Tier val seun (10) aan op Vrystaat-plaas

Argieffoto: https://pixabay.com

Argieffoto: https://pixabay.com

ʼn Tienjarige Franse seun sterk in ʼn hospitaal in Johannesburg aan nadat hy Vrydag deur ʼn tier by ʼn wildsplaas, naby Heilbron in die Vrystaat, aangeval is.

Die seun het glo saam met sy pa die Tau Thaba Game and Lion Lodge besoek, toe dit gebeur het.

JC Pretorius, eienaar van die wildsplaas, het gesê die seun en sy pa is deur een van die gidse vergesel na die leeu- en tierkampe op die plaas waar die diere agter ʼn elektriese dubbelheining besigtig kan word. Volgens Pretorius het die pa heeltyd die seun aangepor om nader aan die heining te staan sodat hy ʼn video kon neem.

“Die gids het vir die seun gesê om weg te kom van die heining, maar hulle verstaan gladnie Engels nie. Ek weet dus nie of hulle die opdrag net geïgnoreer het of werklik nie verstaan het wat die gids sê nie,” het Pretorius gesê. Hy vertel die tier het nadergehardloop toe die seun met sy rug na die heining gestaan het en die seun met albei sy voorpote deur die heining gekap.

“Die heining is geëlektrifiseer, maar ek dink die tier was so vol adrenalien dat die elektriese heining hom nie afgeskrik het nie.” Pretorius het gesê hy het direk na die voorval iemand gestuur om die heining na te gaan en seker te maak die elektrisiteit was wel aan en dit was beslis die geval.

“Ons het dadelik die seun en sy pa na ʼn hospitaal in Johannesburg gehaas, want ons wou nie vir die ambulans wag om tot hier te kom nie. Die seun het diep snye aan sy arms en bene opgedoen, maar hy was verbasend kalm. Dit is ʼn dapper laaitie. Hy het nie eers gehuil nie,” het Pretorius gesê. “Die pa was egter heeltemal histeries en het sommer nog kwater geword toe ons by die hospitaal kom en die dokter nie kon Frans praat nie.”

Dit is nie duidelik hoe ernstig die seun se beserings was nie, maar Pretorius meen hy was hy nie in lewensgevaar nie. EWN berig die seun moes geopereer word om die wonde te heg en is in die waakeenheid van die hospitaal opgeneem.

Volgens Pretorius is hy baie spyt oor wat gebeur het. In die 16 jaar wat hy die plaas besit, was daar nog nooit so ʼn voorval nie. “Ek voel verskriklik sleg hieroor en ek dink nie ʼn mens moet iemand blameer nie. Dit was ʼn ongeluk en ek voel bitter sleg daaroor.” Hy het gesê daar is nie sprake daarvan dat die tier van kant gemaak sal word of van die plaas af geskuif sal word nie. “Dit was mos nie die tier se skuld nie. Die tier is eintlik relatief mak, maar dit bly altyd ʼn wilde dier.”

Maroela Media het die polisie om kommentaar genader, maar hulle het nie kennis gedra van die voorval nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

dubbelsiende ·

Maroela waarom publiseer julle party artikels twee keer agtermekaar?

Mariné Lourens ·

Dagsê Dubbelsiende

Dankie vir jou navraag. Maroela Media publiseer nooit dieselfde artikel twee maal nie. Dit mag wees dat dieselfde artikel onder twee of meer verskillende afdelings op die webtuiste verskyn (bv. onder SA-nuus én onder Goeie Nuus), alhoewel die artikel slegs een keer op die webtuiste gepubliseer is.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Simoné ·

Die tier reaggeer op instink… Veiligheid is Frans is dieselfde as Eng… dit en logika… BLY WEG VAN DIE HEINING- daar is n rede vir dit!

Debbie Reynders ·

Dit bly n wille dier en dit is al hoeveel keer bewys moet nooit jou rug op n wille dier draai nie. Dit was nie die tier se skuld nie.

Asjas ·

Hangebare, lyftaal en negatiewe skud van die kop is verstaanbaar in ENIGE taal.

Frederik ·

Vriende van ons se dogter is doof gebore, maar ‘n puik atleet. Sy het al in Afrikalande sowel as oorsee aan toernooie teen dowes deelgeneem.
Haar pa sê dowetaal is die enigste taal wat wêreldwyd dieselfde is.

Justa ·

Hierdie sogenaamde lodges teel almal leeus en tiere vir die geblikte jag bedryf. Op fotos kan gesien word hoe die welpies tussen kinders poseer en as hulle groter word kan toeriste saam met hulle wandelinge onderneem. Die res is alom bekend. Jagters kan volgens n katalogus die een kies wat hy wil jag. Siek bedryf.

Charmaine Berry ·

Die SA gebaar taal verskil baie van die USA gebaar taal.

Joann ·

Ai tog. N wilde dier bly die instink he van aanval,maar die mens is te onosel. Die dier kry die skuld en die vertraagde mens skotvry.

Koos ·

Hoeveel buitelanders is nou AL in SA deur Wilde diere aangeval, hulle verstaan nie die woord “wild” nie. Dink hulle is in n dietetuin

Jan ·

Daar is seker borde in Eng wat mense waarsku en almal verstaan dit.Hy het seker aandag gesoek om so naby te gaan.Hoop hy luister in die vervolg

Joey ·

Die enigste persoon wat hier blameer kan word is die onnosel pa – hy het mos die kind aangemoedig. Die toeriste verstom my – ek het persoonlik al gesien hoe gidse sukkel om hul te kalmeer en te dissiplineer as hulle by wildskampe kom. Lyk of hul heel gek raak en verstaan dan gerieflikshalwe skielik ook nie engels nie. Hulle raak buite beheer as hul vir foto’s en video’s wil neem.

Liezel ·

Liewe Mariné Jacobs ek het ook in die verlede al vele dubbele plasings opgemerk. Wonder of dit nie maar ‘n kinkel in die Maroela-app se kabel is nie! Wanneer dit gebeur sien ek dubbels van al die artikels.

Mariné Lourens ·

Dagsê Liezel

Dankie vir jou kommentaar. Ek het dit onder ons tegniese span se aandag gebring sodat die probleem ondersoek en reggestel kan word.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Wat-ek-lees ·

Nog ‘n geëlektrifiseerde heining aan die toeris se kant behoort die sakie op te los.
Hierdie heining behoort in alle tale verstaanbaar te wees . . .

Karolis ·

Ek stem saam.
Maroela plaas nie net dubbel nie, hulle sien ook dubbel en dan haal hulle my kommentaar af.

Vicus ·

Nou hoekom hardloop julle polisie toe. Het die tier dan n misdaad begaan? Ai tog?

charlene ·

WTF. Jammer Maroela maar hoe word die pa kwaad omdat niemand Frans kan praat nie??? dis net so goed ek gaan Hawaii toe en raak kwaad omdat niemand Afrikaan kan praat nie. Dis omdat hulle dink ons diere is mak! Hulle moet mos bietjie na gelees en oor die maklike Eng woord soos “NO, DON’T, MOVE…..
Dis baie jammer vir die seun maar dis die pa se skuld, dis seker maar wreed om so te sê maar die kom alles op die pa af. Of wag hier is `n krokedil kom ons vryf sy koppie….

Theresa B ·

Ek stem Simonè. Hierdie oorsese besoekers het ‘n wanindruk van ons land en kom probeer hulle altyd slim hou hier. Daardie pa was onverantwoordelik. Ek hoop regtig nie die Tier word nou weer iets aangedoen nie. Sodra die kind herstel het en van so aard is dat hy kan vlieg – stuur hom en sy pa terug waar hulle vandaan kom.

m ·

Laat dit nou les wees, moenie te naby aan die draad staan nie. Moenie die arme dier blameer nie. Mense kan tog so onnosel wees.!!!!

lilipit ·

Jong die oorsese gaste dink inderdaad hierdie is Disneyland! Ons was op ‘n wildsrit in ‘n groot-5 reservaat waar die amerikaners gedink het dit is in orde om na die kameelperde te stap en te kyk hoe na jy kan kom… ek dink nie hulle het ‘n idee nie! En dan rol oom ollie jou kar en hulle wonder nou hoekom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.