Tieraanval in PE ondersoek

Een van die tiere by die Seaview-roofdierpark in Port Elizabeth. (Foto: Seaview Predator Park/Facebook)

Die Oos-Kaapse regering gaan die voorval ondersoek waarin David Solomon, ʼn werknemer van ʼn roofdierpark in Gqeberha (Port Elizabeth), die afgelope week deur ʼn tier aangeval is. Die uitkoms van die ondersoek sal bepaal of die tier uitgesit moet word of nie.

Maroela Media het Donderdag berig Solomon, ʼn werker by die Seaview-roofdierpark net buite Gqeberha, is dood toe ʼn Siberiese tier hom Woensdagmiddag aangeval het.

Luidens ʼn verklaring van die park was die elektriese heining van die kamp waar die tiere Jasper en Jade aangehou word, besig om herstelwerk te ondergaan toe Jasper oor ʼn buiteheining gespring en ontsnap het.

Die Oos-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme het Saterdag bevestig dat hulle die saak ondersoek.

Volgens die departement het die park wel die nodige permitte gehad om die tiere aan te hou en het die park ook aan al die nodige vereistes vir omheining van die diere voldoen.

Die park was in April ook in die nuus toe ʼn bruin hiëna deur personeel van die park doodgeskiet is, nadat die dier op een van die werknemers afgestorm het. Die departement het Saterdag gesê hy het sy ondersoek na dié voorval afgehandel en bevind dat die park uit selfverdediging opgetree en al die regte stappe gedoen het in sy hantering van die betrokke voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

andre ·

Die tier uitsit? Waarom? Dis n wilde dier, hy het net gedoen wat wilde diere doen. Die park se eienaars was nalatig, sit hulle eerder uit. Nog beter, laat die diere vry in die natuur, waar hulle hoort. As mense wilde diere wil sien, kan hulle na reservate toe gaan soos bv. KNP.

Eugene ·

Klink vir my die tier gaan betaal vir die park se agterlosigheid

Pieter ·

Siberiese tiere is bedreig en skaars. Laat die dier vry in die natuur, wat sy reg is. Die mens vernietig eers die habitat en dan die spesie. Om so ‘n dier van kant te maak is verkeerd en wreed. In so ‘n geval is dit beter dat die plek gesluit word, lyk my die diere raak beangs en wild van die inperking. ‘ n Bruin hiëna is nie aggressief nie, het op my plaas. Dit sal slegs aanval indien vasgedruk, mishandel en wangevoed. Die mens weet net nie om rentmeester te wees nie.

Linx ·

Dis vir my altyd snaaks as mense n bohaai maak as n haai iemand aangeval het in die see,ds ni asof j TV gekyk het en d haai ingestap het en jo aangeval het in jou huis nie,ds dalk van die punt af maar soos iemand genoem het,Los die Wilde diere in die wild,jammer vir David wie met sy lewe moes betaal maar Wilde diere hoort in hul eie habitat,n tier is n karnivoor hy gan ni skielik n herbivoor raak omdat hy in gehok wrd nie,laat hy vry hardloop.

Persheks Adri ·

Nee hy moet nie uitgesit word nie dis in sy natuur! Net so goed jy probeer ‘n tier of leeu mak maak. Gaan nie werk nie.

Gert ·

Die tier jag, hy vang, hy eet, herhaal. Dis in sy gene en gaan nie verander omdat dit vir die mens ongerieflik is nie. Hy doen waarvoor hy gebou is. Mense raak mak en as hulle seerkry of doodgaan is dit die dier se skuld.

DIABLO ·

Loop ondersoek plaasmoorde! Dis n wilde dier wat in n kamp moet bly. Hy het uitgekom, omdat daar n wyfie in n ander kamp was. Hy het gedoen wat enige normale wilde dier sou doen. Ek is jammer vir die persoon wat dood is. Regtig. Maar om n ondersoek te doen omdat n wilde dier slegs sy natuur uitgeleef het, is belaglik. Om hom dan van kant te maak is ook belaglik. As julle wilde diere in kampe wil sit, moet julle weet watter gevare dit inhou en daarmee kan werk. Die speelveld is nie gelyk in hierdie geval nie.

Anoniem ·

Genade tog, die arme dier. Wanneer sal daar geleer word dat ‘n wilde dier nooit heeltemal mak word nie. Sy natuurlike instikte bly en een of ander tyd gaan dit uitkom. Waarom die arme dier nou van kan t wil maak. Ja dit is jammer oor die persoon wat sy lewe verloor het, maar die tier het nie gevra om opgesluit te wees in ‘n hok/dieretuin nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.