Tiere van roofdierpark na ‘veilige’ hawe

Die reuseoperasie om die diere te verskuif moes blitsig aanmekaargesit word. (Foto: Four Paws)

Twee Siberiese tiere van die Seaview-roofdierpark buite Port Elizabeth is tydens ʼn “noodreddingsoperasie” van dié park na ʼn veilige hawe in die Vrystaat verskuif.

Die twee tiere, Jasper en sy sussie Jade – albei agt jaar oud – is vandeesweek inderhaas met die hulp van die organisasies Four Paws en die Aspinall-stigting na die Lionsrock Big Cat Sanctuary, naby Bethlehem, verskuif.

Maroela Media het vroeër berig David Solomon is dood toe Jasper oor ʼn heining gespring en die werker beetgekry het. Jasper het daarna oor nog ʼn heining gespring waar hy ʼn ander tiermannetjie doodgemaak het om by ʼn tierwyfie uit te kom. Die elektriese heining van Jasper se kamp was tydens die voorval weens herstelwerk buite werking.

Luidens ʼn verklaring van Four Paws is Jasper daarna in ʼn klein aanhoudingsfasiliteit by die park gehou terwyl die situasie in bedwang gebring is. Die park het die Aspinall-stigting daarna gekontak en gevra vir hulp om ʼn nuwe tuiste vir Jasper te vind, nadat sy veiligheid nie meer gewaarborg kon word nie.

Betogers by die park het die afgelope week geëis dat die tier wat vir Solomon se dood verantwoordelik was, van kant gemaak word.

Die tiere kom by hul veilige nuwe tuiste in die Vrystaat aan. (Foto: Four Paws)

By Lionsrock, wat deur Four Paws bestuur word, is ʼn nuwe, veilige en permanente tuiste egter dadelik vir Jasper gevind.

“Lionsrock is ʼn veilige hawe van wêreldgehalte waar teel, jag en handel van enige aard, asook enige diere-interaksies, verbied word. Lionsrock bied ʼn spesiegepaste, lewenslange tuiste vir groot katte wat gered is uit uitbuitende en onveilige omstandighede wêreldwyd.”

Daar is besluit dat Jade, Jasper se suster, ook aan die fasiliteit oorhandig sal word omdat hulle hul hele lewe lank bymekaar was.

ʼn Plaaslike veearts het Jasper Sondag vir ernstige ontwatering weens sy aanhouding en trauma behandel. Hy is ook vir ligte beserings behandel en het ʼn volledige ondersoek ondergaan om te verseker hy is sterk genoeg om te reis.

ʼn Permit moes onder meer bekom word om die tiere te verskuif en kratte en voertuie moes inderhaas voorberei word om hulle te vervoer. Daar is ook deurentyd verseker dat aan alle wetlike bepalings voldoen word.

ʼn Veearts het albei diere voor die tog na die binneland verdoof en hulle is in pasgemaakte kratte op twee voertuie na hul nuwe tuiste by Lionsrock geneem. Hulle het Woensdag daar aangekom.

Jasper en Jade na hul aankoms by Lionsrock. (Foto: Four Paws)

Albei tiere vaar goed en pas uitstekend aan in hul nuwe omgewing.

“Hierdie was ʼn kritieke en ingewikkelde operasie om binne ʼn beperkte tyd te voltooi en enige verdere risiko vir die personeel of diere te verhoed,” sê Dereck Milburn, streeksdirekteur van die Aspinall-stigting.

“Ons is uiters dankbaar dat die tiere gesond is en ʼn tweede kans by ʼn etiese nuwe tuiste kry. In talle aanhoudingsfasiliteite word diere bloot gesien as voorwerpe. Mag Jasper en Jade wys dat hierdie wesens met gevoel is en dat hulle só behandel behoort te word.”

Fiona Miles, direkteur van Four Paws in Suid-Afrika, sê ongelukkig is daar talle ander tiere in Suid-Afrika waarvan die toekoms nié so hoopvol is nie.

Tiere is nie inheems aan Suid-Afrika nie en Miles sê hulle word in Suid-Afrika in private aanhouding uitgebuit en vir kommersiële doeleindes en die toerismebedryf geteel. Die tiere word egter nie deur wetgewing beskerm nie, sê Miles.

“Hoewel die land onlangs ʼn mylpaalbesluit geneem het dat hy nie meer die teel van leeus in aanhouding vir kommersiële doeleindes gaan toelaat nie, word tiere van dié beskerming uitgesluit.

Gesond en veilig by Lionsrock. (Foto: Four Paws)

“Ons glo daar word sowat 1 500 tiere in wrede toestande landwyd aangehou wat gaan aanhou ly as die situasie nie aandag kry nie.”

Miles sê die tiere word geteel om toeriste te lok, gevryf en met bottels gevoer te word terwyl hulle nog welpies is. As jong diere word hulle ingespan vir fotosessies voordat hulle doodgemaak en hul liggaamsdele in die onwettige internasionale handel beland.

“Ons doen dus ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse regering om tiere in die verbod op teel in aanhouding in te sluit, omdat dié diere bloot die fokus gaan word en meer van hierdie voorvalle gaan plaasvind,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Tiptol ·

Hierdie is wonderlike nuus. Hoop al die groot katte in aanhouding kry ‘n beter toekoms.

Regtigegtig ·

As dit my man of pa was wat gesterf het sou ek ook wou he hulle moet die tier skiet. Ongelukkig is alles behalwe mense lewens altyd belankriker vir mense. Raak baie hartseer as ek dink hoe hierdie man se arme familie moet voel.

Boon ·

Sulke ongelkke is deel van die aarde bestaan. Niemand was nalatig nie. Dis n verwronge idee dat iets ( die tier) moet boete doen vir sy onskuldige natuurlike daad.

Anel ·

Die misdadiger word nou voor gehou as die slagoffer, soos alles maar in hierdie land. Hoekom het hy in die eerste plek oor die draad geklim na die tier? Geen simpatie meer vir misdadigers nie. Die een get gekry wat hom toekom. Baie bly vir hierdie twee tiers dat hulle nou veilig is.

Hendrik Marthinus ·

Anel
Jy het dalk nie verlede week se berig gelees nie.
Die oorledene het oor die 10 jr by die park gewerk.
Hy het niks verkeerd gedoen nie, die tier het uit n Kamp uitgekom want herstel werk was gedoen.
Toe Val hy die Arme man aan, die man het probeer wegkom deur oor heining te probeer klim, maar die tier het hom beet gekry en hy is dood.
Glo Sy nek gebreek en bytmerke op gedoen.

Cherokee ·

In die koerant wat ek gelees het Anel, word vertel dat die tier oor die draad geklim het na ‘n werker. Een van die reservaat se personeel.

Elinette ·

Hy was ‘n WERKER by die diere park. Nie ‘n misdadiger nie.

Cherokee ·

Vir albei die tiere. Dit was goed gedink/beplan om boetie en sussie bymekaar te hou.

Eugene ·

Goeie nuus vir die tiere nou moet die betogers net uitgesit word

Elinette ·

Ek weet van baie ander wat ook verdien om “uitgesit” te word.

Sandra ·

So bly vir die 2 tiere. Voel net vreeslik jammer vir Amber, wat nou allenig is by die park. Ek wens hulle wil haar ook vat.

Boon ·

Hoop wetgewing word verander om alle diere in te sluit by beskerming teen wrede uitbuiting. Die HELE skepping is heilig, nie net die mens nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.