Tientalle bokke naby Vereeniging doodgery

Argieffoto: memyselfaneye (Pixabay)

WAARSKUWING: Die berig bevat grafiese inhoud en kan sommige lesers ontstel.

Inspekteurs van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Vereeniging en Vanderbijlpark het Dinsdag vroegoggend na Eikenhof, in die suide van Johannesburg, gejaag waar tientalle boerbokke raakgery is toe hulle vermoedelik gesteel en deur die boewe oor die pad gejaag is.

“ʼn Voertuig het die bokke getref toe hulle in ʼn trop oor die pad gehardloop het. Omdat dit vroeg in die oggend en nog donker was, kon die motoris die bokke nie sien nie,” het ʼn woordvoerder van die DBV gesê.

Die Meyerton-brandweer het inspekteurs omstreeks 05:20 na die toneel ontbied.

“By die inspekteurs se aankoms daar het tientalle bokke in die pad gelê. Daar het ook bokke langs die pad gestaan.”

Die inspekteurs moes 14 bokke wat erg beseer was, van kant maak.

Sowat 21 bokke was reeds dood toe die span daar opdaag.

Met die inspekteurs se aankoms op die toneel, het hulle van die bokke in die pad aangetref (Foto: SPCA Vereeniging & Vanderbijlpark)

Die 30 oorblywende bokke is ondersoek en aan hul eienaar terugbesorg. Die eienaar het ʼn saak van veediefstal by die polisie aanhangig gemaak.

“Dit is ʼn tragiese situasie en put ons inspekteurs emosioneel uit,” het die woordvoerder gesê. “Ons sal egter altyd reageer waar diere ons nodig het. Ons gee om vir die diere.”

Die bestuurder van die voertuig het intussen in ʼn plasing op Facebook gesê dat sy omstreeks 04:00 op pad was werk toe, toe sy die bokke getref het. Sy sê sy glo dat sy nie die eerste motoris was wat die diere raakgery het nie.

“Ek het nie te vinnig gery nie. Ek het om ʼn draai gekom en toe ek weer sien, staan die bokke voor my. Dit was mistig en donker. Ek het hulle glad nie gesien nie,” het die motoris geskryf.

“Ek kon dalk ʼn paar doodgery het. My hart is stukkend. Ek kan nie ophou om aan hulle te dink nie.”

Die motoris het ook die brandweer en DBV vir hul vinnige reaksie en hulp bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pieter ·

Die ANC land het sy gaai gesien en klaar. Die regering plunder hulle mense plunder dit sal en gaan nooit op hou nie. Ek het meer simpatie met diere as vir hulle.

Tino ·

Tragies!

Maar ons arresteer eerder ‘n branderplank ryer en ‘n pa wat apteek toe gaan vir formule melk as hoogste prioriteit

Elméne ·

Flippen ongelooflik hoe hierdie piesang regering van SA se koppe werk!!!! Tot militêre voertuie op die strande in die Kaap.

Miskruier ·

My hele boerdery is omver gewerp omdat ek snags my diere moet kraal. N herkouer vreet, gaan lê en herkou en moet dan weer gaan vreet, by daardie tyd is myne vasgemaak en verloor hul n hele vreet siklus.

Alta ·

Die DBV gee NIE om vir diere NIE, hul gee net om vir in die media vermeld word – & geld-insamel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.