Tikprobleem op platteland blootgelê

(Argieffoto: Maroela Media)

Tikverslawing op die Wes-Kaapse platteland kry stadig maar seker die oorhand oor maatskaplike werkers en baie van dié mense voel uitgelewer weens ʼn gebrek aan kennis, mannekrag en infrastruktuur.

Maatskaplike werkers doen daagliks hul bes om volwassenes met ʼn metamfetamien-afhanklikheid, of sogenaamde tikverslaafde, op die regte pad te help. Hul pogings word egter voortdurend deur verskeie uitdagings in die wiele gery. Die dwelmprobleem kring boonop wyer uit en veroorsaak ander maatskaplike probleme, soos verwaarlosing.

Dr. Hannelie Krige, wat onlangs haar doktorsgraad in maatskaplike werk aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het, sê slegs ʼn handjievol maatskaplike werkers moet daagliks talle tikverslawingsgevalle in Oudtshoorn, De Rust en Dysselsdorp probeer bestuur.

Boonop is daar ʼn gebrek aan die nodige kennis, vaardighede en infrastruktuur om hierdie oënskynlike krisis doeltreffend aan te pak.

Krige, wat self ʼn maatskaplike werker in Oudtshoorn is, het in 2020 navorsing oor maatskaplike uitdagings gedoen waarin sy verskeie onderhoude en fokusgroepsessies met van hierdie maatskaplike werkers gehou het.

Dit het aan die lig gebring dat 94 van die 98 maatskaplike uitdagings wat in dié gebiede geïdentifiseer is, verband hou met tikverslawing.

Mense tussen 20 en 30 jaar oud is ook veral vatbaar vir só ʼn verslawing.

“Die werkloosheidsyfer op die platteland is uiters hoog, daarom gebruik jong volwassenes hierdie dwelmmiddel om van hul situasie te vergeet,” sê sy.

“In baie gevalle word kinders weens die verslawing verwaarloos of die ouers van die verslaafde kinders word geterroriseer.”

Krige sê sy het gereeld gesien hoe tik nie net individue, gesinne en gemeenskappe in die platteland verwoes nie, maar ook ʼn negatiewe uitwerking op maatskaplike werkers het.

“Maatskaplike werkers voel bedreig deur die optrede van tikverslaafde volwassenes en uitgebrand weens die gebrek aan infrastruktuur, personeel, die nodige kennis en vaardighede asook die hoë gevalleladings.

“Die aanvraag in dienslewering vir volwassenes wat aan tik verslaaf is, is baie hoër as die dienste wat tans aangebied word,” sê sy.

“Daar is nie genoeg sielkundiges en gesondheidswerkers om in ʼn multidissiplinêre span dienste aan die verslaafdes te lewer nie. Die samewerking tussen en koördinering van hierdie dienste is ook onvoldoende.”

Krige voeg by dat die staat en nie-regeringsorganisasies van maatskaplike werkers verwag om met al hierdie uitdagings steeds ʼn doeltreffende diens te lewer.

“Dit alles dra daartoe by dat baie maatskaplike werkers die beroep verlaat en die diens aan tikverslaafdes, hul gesinne en die gemeenskap gevolglik skipbreuk ly.”

Hulp dringend nodig

Krige sê maatskaplike werkers moet met vaardighede vir traumaberading toegerus word om psigososiale ondersteuning aan tikverslaafdes te bied.

“Opleiding en voortgesette professionele ontwikkeling is nodig om spesifieke vaardighede te ontwikkel om middelgebruikstoornis te kan identifiseer en ʼn doeltreffende behandelingsprogram aan te bied. Die uitbreiding van maatskaplike werkers se kennis en vaardighede sal hulle bemagtig om ʼn doeltreffender diens te lewer.”

ʼn Holistiese benadering is ook nodig. Krige meen plaaslike dwelmaksiekomitees behoort versterk te word deur rolspelers soos regerings- en nieregeringsinstansies, die privaat sektor, munisipaliteite en kerke ten einde hul hulpbronne en infrastruktuur uit te brei.

“Die doeltreffende bestuur van maatskaplike werkers se werkladings en beter finansiering sal hulle ook help om doeltreffender dienste te lewer aan volwassenes wat aan tik verslaaf is.”

Terselfdertyd sal ʼn multidissiplinêre span van onder andere sielkundiges en dokters ook groot waarde tot maatskaplike werkers se inisiatiewe byvoeg.

“Almal moet saamwerk, want in hierdie stadium werk maatskaplike werkers dikwels reaktief eerder as proaktief.

“Daar moet gedurig vure doodgeslaan word en maatskaplike werkers sal nooit die stryd wen as dit so aangaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.