Tito se twiet oor Tukkies is in die kol, sê ATR

Skermgreep van Tito Mboweni se Twitterplasing

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) verwelkom die minister van finansies, Tito Mboweni, se Twitterkommentaar oor die afskaffing van Afrikaans by die Universiteit van Pretoria.

Die ATR het in ʼn verklaring gesê die Taalraad veroordeel insgelyks die uitrangering van Afrikaans as onderrigtaal aan die UP, want in effek lui dit die doodsklok vir alle ander Suid-Afrikaanse tale om tot onderrigtaalstatus uitgebou te word. “Dat hierdie besluit, ironies genoeg, deurgevoer word in die Verenigde Nasies se Internasionale Jaar van Inheemse Tale, strek die instelling bepaald nie tot eer nie.”

Ria Olivier, programbestuurder van die ATR, het gesê in der waarheid spreek die praktyk om die koloniale taal Engels as die primêre onderrig- en kommunikasietaal te gebruik, van ’n negering van die waarde van die inheemse tale en ’n onwilligheid om die veeltalige karakter van die Suid-Afrikaanse samelewing te verreken.

Hierteenoor staan die Taalraad se standpunt oor die waarde van die inheemse tale en oor ware meertaligheid soos vervat in ’n toespraak deur die ATR-voorsitter, Japie Gouws, in November 2018: “Tale is ’n belangrike bate op Suid-Afrika se balansstaat. Ons moet hierdie bate gebruik tot voordeel van alle sprekers, en die waarde van veeltaligheid ontsluit tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.”

Die organisasie se uitvoerende hoof, dr. Conrad Steenkamp, stem saam. “Indien taalaktivisme nie sterker onder die sprekers van ál die inheemse tale van Suid-Afrika posvat nie, sal hierdie tale aanhou om in domeine soos universiteite en skole grond te verloor en later te sneuwel. Die uiteenlopende reaksies op Mboweni se twiet maak hierdie eenvoudige realiteit baie duidelik.”

Slegs enkele mense wat op die twiet gereageer het, het begrip vir die groter prentjie en die waarde van die land se inheemse tale getoon. “Die meerderheid het steeds gepraat asof Afrikaans ’n wit taal is wat vir die verlede gestraf moet word en in die hede beperkte waarde het. Taal word steeds as ’n probleem beskou, en dis iets wat noodwendig lei tot die huidige uitputtingsoorlog oor taalregte.

“Dit is maklik om begrip te hê vir die wrok wat so baie onder ons – Afrikaanssprekendes ingesluit – steeds oor apartheid en die gevolge daarvan voel,” voeg Steenkamp by. “Tog getuig skerp negatiewe menings in hierdie konteks dikwels van onkunde oor die waarde van ons inheemse tale en die enorme skade wat ons sal ly indien ons voortgaan met die huidige neiging na ’n Engels-eentalige bestel.

“Volg ’n mens die beginsels van die VN se Internasionale Jaar van Inheemse Tale, is ’n algemene publieke kopskuif dringend nodig. Hiervolgens is taal ’n belangrike hulpbron, eerder as ’n probleem. Voorts kom die afgradering of verwaarlosing van inheemse tale neer op ’n vorm van sosiale, maatskaplike, kulturele, politieke en ekonomiese sabotasie.

“Sonder ’n opregte meertalige bestel en ’n langtermynprogram vir die ontwikkeling van die inheemse tale sal ware sosiale insluiting, geregtigheid en kohesie ʼn hersenskim bly. Meertaligheid en ontwikkeling van die inheemse tale is ’n voorvereiste vir die volle ontwikkeling van die land se mense, ’n volwaardige demokrasie en inklusiewe ekonomiese groei. Gooi ons taal weg, dan gooi ons mense weg.”

Die VN se Internasionale Jaar van Inheemse Tale dien as ’n teken dat die sprekers van inheemse tale moet begin saamstaan om gemeenskaplike doelwitte te bereik – iets wat die meeste Afrikaanse organisasies al besef het. Die afgelope paar jaar het skakeling tussen Afrikaanse organisasies en diegene wat die inheemse tale in verskeie domeine wil bevorder stadig toegeneem – ’n teken dat mense die waarde van vennootskappe begin insien.

In Februarie neem die ATR deel aan ’n inisiatief wat daarop mik om burgerlike organisasies wat inheemse tale bevorder saam te snoer. Net soos wat dit lank gevat het om te begin aandag gee aan die verdeling tussen Afrikaanssprekendes, sal dit waarskynlik ook lank vat om kwessies tussen Afrikaans en die ander inheemse tale van die land op te klaar. Maar ’n begin is reeds gemaak.

“Afrikaans staar enorme uitdagings in die gesig en dieselfde geld die ander inheemse tale. Die ATR meen dit sou fataal wees indien Afrikaanse organisasies beleef word as dat hulle ander op sleeptou probeer neem vir hulle eie gevegte. Kruisbestuiwing moet plaasvind, maar die saak van die inheemse tale kan nie via ’n Afrikaanse agenda bevorder word nie,” sê Steenkamp.

“Wat nodig is, is daadwerklike aksie wat die verlammende denke dat Afrikatale nooit as onderrig- en leertale in hoër onderwys benut sal word nie, gegee die ‘dominansie van Engels’, sal omkeer,” sê Olivier. “Dis denke wat gewoon dui op ’n onwilligheid om alle inheemse tale, maar veral die menslike kapitaal van alle Suid-Afrikaanse burgers, uit te bou – iets wat ons land kwalik kan bekostig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Elizabeth ·

As Afrikaner stuur ek dan liewer my kinders oorsee om in behoorlike Engels onderrig te ontvang. Dit sal my seuns dan ook ‘n beter kans bied om werk te kry. Die gevolg van UP se hardkoppigheid gaan wees dat betalende studente gaan uitfaseer, die regering gaan nie die geld hê om vir almal wat grade wil kry, te betaal nie, dosente se salarisse as gevolg van die regering se onvermoë om te betaal gaan veroorsaak dat hulle ook groener weivelde soek. Dit beteken dat standaarde gaan daal, ons kwalifikasies sal nie meer oral aanvaar word nie … uiteindelik gaan ons sit met ‘n klomp geboue waarin swak Engels gepraat word en afgestudeerdes die lewe instuur waar hulle van SASSA moet lewe … Wie het dalk die voorheen Afrikaanse universiteite bedink en gebou? Dink die regering ons kan dit nie weer doen nie?? (Dis nou dié van ons wat hier agterbly).

Ruiklont ·

Hierdie is voorspel toe De Klerk voor in die koor die mag met sy wigte en teëwigte oorgegee het. Alles dui daarop dat onderrig soos die res van Afrika sal word. Die enigste uitweg sal wees soos deur jou gestel. Stem 100% saam

Johann M van Heerden ·

Dankie mnr Mboweni! Sulke uitsprake gee my hoop vir die land. Ek dink ons grootste probleem is nie swart mense se teenstand nie, maar ons eie mense wat kruip. Ek kan die redenasie van mense soos Delport van Tuks en Prof de Villiers van US nie verstaan nie. Die probleem is dat beginsels nie geld nie. Net politiek. Daar is baie Engels medium universiteite in die land. Hoekom dan nie minstens drie universiteite wat ook (lw nie slegs) in Afrikaans klasgee nie. Tesisse en publikasies moet ook in Afrikaans geskryf word. Ons het Afrikaans tot op hoogste vlak ontwikkel en wetenskaplike terme ontwikkel vir Engelse en ander tale se terme. Hoekom het swart mense nooit die moeite gedoen om hul eie tale te ontwikkel nie. Is die haat vir Afrikaans jaloesie of ‘n minderwaardigheids gevoel. Ons Afrikaners is en was ook so. Na die Anglo boere-oorlog het Smuts en Botha in die kakies se bed geklim. Nou doen hulle nasate dieselfde. Skande!

Stephan ·

Dit is ‘n kombinasie tussen gierigheid, onbevoegdheid en jaloesie wat lei tot hierdie sinnelose besluite. Die anc se planne sal om daardie redes nie slaag nie. God sal voorsien.

Arina ·

Ons Afrikaanses en Afrikaners kan saamstaan ons ken van goed opbou, anders as die liberales wat net kan van vernietig kom ins steun Akademia en bou dit uit tot universiteit van wereld gehalte. Solank mens twee talig is, is om in Afrikaans te studeer geen struikelblok nie

Eddy ·

Ek was nie n Tito Mboweni ondersteuner nie.maar ek het nou groot respek vir die feit dat hy opkom vir Afrikaans al weet hy harde koppe soos Julius sal hom kruisig

Johanna Botha ·

Hoop UP is rooi in die gesig…is dit eier wat afdrup ?????

John ·

Swartes wil nie in hul eie tale onderrig word nie en die ANC por Engels aan om uitlanders die kans te gee om hier wortel te kan skiet. TUKS was ‘n Afrikaanse universiteit. Punt. Aanvaarding dat die sg ander so ongelukkig for ever and a day oor Afrikaans as rassistiese fenomeen is, ‘n goedkoop slogan van die insypelaars en oorvatters waarvan die voorlopers se voorsate self nie eens in SA gebore is nie. Selfs die rektor van UP het volgens berigte haar van verander om meer gereken te wees? En nogal na wat? Dis black comedy ten beste. Af van die akademiese map is die volgende toekenning wat die Vandale (en dit is belediging vir hulle) gaan tref… tienderangs agteruit… Wat gaan die nuwe naampie wees?

Anel ·

Sodra Engeland nie meer deel van die Europese unie is nie, gaan daar slegs Frans en Duits gepraat word. Daar word ook meer Frans in die Noordelike dele an Afrika gepraat as engels. So laat jou kinders Frans leer. Ons het in Frankryk gebly en gereeld deur die res van Europa getoer. Ons het met Afrikaans en Frans reg gekom. Nêrens met engels nie. Vir my is dit die taal van die onderdrukkers, moordenaars van my, as Afrikaanssprekende se voor ouers. Dis ook nie ‘n Afrikataal nie.

Elred Ferreira ·

Akedemia sal teen 2030 al Afrikaanse universiteit wees….en afrikaans sal gepraat en in skole wees hoofsaaklik slegs in plekke soos Orania en een of twee ander plekke….n paar duisend mense sal die taal laat behoue bly,die res sal verdwyn in n gesiglose massa van niks met geen identiteit,en maar saam die res derderangs aanvaar en word.

Chris ·

Ek stem saam met jou Johann. Hoe hard het ons voorsate baklei om Afrikaans regmatige bestaansreg in die land terug te kry nadat alles na die AB verander is na Engels in skole en algemene spreektaal. Nou word die afrikaanssprekendes verder onderdruk, gun nie ons kinders om in hul eie taal onderrig te ontvang nie. En die skokkendste is dat afrikaanssprekendes kruip en hul taal versaak. Die is ‘n absolute skande.

Frikkie Geld en huis ·

Selfs as jy Portugees magtig is, vorder jy baie makliker wêreldwyd as met Engels.

Vryheid! ·

Johan, jy stel n klomp skitterende punte wat baie mense in die hart ronddra en nie uitspreek nie.
My hoop lê egter in n eie land waar die Afrikaner vry kan wees.
Mnr. Mboweweni het met insig na die huidige handelinge gekyk en met baie meer visie as meeste van ons mede-Afrikaners

Willem ·

Daar is talle Afrikaanssprekende UP Raadslede, dosente en ander rolspelers wat aandadig was aan hierdie tragedie. Sommiges het dit aktief ondersteun, ander heimlik en dan is daar diegene met die houding van ons-kan-tog-nie-die-oorlog-wen-nie, so hoekom sal ons ons lewens op die spel plaas. ‘n Vry algemene houding van ouers en studente is dat opleiding in Engels die student beter sal toerus vir die werksplek en meer werksgeleenthede toeganklik sal maak. Die geldigheid van hierdie argument word weerspreek deur die massas oudstudente wat plaaslik en in die buiteland in alle beroepe sukses behaal en presteer het. Na my skooljare in ‘n Afrikaanse skool op ‘n plattelandse dorp het ek graadkursusse aan twee verskillende Afrikaanse universiteite voltooi in onderskeidelik die Natuurwetenskappe en Regte. My Afrikaanse universiteitsopleiding het op geen stadium enige onoorkomelike probleme in die twee uiteenlopende beroepsvelde waarin ek later gewerk het, opgelewer nie. Ek het telkens die waarheid ervaar van ‘n ou spreekwoord waarvoor my oupa , wat benewens Afrikaans en Engels ook Zoeloe vlot kon praat, baie lief was : ” Soveel tale soos jy kan, soveel male is jy man”. Dit is onteenseglik so dat die afskaling van meertaligheid na eentaligheid almal, insluitend die geringe 10% van die bevolking wat Engelssprekend is, armer maak. Dit is verstommend en oneerlik dat UP voorgee om veeltaligheid te wil bevorder en dan ‘n beleid van eentaligheid volg. Die Afrikaanssprekendes wat ‘n hand hierin gehad het behoort hulle koppe in skaamte te laat sak by die aanhoor van mnr Mboweni se woorde.

Therese van Schalkwyk ·

“Die ATR meen dit sou fataal wees … ” bla bla bla …

Dit is van suutjies trap hier en stadig tog oor die ou klippies daar dat die Afrikaanse taal in hierdie benarde posisie is.

Die lys van fatale flaters is te lank om op te noem. Die voorstel deur ‘n ‘kundige’ om Afrikaans, wat kwansuis “kreools” is te “herstandaardiseer”, is maar net een daarvan.
Daar bestaan nie ‘n Fransman of ‘n Duitser wat hul moedertaal so geringskat nie.

Ietwat laat in die dag om taalaktivisme nou aan te moedig, terwyl dit die afgelope 25 jaar as iets uit die bose beskou is.

Deon ·

Waar was die Afrikanerbond, Raportryers, ATKV en FAK? Dit is dalk ook te laat om nou oor grondonteiening te sanik.

Deon ·

Mense wat behep is met die belangrikheid van Engels in die sakewereld moet gaan Google oor wie gaan die wereldekonomie oorheers tussen vanaf 2030. Standard Chartered reken 7 van die Top 10 is van Asie. Die VSA is ook daar, maar in ‘n minder oorhersende rol. Britanje is nerens. So, ons moet eerder Mandaryns, Koreans en Japanees leer.

Koos Kotze ·

Hoekom wil ons so afhanklik van ‘n regering bly? As al die Afrikaans sprekendes eerder wil saamstaan en byvoorbeeld met “crowd funding” geld insamel, kan skole en universiteite met Afrikaans as voertaal. Daar kan met hoogstaande oorsese universiteite ooreenkomste gesluit word om hul curriculum te gebruik, en selfs hul vraestelle?

Ed ·

Thank you Tito and again thank you again. They must make you president

Snowflake ·

Ons taal word nie erken… dis hkm ons nooit erken sal word…

Karel ·

Mense, die wat glo dat om Engels te leer maak vir jou kinders beter kaanse oorsee moet wakker word. Ek bly in Duitsland, hier leer almal in Duits. Niemand kyk eers vir jou as hy durf Engels praat nie. Die Fraanse leer in Fraans, Italianers in Italians en ek kan so aan gaan. Die Afrikaners moet besef dit gaan nie oor Engels as medium te druk nie maar om Afrikaans te onderdruk. Ek kan nie dink dat die akademici so slapgat geword het nie. Dit was juis akademici wat Afrikaans gebou het tot ´n onderrig taal, wetenskaplike taal en kommersiele taal. Nou kom die generasie en vernietig al die werk wat gedoen is vir ons.

Ek hoop dat wanner professore en die akademici elite iets wil word in SA moet hul tog net asseblief WAKKER WORD!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.