TIMSS 2019-resultate toon noodsaak van moedertaalonderrig

Argieffoto (Foto: Annie Spratt/Unsplash)

AfriForum het met kommer kennis geneem van die resultate van die Trends in International Mathematics and Science Study (TIMSS) van 2019 wat Dinsdag bekend gemaak is. Daarvolgens is die standaard van leerders in graad 5 en 9 in wiskunde en wetenskap steeds van die heel swakste in die wêreld.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, kan baie redes vir die wanprestasie aangevoer word, maar is een van die vernaamste probleme die gebrek aan moedertaalonderrig in die land. “Veral in vakke soos wetenskap en wiskunde, waar leerders abstrakte begrippe moet bemeester, is dit noodsaaklik dat hulle vir so lank as moontlik in hulle moedertaal studeer om werklik te bemeester wat hulle leer. In ander vakke kan hulle dikwels lank wegkom daarmee om werk bloot te memoriseer, maar in wiskunde en wetenskap word die gebrek aan begrip al vroeg duidelik.”

Bailey noem dat Afrikaanse enkel-, dubbel- en parallelmediumskole van oor die land tans weer by AfriForum om hulp aanklop, aangesien provinsiale onderwysowerhede meedoënloos druk op hulle uitoefen om onderskeidelik ruimte vir Engelse leerders te skep, of meer Engelse leerders in te neem.

Internasionaal is bewys dat wanneer onderrig in twee tale binne een inrigting aangebied word, hetsy met parallel- of dubbelmediumonderrig, die dominante taal uiteindelik die enigste onderrigtaal word. Dit gebeur vinniger in dubbelmediumskole, omdat die aanhoudende herhaling die leerders en onderwysers uitput. In parallelmediumskole neem dit langer, maar die uiteinde is gewoonlik dat teruggeval word na enkeltalige onderrig in die dominante taal, wat in die geval van Suid-Afrika Engels is.

Bailey voeg by dat die stelselmatige uitfasering van Afrikaanse onderrig slegte nuus vir alle Suid-Afrikaners is. “Volgens die 2011-sensus is minder as 10% van die land se inwoners moedertaalsprekers van Engels. Wanneer ’n taal wat reeds sterk in onderrig gevestig is, soos Afrikaans, onder druk van Engels swig, beteken dit dat die kans vir die ander nege amptelike tale om verder te ontwikkel, toenemend afneem. Uitslae soos dié van TIMSS 2019 bewys wat die uitkoms is – jongmense wat al minder indiensneembaar is wanneer hulle hul skoolloopbane voltooi, wat weer tot ernstige vaardigheidstekorte en ekonomiese inkrimping lei.”

AfriForum moedig dus alle ouers aan om sterk standpunt ten gunste van moedertaalonderrig in te neem en gaan voort om op te tree om leerders se reg daarop te beskerm, sluit Bailey af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Mense in die res van die wereld studeer en presteer in hul moedertaal, maar Afrika wil die poor-me-perdjie ry vir as-ekkie-sukkel-met-jul-vreemde-dog-nie-so-gesofistikeerd-soos-ons-eie-taal-voor-1652-te-boek-gestel-en-toe-mos-deur-wrede-setlaars-jy=weet=wie-vernietig-is, mòet-ekkie-mos voorgetrek-word.

DieKriek ·

Stenig my nou maar, maar ek is nie in my moedertaal opgevoed nie en het besonders goed gedoen. Ek het n wyer uitkyk op die wereld en my opvoedingstaal kan feitlik enige plek ter wereld gebruik word.

Wat gaan n kindjie wat in Sotho opgevoed is doen met al die geleerdheid as net n handjievol mense hom/haar kan verstaan? En gaan die kind toegang hê tot navorsing in sy/ haar moedertaal?

Jan ·

Jy is een uit ‘n miljoen. Gaan saam met die statistieke. You’re missing the point completely. Ek kon Engels praat voor ek Afrikaans kon praat want my maatjies was Engels. Tog was dit baie beter vir my om in Afrikaans skool te gaan al het ek op 10 jaar oud begin Engelse boeke lees soos Moby Dick , Treasure Island en Mutiny on the Bounty. As die grongslag in Afrikaans eers geleg is, is dit baie maklik om na Engelse begrippe om te skakel.

Heksie ·

Dit gaan nie net oor die inhoud wat geleer word nie maar hoe dit verstaan word. Die brein ontwikkel deur die dink en redenasie proses. Dit is net soveel makliker as taal nie ook n faktor is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.