Titus het ‘taalversoening bepleit en bevorder’

Dr. Danny Titus (Foto: Verskaf/ATKV)

Dr. Danny Titus, regsman, taalman, historikus en meningsvormer, is op 18 September in die ouderdom van 63 jaar oorlede.

Maroela Media het vroeër berig dat Titus sedert einde Julie in ’n koma was weens komplikasies tydens ’n operasie om ’n katarak te laat verwyder.

Talle blyke van medelye het sedertdien ingestroom vir dié kampvegter wat menseregte en die inklusiwiteit van Afrikaans hoog op prys gestel het.

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW (maatskappy sonder winsoogmerk), meen Titus sal onthou word vir sy wedywering by die ATKV om Afrikaans toegankliker en inklusiewer te maak. Sy sê dit is veral Titus se leierskap, integriteit en empatie wat haar altyd sal bybly.

Ten tyde van sy dood was Titus die voorsitter van die DAK-netwerk, ʼn organisasie wat gestig is met die doel om ʼn strukturele grondslag te verskaf vir die ontwikkeling van Afrikaanse gemeenskappe wat voorheen benadeel is. Die organisasie bring ook deur sy naam hulde aan drie geskiedkundige Khoisan-figure, wat Doman, Autshumao en Krotoa insluit.

“Ons het veel om vir dr. Titus dankbaar te wees,” sê Danie van Wyk, waarnemende voorsitter van die DAK-netwerk. “Titus se verbintenis tot die bewusmaking en koestering van bruin mense se identiteit en kultuur spreek duidelik hieruit.”

Die Dagbreek Trust het ook sy medelye betuig ná Titus se dood.

“Ek het hom die afgelope dekade of so beter leer ken – nie net as ’n menseregteaktivis nie, maar ook as ’n taalaktivis,” sê dr. Theuns Eloff, voorsitter van die trust.

“Sy liefde en ywer vir Afrikaans as moedertaal vir bruin, wit en swart Suid-Afrikaners was helder en duidelik. As taalleier vir Afrikaans het hy in gereelde gesprekke wat die Dagbreek Trust gereël het, taalversoening bepleit en bevorder.”

Astrid de Vos, uitvoerende trustee van die Dagbreek Trust, het ook ʼn boodskap vir sy dogters gehad: “Ek hoop julle vind troos in die fantastiese bydrae wat hy tot versoening in Suid-Afrika gemaak het en die verskil wat hy gemaak het op soveel ander plekke. Hy was ’n rots en steun.”

Titus het in 1982 sy graad in die regte aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf en is in 1983 as advokaat van die hooggeregshof van Suid-Afrika toegelaat. Hy het Suid-Afrika in 1987 verlaat om sy studie aan die Universiteit Leiden in Nederland voort te sit.

In 1993 het Titus sy doktorsgraad in die regte aan dié universiteit behaal en kort daarna teruggekeer na Suid-Afrika.

Voordat Titus in 2008 by die ATKV aangesluit het, was hy visedekaan by Unisa se Kollege vir Regsgeleerdheid, en het hy waargeneem as hoof van die departement justisie en grondwetlike ontwikkeling se Opleidingskollege in Pretoria. Hy het einde Mei, ná 12 jaar by die ATKV, afgetree. Titus was die uitvoerende hoof van korporatiewe aangeleenthede.

Klik hier om die volledige huldeblyk op Afrikaans.com te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Therese ·

Innige meegevoel met die Titus-familie in hierdie hartseer dae.

Afrikaansliefhebbers kan nie anders as kopkrap oor hóé Afrikaans so totaal gekwyn het op akademiese gebied, ondanks die aktivisme en beywering nie.
Van toeganklikheid en inklusiwiteit vir Afrikaanssprekendes op universiteitsvlak is daar tans geen sprake nie.
Jare en jare se swoeg en sweet om Afrikaans trots te vestig, is verlore. Tragies.

Johannes ·

Danny Titus se moedertaal was Afrikaans. In Nederland het hy, volgens eie erkenning, al sy werkstukke in Engels geskryf. Hy het Engels as sy huistaal gekies. Hierdie feite is moeilik versoenbaar met ‘n kampvegter vir Afrikaans. Inklusiwiteit en versoening word in sy benadering tot Afrikaans beklemtoon. Maar hy was die leier by die DAK-netwerk, wat volgens die DAK-webwerf blankes uitsluit. Dit lyk na nog ‘n teenstrydigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.