Tientalle leerders in hospitaal oor ‘daggakoekies’

Argieffoto

Altesaam 39 leerders aan ’n meisieskool in Soweto is vandeesweek in die hospitaal opgeneem nadat hulle na bewering daggakoekies by die skool geëet het.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, sê in ’n verklaring van die leerders aan die Lofentse Girls School het Donderdag van pyn op die maag gekla, terwyl ander opgebring het.

Volgens Mabona is die leerders onderskeidelik na die Bheki Mlangeni-hospitaal en die Chris Hani Baragwanath-hospitaal geneem. Die meerderheid van die leerders is later ontslaan en 12 van die leerders word tans vir observasie in die hospitaal gehou. Dit is nie bekend hoe oud die leerders is nie.

“Ons wens hulle ʼn spoedige herstel toe en hoop dat hulle binnekort weer met hul studie sal kan voortgaan,” het Panyaza Lesufi, provinsiale LUR vir onderwys, in reaksie op die voorval gesê.

Die LUR het ook gereageer op ’n video wat vandeesweek op sosiale media versprei is, waarin daar gesien kan word hoe ’n onderwyser ’n leerder in ’n klaskamer bydam. Die voorval het by die Modiri Secondary School in Ga-Rankuwa plaasgevind.

Volgens Lesufi het die departement reeds van sy verteenwoordigers na die skool gestuur om ondersoek in te stel. Die departement sal ná ’n voorlopige ondersoek besluit of daar teen die onderwyser opgetree sal word.

Die departement het ook sy medelye betuig nadat ’n 14-jarige leerder Donderdagmiddag ná skool deur ’n medeleerder met ’n mes doodgesteek is. Albei is in graad tien en leerders aan die Freedom Park Secondary School in Soweto.

Die voorval het ná skool naby die seuns se ouerhuise plaasgevind. Die verdagte is nog nie weer met ’n oog gesien ná die voorval nie.

“Ons veroordeel ten sterkste enige dade van wangedrag deur leerder en doen ʼn beroep op ouers om dissipline binne en buite die skoolomgewing te help afdwing,” sê Lesufi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Bullet ·

“Ons wens hulle ʼn spoedige herstel toe en hoop dat hulle binnekort weer met hul studie sal kan voortgaan,” het Panyaza Lesufi

Hulle kort ‘n goeie pakslae Panyaza!

Antjiepat ·

Ons wens hul ‘n spoedige herstel toe??? Klink dan asof dit sy goedkeuring wegdra. Die onderwyser se saak word ondersoek , maar mens lees nie dat hierdie kinders vir bloedtoetse gestuur is nie??? Is daar ‘n ondersoek geloods om te sien hoeveel dagga hul ingeneem het of waar hulle die dagga in die hande gekry het?

007 ·

Hulle mag mos nie meer geslaan word nie. Dit is hoekom. Geen dissipline, geen respek en geen verantwoordelikheid nie

Anel ·

By die een skool word die onderwyser geskors omdat hy kind met koeldrankbottel gooi. In ander skool sal nog besluit word hoe op getree gaan word teen onderwyser wat kind in klas bydam. Dubbel standaarde vir verskillede tipies mense. Geen simpatie met die koekie eters nie. Hulle het dit seker getoets en hulleself ooreet. Kinders doen erge dinge deesdae. Hulle is nie engeltjies nie en wil nog minder verantwoordelikheid aanvaar vir hul optredes. Gee altyd iemand anders die skuld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.