Tjekboek se dae amptelik getel

(Foto: Maroela Media)

Die tjekboek se dae is nou amptelik getel en van 31 Desember sal geen tjeks meer as betaling in Suid-Afrika aanvaar word nie.

Die Reserwebank, die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) en die Bankvereniging van Suid-Afrika het in ʼn gesamentlike verklaring gesê dat die uitreik en aanvaar van tjeks op dié dag tot ʼn einde kom.

Die instellings sê die besluit is geneem weens die talle uitdagings wat met die gebruik van tjeks gepaard gaan. Dit sluit in ʼn uitgerekte prosesseringstydperk, bedrog, die koste verbonde aan die gebruik van tjeks as betaalmiddel, die beperkte aanvaarding daarvan, ʼn afname in gebruik, verouderende infrastruktuur tussen banke om tjeks te verwerk, asook die Covid-19-pandemie.

“Suid-Afrikaanse banke gaan geen tjeks vir deposito of wisseling ná 31 Desember aanvaar nie,” lui die verklaring.

Daar word nou van banke verwag om hul kliënte behoorlik oor die besluit in te lig voordat die gebruik van tjeks heeltemal gestaak word. Kliënte moet ook op die hoogte gebring word van alternatiewe elektroniese betaalmetodes.

Die instellings het ʼn beroep op mense gedoen om nie ná 31 Desember enige tjeks te skryf of te aanvaar nie.

Tussen September verlede jaar en September vanjaar het die gebruik van tjeks met 52% afgeneem. Die bedrae betrokke by die gebruik van tjeks het in dieselfde tyd van sowat R4,7 miljard na sowat R840 miljoen afgeneem.

Die Covid-19-pandemie het ook bygedra tot ʼn vinniger afname in die gebruik van tjeks omdat verbruikers toenemend vinniger, goedkoper en meer gerieflike elektroniese betaalmetodes verkies. Die verwerkingsinfrastruktuur het ook onvolhoubaar en ondoeltreffend geword weens die voortgesette afname in gebruik. Hoewel tjeks al hoe minder gebruik word, is die voorkoms van bedrog met dié betaalmetode steeds hoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Adriaan ·

Covid-19 is darem die beste verskoning ooit vir alles.

Bv, ek kon nie vanjaar vakansie in Hawaii gaan hou nie agv Covid-19. Al die vorige jare kon ek nie gaan nie want ek kon dit nie bekostig nie!

JohanR ·

Mal-ema skryf vir my een laaste tjek asseblief. Ek sal die tjek bank op jou vet VBS rekening! Maak hom uit vir R2 miljoen.

Adam Adriaan ·

Die probleem is nie COVID-19 nie maar die lock down, wat alles laat verkrummel het. Lock down wat die regering ingestel het moet veroordeel word. Dit is die Groooooot siekte, Die huisaress waaraan ons en alles onderwerp was en nog in ‘n mate is.

Eben ·

Ja cheques is verouderd maar baie mense het hulle werk nou verloor deur die einde van cheques.

Hennie J ·

Ja o aarde, die tegnologie haal almal in. Nou is my verskoning van ‘jou tjek is in die pos’ ook in sy kanon in.

Africangrey ·

Lekker lag ek nou, en dit kon maande neem voor hy aangeland het agv covid 19

Stof ·

En daar gaan van hulle wat my gewoonlik seën, se gawes.
Maar ek weet daar sal seker alternatiewe skenkers kom.
Filantrope moet ook leef…

Anel ·

Ons is die enigste land wat nou nie “back up” gaan hê nie. In hierdie land waar daar so kort kort kragonderbrekings is, en mense wat NOU hulle geld wil hê, wat nie van kragonderbrekings wil verstaan nie, hoe nou gemaak?

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ek is verbaas dat die wit olifant so lang gehou het. Daar is makliker en goedkoper maniere om geld te stuur, soos eWallet. Met eWallet kan hy geld vir mense stuur al ken jy nie hul bankrekening nie. Ons almal het selfone.

Die Goodwoodianer ·

Op die dorp was daar ñ baie suinige boer. Die boer gee elke keer ñ tjek vir die kerk maar elke keer dan hop die ding terug. Toe kom die Dominee eendag by hom aan en hy sê vir die boer: “Broer, jy gee elke maand ñ tjek vir die kerk maar dan hop dit elke keer. Kan jy nie dalk ñ skapetjie of ñ besetjie gee wat ons kan opveil by ons bazaar nie? Dan kry ons darem só ñ iets van jou af.”

Right, die dag van die bazaar kom en toe skenk die boer ñ koei. Die koei word nou ge-‘auction’. Nou staan die groot koei daar by die bazaar en die mense begin bie op die ding. Nou gaan die prys mooi op, op, op. Later staan die koei by so R11000. Maar die einste boer bie toe die hoogste. Toe koop hy basies sy eie koei terug vir omtrent R15000. En toe die tyd kom vir betaal, haal hy sy boekie uit en skryf ñ tjek vir die koei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.