Tjailatyd vir getroue K9-lede

Flynn en Kubla Khani se hanteerders het hulle na hul aftrede aangeneem. (Foto: Stad Kaapstad)

Ná agt jaar as toplede van die Kaapstadse metropolisie is dit nou eers heeltyd speeltyd vir Flynn en Kubla Khani. Maar eers moes hulle vir oulaas parade staan.

Die twee honde, albei tien jaar oud, het in Junie vanjaar reeds afgetree en is intussen deur hul hanteerders, konstabels Sharone Larry en Clinton Adams, aangeneem. Die twee veterane bly dus deel van die eenheid se familie.

“Dit is ʼn hartseer én opwindende dag vir die eenheid. Ons hondelede is net so deel van die eenheid as hul menskollegas en hulle word soos familie,” sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit in Kaapstad.

“Benewens hul werk in die eenheid help die honde boonop om gemoedere op te beur en stres te verminder.”

Albei honde is in 2011 gebore en het twee jaar later by die metropolisiedepartement aangesluit.

Flynn is opgelei om nie net ʼn beskermingsrol te vervul nie, maar ook om plofstof uit te snuffel.

Kubla Khani het tydens haar aanvanklike opleiding ʼn besering opgedoen wat beteken sy is nooit vir aktiewe diens gebruik nie. Sy het nietemin ʼn lid van die eenheid gebly.

Die metropolisie se honde-eenheid het tans 20 aktiewe honde wat ten volle operasioneel is.

Lede van die span wens Flynn en Kubla Khani ‘n rustige aftrede toe. (Foto: Luthando Tyhalibongo/Stad Kaapstad)

Die hoof van die metropolisie in die stad, Wayne le Roux, het Flynn vir ʼn laaste amptelike draai geneem. Kubla Khani het daarna weer by hulle aangesluit en die twee het aangetree vir hul sertifikate en medaljes.

“Ons wens ons twee oudstryders alles van die beste toe, met baie vrolike staptogte en goeie tye,” sê Smith.

‘We wish our two retirees well, with many happy walks and barking good times,’ added Alderman Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Pragtig! Ons salueer die twee helde. So getrou, so hardwerkend, soveel liefde. Ons salueer ook die twee lede wat hul aangeneem het. Ek is 100% seker dat hul aftrede maanskyn en rose, en baie wandelpaaie, gaan inhou saam met julle.

Sandra ·

Ag dis wonderlik dat hulle ‘n seremonie vir die vierpotige polisielede hou. Julle het goed gedoen, nou kan julle lekker rus en net honde wees.

Toy ·

Ai dis so hartseer, so kom als tot ‘n einde. Pragtige honde.

Karina ·

In Amerika hou hulle ‘n offisiele begrafnis vir honde wat aan diens sterf, ek het so ‘n begrafnis gesien, was so mooi en hartseer en het my laat huil.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.