Tientalle SA’ners veilig ná Mosambiek-terreur

’n Helikopter vlieg oor die stad Pemba waarheen talle mense ná die geweld vanaf Palma en Afungi  gebring is. (Foto: Alfredo Zuniga / AFP)

Die Suid-Afrikaanse ambassade in Maputo, Mosambiek, kon daarin slaag om altesaam 43 Suid-Afrikaners op te spoor wat geraak is deur die aanval op die kusdorp Palma in die noorde van dié land.

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge, sê die Suid-Afrikaners is in ’n gebied bekend as Afungi opgespoor. Dié gebied is ʼn paar kilometer buite Palma.

Die groep Suid-Afrikaners sluit in twee mans wat tydens Vrydag se aanvalle op ’n konvooi voertuie buite die Amarula Palma-hotel die bosse in gevlug het sowel as ’n jong Suid-Afrikaner wat weggekruip het en deur soek-en-reddingshelikopters gevind is.

Volgens Monyela is sommige van die groep reeds terug in Suid-Afrika terwyl ander intussen na veilige gebiede in Mosambiek geneem is.

Die ambassade is in dié stadium nog besig om vas te stel  of daar nog Suid-Afrikaners is wat deur die onrus in Mosambiek geraak is.

Die ambassade help Suid-Afrikaners in dié stadium met mediese ontruiming, die verkryging van noodreisdokumente en die bespreking van internasionale vlugte.

Die minister van internasionale betrekkinge, Naledi Pandor, het haar dankbaarheid teenoor die ambassade uitgespreek en haar medelye betuig met die familie van die Suid-Afrikaner wat tydens die aanvalle dood is.

Maroela Media het vroeër berig Adrian Nel het twee dae lank saam met sy pa en broer in die Amarula Palma-hotel geskuil voordat hy onderweg na die konvooi voertuie wat hulle na veiligheid sou neem, doodgeskiet is. Sy pa moes sy liggaam dra totdat hulle gered kon word.

Palma is intussen verlate ná die aanvalle.

“Die geweld het opgehou, maar daar word geglo dat sommige van die opstandelinge teruggetrek het en dat sommige steeds wegkruip,” het die aktivis Adriano Nuvunga aan AFP gesê.

Volgens ’n inwoner van Palma wat intussen na Mueda gevlug het, het die aanvallers ’n paar dae voor die aanvalle in die dorp aangekom en in plaaslike inwoners, wat hulle betaal het, se huise weggekruip.

Die Islamitiese Staat het intussen gesê hy het Palma beset. “Die kalifaat se soldate het die strategiese dorp Palma beset,” het die groep op sy Telegram-kanale in ʼn verklaring gesê.

Dít terwyl die VSA onderneem het om Mosambiek by te staan.

“Ons bly verbind tot samewerking met die regering van Mosambiek om terrorisme en gewelddadige ekstremisme teen te werk en om ISIS te verslaan,” het John Kirby, woordvoerder van die Pentagon, gesê.

Die Islamitiese Staat het ’n video uitgereik wat na bewering sy kommando’s wys – ongeveer 100 gewapende mans, meestal jonk, met rooi serpe om hul koppe.

Verskeie kundiges het aan AFP gesê dat die video blykbaar in Mocimboa da Praia, ’n ander hawe wat deur djihadiste gehou word, opgeneem is. Dit is nie duidelik wanneer die video verfilm is nie.

Die Verenigde Nasies het die aanval op Palma veroordeel en gesê hy werk nou saam met die plaaslike owerhede om hulp te verleen aan diegene wat deur die geweld geraak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hans ·

Dan speel sg SA eksperts hierdie oorlog af as opstandigheid oor sosio-ekonomiese omstandighede?

Riaan ·

Kommerwekend op ‘n intressante vlak. Ons is so gewoond aan die idee van terreur in die middel ooste, want dit is waarop ons gewoond is deur media. Nou, is dit letterlik ons buurland.

Ovelia ·

Ek en my dogter is ook omtrent 9 jaar terug in maputu ook deur mosambiem se vverkeers polisie aangehou. Dus haat ek daai land

Genis ·

Ek dink daar kan stek lyne getrek word na SA… Sal nie verbaas wees as die terries skuil in SA nie… Net hartseer dat ons wit mense wat nie hier werk kan kry, daar moet gaan werk, en die blootstelling kry..

Pampoen ·

Die saak is nog lank nie afgehandel as ‘n paar Suid Afrikaners gered is nie. Hierdie is ‘n aanval om beheer te kry oor die multi-miljard Total aanleg. Die aanval moet sterk teengestaan word.

Cecilia ·

Nie maklik mie. Ons familie lid ht weggekim veilig net mt d klere aan sy lyf, Beursie en selfoon. Verder als verloor wat in d kamp waar hy gebly het moes agterbly.
Maar hy is darm veilig!

Johan ·

Tensy hier in SA geen werk is vir geskoolde mense nie,vra ek..wat de hel soek my mense in nóg ņ mislukte land?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.