Tientalle Oos-Kaapse skole weer gesluit weens Covid-19

Plakkate wat sosiale afstand tussen leerders aandui is regoor die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria opgerig (Foto: Verskaf)

Skaars ʼn week nadat skole landwyd heropen het, moes talle skole in die Oos-Kaap noodgedwonge sluit weens leerders en onderwysers wat positief getoets het vir Covid-19. Dié provinsie het teen Donderdag die derde hoogste getal Covid-19 gevalle landwyd (7 868) aangemeld.

Loyiso Pulumani, woordvoerder van die provinsie se departement van onderwys, het bevestig dat 20 positiewe Covid-19-gevalle in skole in dié provinsie aangemeld is. Dit sluit in 15 onderwysers, drie leerders en twee nie-akademiese personeellede. “Ons het ook nog 48 persone in die provinsie wat simptome van Covid-19 toon, maar nog wag vir toetsuitslae. Dit vereis ook dat die betrokke skole gesluit word,” sê Lulumani. Volgens hom is 29 skole tot dusver gesluit.

Hy sê elke skool het die nodige toerusting en skoonmaakpersoneel wat verseker dat skole ontsmet word sodra ʼn voorval van Covid-19 aangemeld word. “Skole hoef dus nie onbepaald gesluit te bly nie.”

Maroela Media het Woensdag berig dat drie skole in KwaZulu-Natal en een in die Vrystaat ook sedert Maandag weens Covid-19-gevalle onder personeel en leerders gesluit is.

Lulumani sê die departement sal nie met leerders se lewens speel nie en die departement sal optree teen enige skoolhoof wat dit waag om ʼn skool te heropen sonder die toestemming van die departement.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pensionaris Sedgefield ·

Wat help dit wetenskaplikes adviseur regerings oor die risiko wat die virus vir kinders inhou maar die advies word dan geïgnoreer? Die kans vir kinders om van Covid-19 te sterf is ongeveer vyf keer minder as vir gewone griep. Ons kan tog nie elke keer die skool sluit as iemand positief toets nie. Hoe moet leerplanne voltooi word? Ons is besig om ‘n hele geslag te verwoes met hierdie waansin.

Marisa W ·

Ek stem saam met Pensionaris van Sedgefield – my dogter is in Gr 7 en by die skool – as sy siek word sal ons dit hanteer – as sy my by die huis kom aansteek sal ons dit hanteer – ons kan nie vir altyd wegkruip nie. Wat leer ons daardeur vir ons kinders – net om weg te kruip as daar probleme kom.

Die kans om COVID op te doen is groter in die kruidenierswinkels as in die skole en ons loop almal met ons kinders in die winkels rond.

Dra jou masker (REG – nie soos ‘n wafferse baardjie hier onder jou neus nie), hou jou afstand, was jou hande en hoop – dit is al wat ons kan doen – laat die kinders leer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.