Tientalle beseer in busongelukke in KZN

Die ongelukstoneel by Dumezulu aan die KwaZulu-Natalse kus. Foto: Netcare 911

Meer as 80 mense is beseer in twee verskillende busongelukke Maandagmiddag in KwaZulu-Natal.

Een van die ongelukke het op die R617 in Mpophomeni gebeur toe ʼn bus teen die kant van ʼn ander bus gebots het. Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici van verskillende nooddienste het na die toneel gehaas waar hulle die busse in die middel van ʼn aansluiting aangetref het.

“Die passasiers het reeds uit die twee voertuie geklim en op die toneel rondgeloop. Ongeveer 49 pasiënte het beserings opgedoen wat van gering tot ernstig gewissel het,” het Meiring gesê.

Die beseerdes is op die toneel behandel voordat hulle na nabygeleë hospitale geneem is.

Die ongelukstoneel op die R617 in Mpophomeni. Foto: ER24

In nog ʼn ongeluk omstreeks 14:20 is talle mense beseer toe ʼn busbestuurder beheer oor die voertuig verloor en dit op ʼn ongemerkte pad in Dumezulu omgeslaan het.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, het gesê altesaam 39 mense is in dié ongeluk beseer. Volgens Herbst het die beserings gewissel van gering tot ernstig. “ʼn Mediese helikopter is ontbied om die meeste van die ernstig beseerde pasiënte na ʼn hospitaal te neem.”

Die ander beseerdes is op die toneel behandel en deur verskillende ambulansdienste na hospitale geneem.

Albei ongelukke sal deur die owerhede ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

thelsa ·

Geskoolde arbeid is nie goedkoop nie. Goedkoop arbeid is nie geskool nie.

Theresa ·

Ek is oortuig daarvan dat die statistiek oor vragmotor, taxi en bus ongelukke mense sal verstom. Kan mens dit iewers bekom?? Seker nie onmoontlik om dit te kry sodat mens kan sien hoe mense lewens op hierdie manier geneem word nie??
Sien daagliks hoe busse nou soos taxis ry. Swiep in langs pad om mense op te laai. Te lui of met opset om tot by die busstop te ry en hul daar te kry (SOOS DIT HOORT).
‘n Spesiale taakmag moet ingespan word teen die belhamels op paaie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.