Tientalle SA’ners steeds in China vasgekeer

Foto: (AP Photo/Gemunu Amarasinghe)

Die DA sê hy weet van sowat 85 Suid-Afrikaners wat tans in China vasgekeer is en graag huiswaarts wil keer in die lig van die gevreesde koronavirus wat reeds meer as 1 800 lewens geëis het.

Darren Bergman, LP en skaduminister van internasionale betrekkinge en samewerking, sê die party is deurgaans in verbinding met die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco). Luidens die DA se inligting word hierdie Suid-Afrikaners se versoek om huis toe te kom, bloot deur die regering geïgnoreer.

Die DA doen nou ’n beroep op Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge, om te verduidelik waarom daar gehoor gegee word aan sommige Suid-Afrikaners se versoeke, terwyl ander aan hul eie lot in China oorgelaat word.

Die dodetal weens die Covid-19-virus staan tans op 1 868. Altesaam 72 436 bevestigde gevalle is aangemeld, waaronder die eerste geval in Afrika vandeesweek in Egipte.

Lin Songtian, China se ambassadeur in Suid-Afrika, het Dinsdag aan verslaggewers gesê daar is tans sowat 50 000 studente van Afrika in China.

Lin Songtian, China se ambassadeur in Suid-Afrika (Foto: David Ritchie/ANA)

Volgens Songtian neem die koers waarteen pasiënte in dié land herstel drasties toe. Die getal nuwe bevestigde gevalle in al die land se provinsies, behalwe Hubei, het afgeneem van 390 op 3 Februarie tot 79 teen Maandag.

Songtian sê verder die getal nuwe vermeende gevalle in China daal al vir 12 agtereenvolgende dae. Die getal nuwe vermeende gevalle spesifiek in Hubei daal reeds vir 15 agtereenvolgende dae vanaf 3 260 aan die begin van Februarie tot 788 teen Maandag.

Die ambassadeur het ook bevestig dat daar nog geen geval van die koronavirus in Suid-Afrika aangemeld is nie. “Selfs al sou daar gevalle in hierdie land aangemeld word, is Suid-Afrika ten volle in staat daartoe om dit te hanteer. Daar is geen rede tot paniek nie.”

Die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (Nios) sê op sy beurt hy voer deesdae as voorsorgmaatreël breedvoeriger toetse op mense uit wat die virus onder lede mag hê.

Luidens ’n verklaring is die breedvoerige toetse teen Maandag op altesaam 83 Suid-Afrikaners uitgevoer, van wie 46 geïdentifiseer is as mense wat moontlik die virus onder lede kan hê. Nie een van hulle het egter toe positief vir die koronavirus getoets nie.

Foto: (Chinatopix Via AP)

Studie

Data van die Chinese sentrum vir siektebeheer en -voorkoming (CCDC) het intussen bevind dat meer as 80% van gevalle wat aangemeld is, matig van aard is. Die meeste gevalle is onder siekes en bejaardes aangemeld.

Die navorsing wys ook op die hoë risiko wat die virus vir mediese personeel inhou. Dit volg nadat ’n hospitaaldirekteur vroeër vandag (Dinsdag) aan die virus dood is. Liu Zhiming (51) was die direkteur van die Wuchang-hospitaal in Wuhan, een van die voorste hospitale in die stad.

Zhiming is een van die mees senior gesondheidsbeamptes wat tot dusver weens die virus omgekom het.

Die data toon verder dat die Chinese provinsie Hubei se sterftekoers op 2,9% staan, vergeleke met die res van China se sterftekoers van 0,4%. Die algehele sterftesyfer weens die Covid-19-virus staan tans op 2,3%.

“China het die mees omvattende, strengste en uiters deeglike maatreëls getref om die epidemie in China te voorkom en te keer dat dit uit China versprei. China het ’n reuseprys betaal daarvoor en groot opofferings gemaak,” sê Songtian.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Strandloper ·

Moet vreeslik wees om so in onseekerheid te leewe. Kyk ek reken die arme mens het n beter kans op n retoer kaartjie maan toe voor die lawe instansie wat ons n regeering noem n finger sal veroer om hul te help. Skandelik!

Grens ·

Ek dink nie mens kan ons regeering aanval oor die virus probleem nie. Hoe bring jy 50000 mense terug, asook waar sit jy hulle onder quarentyn vir ‘n tydperk. Ek dink ook wanneer jy die besluit neem om na ‘n ander land te gaan, neem jy die risiko’s maar op jou eie skouers. So, SA met al ons probleme lyk darm nog nie so sleg nie.

BoerSonderRoer ·

Ek dink mens kan.
Betaal ons 45% van ons belasting net om vir ander mense huise te bou en blou lig karre te koop?
Die regering kan een vliegtuig stuur en almal gaan haal wat wil terug kom. Of kan ons net politikuste se myne in Afrika met die weermag oppas?
Meeste SA ners daar is by die ambasade op ‘n sms lys en almal behoort aan ‘n facebook groep.
Naledi moet haar vinger uit haar bas trek en haar salaris verdien.

Jan ·

Ag mense kyk na die fotos die mense makeer niks nie die hele ding is n klug van die begin af….nie een suid afrikaner is eers siek nie wat n klug…

Stefan ·

Jy werk in China en dis jou keuse. Hoekom nou ons belasting geld gebruik om jou daaruit te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.