Tientalle vas vir bedrog met lisensies

(Argieffoto)

Die Valke het 15 mense in Bethlehem en Harrismith in die Vrystaat in hegtenis geneem vir beweerde bedrog met bestuurslisensies en padwaardigheidsertifikate.

AO Lynda Steyn, woordvoerder van die Valke, het gesê die verdagtes is vasgetrek tydens ʼn gesamentlike operasie deur die eenhede vir ernstige korrupsie, taktiese reaksie, misdaadintelligensie, die Padverkeerbestuurskorporasie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Hulle sal teregstaan op aanklagte van korrupsie.

Die verdagtes sal na verwagting Vrydag in die landdroshowe op Bethlehem en Harrismith verskyn. Die verdagtes sluit onder meer vyf verkeersbeamptes, drie administrasieklerke, twee toetsbeamptes en ʼn bestuurskoolinstrukteur in.

Volgens Steyn word die Harrismith- en Bethlehem-toetssentrums reeds sedert 2018 ondersoek nadat bewerings van wydverspreide korrupsie met die uitreiking van lisensies die lig gesien het.

“Aansoekers is glo deur instrukteurs van bestuurskole aan aangewese toetsbeamptes voorgestel wat dan die toetse sou uitvoer. Daar is dan geld aan die toetsbeamptes of instrukteurs oorbetaal. Daar is glo ook vragmotorlisensies uitgereik aan mense wat nie eens self die toetse ondergaan het nie, maar sogenaamde joggies wat die toetse namens hulle ondergaan het.”

Steyn het gesê daar is ook operasies in Limpopo uitgevoer waartydens 54 werknemers van vyf toetssentrums in hegtenis geneem is. Die verdagtes sluit 10 verkeersbeamptes van die provinsiale en munisipale verkeersowerhede in.

“Daar was ook operasies in Mpumalanga, Gauteng, die Wes-Kaap en Noordwes waartydens verdagtes vir korrupsie in hegtenis geneem is.”

Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, het die inhegtenisnemings verwelkom.

“Die inhegtenisnemings van hierdie mense sal indirek bydra tot die vermindering van sterftes op ons paaie,” het Lebeya gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Asgat ·

Knap gedaan aan die Valke! En net gister was daar n’ berig oor die hoe ongeluk syfers op ons paaie, nou wonder mens hoeveel ander pad verbruikers het geldige rybewyse.

Nie Verbaas ·

Ek wonder net hoe lank was die bedrywighede aan die gang en hoeveel bestuurders daar op die pad is wat ons lewens in gevaar stel. Daar is glad nie daaraan gedink nie.

Deon ·

My vraag is, diegene wat gebruik gemaak het van hierdie geleenthede, gaan hulle ook vervolg word? Of is dit kastig nou onmoontlik om dit te doen?

Benita ·

Nou ja, as daar dan indirek minder sterftes op die paaie sal wees dink ek hulle behoort direk vir moord aangekla te word…..

Niklaas ·

Hierdie tipe ding sal nooit stop nie, die amptenare het die hef in die hand. Toe ons 2 dogters niks wettiglik kon bereik na 4 pogings en wou tou opgooi, moes ons hoor hoe dom is ons om nie die Africa Salute te maak nie, anders slaag hul nooit. Na ons R 1600 per kind betaal het aan n middelman, word die lisensies toe blitsig uitgereik. Daar was geen alternatief nie.

Leon ·

Ek dink nie Lebeya het mooi gedink wat hy sê nie. Daar is alreeds seker ‘n miljoen indien nie meer gekoopte lisensies op die pad. Dit gaan nie die dood op die pad verminder nie. Die gekoopte lisensies ry NOGSTEEDS op die pad rond.

lollapot ·

En dan wonder almal hardop waarom daar soveel dood op ons paaie is. . .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.