Tito Mboweni: ‘Julle gaan spyt wees Afrikaans is weg by Tuks’

Tito Mboweni se twiet. (Skermskoot)

Tito Mboweni, minister van finansies, het Donderdag gesê hy is gekant teen die Universiteit van Pretoria (UP) se besluit om Afrikaans as onderrigtaal by dié instansie uit te faseer.

Mboweni het behoorlik sy kop in ʼn byenes gedruk deur te twiet: “Ek stem openlik, en in my persoonlike hoedanigheid, nie saam met die uitfasering van Afrikaans as een van die tale van onderrig by die Universiteit van Pretoria nie. As ʼn land, skiet julle julself in die voet. Julle sal oor 30 jaar hieroor spyt wees,” het hy getwiet.

Sommige sosialemediagebruikers het Mboweni geloof vir sy siening, maar hy het hom grootliks kritiek op die hals gehaal. Een van die kritici was EFF-leier Julius Malema wat geantwoord het: “Maar jy word nou te veel, dit is nie meer snaaks nie.”

Verskeie mense het na Hector Pieterson (12) verwys en gesê dié seun het nie gesterf vir Afrikaans as onderrigtaal by Suid-Afrika se onderriginstellings nie. Hector is in 1976 deur die polisie doodgeskiet tydens gewelddadige jeugopstande teen Afrikaans in skole. ʼn Foto deur Sam Nzima van die sterwende Hector in die arms van een van sy skoolmaats het ʼn ikoniese foto geword wat oor die hele wêreld bekend geraak het.

Die taalbeleid van die UP het vandeesweek weer onder die vergrootglas gekom nadat AfriForum ʼn mediaverklaring uitgereik het waarin die organisasie sê hy veroordeel ten sterkste die aankondiging van die UP se nuwe visekanselier, Tawana Kupe, dat die universiteit van vanjaar af net in Engels sal funksioneer.

Rikus Delport, die universiteit se woordvoerder, het egter teruggekap en gesê AfriForum praat “snert”. Hy het verduidelik dat Engels van vanjaar af die taal van onderrig en studie in alle eerstejaarprogramme word, maar dat studente wat reeds by die universiteit ingeskryf is die geleentheid kry om hul onderskeie studies in Afrikaans klaar te maak.

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Shayne Robinson/SAPA

Tukkies se raad het reeds in Junie 2016 ʼn nuwe taalbeleid aanvaar ingevolge waarvan Engels die primêre onderrigtaal word. Ook is besluit dat Afrikaans as onderrigtaal geleidelik uitgefaseer word.

Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir taalkwessies, sê dat die UP aanvoer hy wil meertaligheid en sosiale kohesie bevorder, maar dit lyk asof die bestuur nie die woord “meertalig” verstaan nie. “As studente op die kampus, in onderriglokale en selfs in studentebehuising slegs een taal – naamlik die koloniale taal Engels – gebruik, is daar van eentaligheid sprake, nie van meertaligheid nie, want daar is immers geen ruimte vir meer tale in die formele universiteitsomgewing nie,” sê Bailey.

Sy het daarop gewys dat die UP graag noem dat die aantal moedertaalsprekers van Afrikaans aan die universiteit afgeneem het, maar vra hoeveel van die UP se studente se moedertaal Engels is. “[Dit] teenoor die sprekers van ander moedertale wat nou in hul tweede, derde of selfs vierde spreektaal onderrig word,” sê sy.

Bailey sê die UP verwys na geen plan om in die toekoms enige ander taal tot gelyke status as Engels te bevorder nie; dus is daar geen verbintenis tot moedertaalonderrig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

85 Kommentare

jongste oudste gewildste
JL

Ag komtog oor die Hector seun wat betoog het. Daar word 1000de vermoord, maar jul maak n held van n rioter af.

Lourens

Kom akedemia!!!! Hulle maak vir julle n reuse mark oop.

leser

dankie mboweni
“ek sal lewe, ek sal sterwe, vir my afrikaanse ” SUID AFRIKA”

Charles

Mnr Tito Mboweni, dankie, jy slaan die spyker op sy kop, lank lewe ons dierbare taal Afrikaans!

Afrikaner

Watter taal word by die Universiteit van die Noorde gebruik? Hierdie is ‘n absolute haat vir die Afrikaner en sy taal wat vernietig moet word omdat dit volgens die regering rassisme en apartheid verteenwoordig. Hoe maak ENGELS enigiets reg? Daar word nou meer skole uitgebrand as die paar wat in die apartheidsjare gebrand het JUIS OOR AFRIKAANS. Enkele skole is oor Afrikaans verbrand, duisende ander sommer net omdat mense vandale en vernielsugtig is. DIt is ‘n diep ingeborge HAAT vir die witman en Afrikaner wat beter as hulle presteer .. Ons kinders se handboeke was in elk geval alles in… Lees meer »