook dat Radio Pretoria nooit weer die volk se stem sal wees nie.

Fanie ·

Paul, hoor ek ‘n jaloerse klankie van een van die baie mislukte mikro organisasies? Solidariteit is ‘n Helpmekaar Beweging, wat nie staatshulp kry nie. Lede- en fondswerwing is die enigste manier om miljoene rande se studiehulp te gee, honderde skole te help, ‘n Kollege en Universiteit te bou, Erfenisse te bewaar, ons Taal te red, ons Geskiedenis in ere te herstel, ons dorpe se dienste te herstel, ons regte in die howe te beskerm, ons mense teen rassewette te verdedig, Afrikaanse Radiostasies op te rig, ons eie Media te vestig- in kort- om vir ons ‘n toekoms te skep. R100 maak mens nie armer, maar saam kan dit ‘n verskil maak! Solidariteit kan mos nie Afrikaner Staatsfunksies uitvoer sonder geld nie? Kom wees eerder deel van die oplossing as om net te praat oor die probleme!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.