Tientalle ‘onwettige myners’ vas

Die polisie het op onder meer suurstofsilinders beslag gelê. (Foto: Verskaf)

Die polisie in Mpumalanga het vandeesweek 21 vermeende onwettige mynwerkers in dié provinsie in hegtenis geneem.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê klopjagte is tussen Woensdag en Sondag by Dientjie naby Graskop, Pelgrimsrus en Sabie uitgevoer in ’n poging om onwettige mynbedrywighede in Mpumalanga hok te slaan.

Sommige verdagtes is minderjarig terwyl ander onwettige immigrante uit Zimbabwe en Mosambiek is. Dit sluit in agt minderjariges – tussen 15 en 17 jaar oud – van Mosambiek.

Hlathi sê die polisie werk in dié stadium nou saam met immigrasiebeamptes en proefbeamptes aangesien sommige verdagtes onwettig in die land is.

Daar is gedurende die klopjagte beslag gelê op verskeie items wat vermoedelik tydens onwettige mynbedrywighede gebruik is, waaronder suurstofsilinders, ’n kragopwekker, ’n snyfakkel, kettings, grawe en lere.

Die verdagtes staan nou tereg op aanklagte van die besit van gouddraende materiaal asook die oortreding van die Wet op Immigrasie.

Genl.maj. Thulani Phahla, waarnemende provinsiale kommissaris in Mpumalanga, het intussen die inhegtenisnemings verwelkom.

“Dié dade verlam nie net ons ekonomie nie, maar bring ook die lewe van dié mense in gevaar. Dit is ook skokkend om te weet dat jong kinders van buurlande genader word om aan dié onwettige aktiwiteite deel te neem. Dit is kommerwekkend en ons sal hoegenaamd nie toelaat dat sulke wetteloosheid heers nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nie Verbaas ·

Wanneer kry hulle borgtog sodat hulle kan verdwyn of erens voortgaan met onwettige bedrywighede? Dis mos hoe ons regstelsel werk.

Tanniepetoors ·

Die onwettige mynwerkers en mynbedrywighede is vir my baie tragies. Ek is seker hulle besef hoe gevaarlik dit is om in ou myne erts te probeer uithaal. Hulle waag hulle lewens elke dag in die vae hoop dat hul “iets” gaan vind om die honger monde by die huis te voed. Uiters tragies.

Ben ·

Hoekom kan die regering nie die ou myne se skagte met plofstof opblaas nie. Sodat dit ontoegangklik is nie.
Nou spandeer hulle baaaaie geld en tyd om hierdie mense te “probeer” vang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.