Titelakte nou uiteindelik huurderboer s’n

Die DA se Anette Steyn (middel) saam met David Rakgase (regs) (Foto verskaf deur die DA)

David Rakgase se 18 jaar lange stryd om die titelakte te bekom van sy Nooitgedacht-plaas in Limpopo het tot ʼn einde gekom toe die regering uiteindelik toegegee en die titelakte in sy naam oorgedra het.

“Die DA is verheug dat Rakgase nou volle eienaarskap het van sy plaas en nie meer gebonde is aan die onsekerheid van korttermynhuur nie,” het Annette Steyn, die DA se skaduminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, in ʼn verklaring gesê.

Steyn het Sondag by Rakgase en sy gesin op die plaas aangesluit om die mylpaal te vier. “Hy het sy dankbaarheid betuig aan die DA dat ons hom in die stryd bygestaan het en seker te maak die regering voldoen aan sy belofte om die Nooitgedacht-plaas aan hom te verkoop.”

Die regering het ingestem om die ooreenkoms wat reeds in 2002 aangegaan is, te eerbiedig, het Steyn verduidelik. Die DA stap al sowat ses jaar lank ʼn pad met Rakgase om hom te help om die plaas waarop hy boer ook te besit.

Rakgase het in 1991 ʼn huurooreenkoms van 30 jaar vir die plaas Nooitgedacht met die regering aangegaan en was sedertdien só suksesvol dat die boerdery gebruik word om ander opkomende swart boere op te lei.

Anette Steyn en David Rakgase (Foto verskaf deur die DA)

In 2002 het hy die opsie gekry om die plaas onder ʼn nou opgeskorte landbou-ontwikkelingsprogram te koop, maar sedertdien was daar ʼn nimmereindigende toutrekkery oor die kooptransaksie.

Verlede jaar het die hooggeregshof in Pretoria egter bevind die departement moet die plaas van sowat 3 000 ha aan Rakgase verkoop. Hy het die hof noodgedwonge genader nadat dit aan die lig gekom het dat die regering nie meer die grond wil verkoop nie, maar hom eerder ʼn verdere 30 jaar-huurooreenkoms aangebied het.

In die waterskeidingsaak het die hof egter in sy guns beslis en beveel die regering moet die plaas aan Rakgase verkoop volgens die bepalings en voorwaardes – en die bedrag – wat van toepassing sou wees as die plaas in 2003 aan hom verkoop sou geword het.

Daarna het die departement ingestem om die helfte van die plaas aan Rakgase te verkoop. Nog later het die staat gesê hy sal die hele plaas verkoop, maar toe teen ʼn astronomiese bedrag.

Die koopkontrak, ingevolge waarvan Rakgase die grond vir R621 000 [die prys wat in 2002 vasgestel is] by die staat kan koop, is onderteken en die titelakte is nou oorgedra.

Die DA sê hy help steeds ander boere wat hulle in soortgelyke penaries bevind.

“Die ANC-regering gaan voort om grondonteiening sonder vergoeding valslik voor te hou as ʼn manier om ontluikende boere te bemagtig. Dit gaan die probleem met sy mislukte grondhervormingsproses vererger, nie verbeter nie,” het sy gesê.

“Die ware hindernisse vir grondhervorming sluit in ʼn hopeloos onbekwame departement, ongebreidelde korrupsie, onderduimsheid en ʼn Marxistiese weersin in eiendomsreg vir individue.”

Steyn sê as die regering ernstig oor grondhervorming was, sou hy Rakgase bemagtig en ondersteun het, pleks daarvan om elke moontlike versperring in sy pad te plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Janneman ·

Kan ek ook asseblief grond kry tee omtrent R207 per hektaar?

John ·

Mooi man! Dit kos ‘n witmens om te help dat reg kan geskied. Lekker boer daar doer !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.