Timol-saak: Rodrigues na appèlhof

Joao Rodrigues vroeër in die Johannesburgse hooggeregshof. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Joao “Jan” Rodrigues (80), die voormalige veiligheidspolisielid wat vervolg word in verband met die dood van die apartheidsaktivis Ahmed Timol, wend hom nou tot die appèlhof in ʼn hernieude poging om sy vervolging permanent te laat staak.

Die hooggeregshof in Johannesburg het vroeër beslis Rodrigues moet op 12 Desember vanjaar in die beskuldigdebank inskuif vir die moord op Timol – wat sowat 47 jaar gelede plaasgevind het.

Timol was 29 jaar oud toe hy in Oktober 1971 in Johannesburg in hegtenis geneem en by die destydse John Vorster-plein-polisiestasie (deesdae die Johannesburg-Sentraal-polisiestasie) aangehou is. Hy is vier dae later dood.

Rodrigues is die laaste persoon wat Timol lewend gesien het. Sy getuienis was die kern van die ondersoek in 1972 wat bevind het Timol het sy eie lewe geneem toe hy van die tiende verdieping van die John Vorster-pleingebou in Johannesburg gespring het.

Timol se familie het egter geweier om dié verduideliking vir sy dood te aanvaar en die uitspraak is in Oktober 2017 deur ʼn hof omgekeer ná ʼn lang veldtog deur sy familie. Daar is toe bevind dat hy vermoor is. Rodrigues is in Julie verlede jaar van die moord aangekla.

Rodrigues se aanvanklike poging om sy vervolging permanent te laat staak, het daarna misluk. Hy het teen die beslissing geappelleer, maar ook dié aansoek is van die hand gewys.

Hy vra nou die appèlhof in Bloemfontein om die besluit te herroep.

In sy hofstukke voer Rodrigues onder meer aan die beweerde misdade is deur polisielede in die apartheidsera gepleeg om die destydse regering aan bewind te hou. Die hof het reeds gehoor dat nóg ʼn besluit geneem is om ʼn geregtelike doodsondersoek in ʼn afsonderlike saak te heropen en dat dit belangrik is dat dieselfde kwessies wat Rodrigues aanraak, vir moontlike toekomstige sake uitgestryk moet word.

“Al die beweerde oortredings is ʼn geruime tyd gelede, meestal in die 1970’s en 1980’s, gepleeg. Die oortredings is gepleeg in verskillende Suid-Afrikaanse provinsies en gaan onder die jurisdiksie van verskillende howe val. Daar is dus ʼn waarskynlikheid, of ʼn werklike moontlikheid, dat verskillende howe teenstrydige uitsprake oor die kwessie kan lewer,” voer Rodrigues in sy hofstukke aan.

Hy sê voorts amnestie is toegestaan aan oortreders of beweerde oortreders wat misdade van ʼn politieke aard gepleeg het en dat daar ʼn ooreenkoms met die owerhede was dat betrokkenes nie vir politieke oortredings vervolg sal word nie.

Rodrigues sê in sy hofstukke die respondente het aanvanklik boonop belangrike feite van die hof weerhou en dat daar vermoedelik stééds sekere inligting teruggehou word.

Rodrigues was destyds ʼn administratiewe klerk by die veiligheidstak van die polisie by sy hoofkantoor in Pretoria.

Hy sê hy was nie deel van enige ondersoekeenhede van dié eenheid nie en dat hy ook nie deelgeneem het aan hul ondervragings of ondersoeke nie.

Hy ontken ook dat hy enigsins betrokke was by Timol se ondervraging en beweerde marteling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
legens

Vat jou pak soos `n man , Jan . Dit is nou tyd vir genoegdoening . Kom uit met die waarheid ,daar is `n familie wat die gebeure wil afsluit . As jy nie die mens uit die venster gegooi het nie , dan het jy mos niks te vrees nie is jy da nou Zuma 2 ?

Kolonel

Dit is belaglik om hom aan die pen te laat ry. Timol se dood, indien hy uit die venster gestamp is, kom van hoër beval af. Ondervra liewer oud polisie-generaals en politieke hoofde. Los hierdie man uit, dit is nog erger dat hy alleen aangekla word met sy Portugese van. Xenofobia.

Vlieg teen muur

Die probleem is daar is net een getuie en dit is die aangeklaagde.

‘n Regter het reeds een keer Mnr Rodriques se weergawe verwerp en ‘n eie storie geskep en geglo. Watse geregtigheid is daar? So as hy nie die persoon uit die venster gegooi het nie, het hy steeds baie om voor bang te wees itv reg en geregtigheid. Hof het dit reeds een keer bewys.

Michael P

O genade dit is lank terug Ek was 1976 op die grens as die lot moet weet wat daar aangegaan het sit ons ook op n streep in die hof Is daar nie meer beter goed om te doen nie.Dit is so belaglik.Hrt McBride nie n erger daad gepleeg nie.

Hans

Wanneer gaan dieselfde aandag aan dade in die strafkampe in Tanzanië,Zambië en Angola gegee word?