Die tjekboek se dae is nou amptelik getel en van 31 Desember sal geen tjeks meer as betaling in Suid-Afrika aanvaar word nie.
Die Reserwebank, die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) en die Bankvereniging van Suid-Afrika het in ʼn gesamentlike verklaring gesê dat die uitreik en aanvaar van tjeks op dié dag tot ʼn einde kom.
Die instellings sê die besluit is geneem weens die talle uitdagings wat met die gebruik van tjeks gepaard gaan. Dit sluit in ʼn uitgerekte prosesseringstydperk, bedrog, die koste verbonde aan die gebruik van tjeks as betaalmiddel, die beperkte aanvaarding daarvan, ʼn afname in gebruik, verouderende infrastruktuur tussen banke om tjeks te verwerk, asook die Covid-19-pandemie.
“Suid-Afrikaanse banke gaan geen tjeks vir deposito of wisseling ná 31 Desember aanvaar nie,” lui die verklaring.
Daar word nou van banke verwag om hul kliënte behoorlik oor die besluit in te lig voordat die gebruik van tjeks heeltemal gestaak word. Kliënte moet ook op die hoogte gebring word van alternatiewe elektroniese betaalmetodes.
Die instellings het ʼn beroep op mense gedoen om nie ná 31 Desember enige tjeks te skryf of te aanvaar nie.
Tussen September verlede jaar en September vanjaar het die gebruik van tjeks met 52% afgeneem. Die bedrae betrokke by die gebruik van tjeks het in dieselfde tyd van sowat R4,7 miljard na sowat R840 miljoen afgeneem.
Die Covid-19-pandemie het ook bygedra tot ʼn vinniger afname in die gebruik van tjeks omdat verbruikers toenemend vinniger, goedkoper en meer gerieflike elektroniese betaalmetodes verkies. Die verwerkingsinfrastruktuur het ook onvolhoubaar en ondoeltreffend geword weens die voortgesette afname in gebruik. Hoewel tjeks al hoe minder gebruik word, is die voorkoms van bedrog met dié betaalmetode steeds hoog.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
14 Kommentare
Covid-19 is darem die beste verskoning ooit vir alles.
Bv, ek kon nie vanjaar vakansie in Hawaii gaan hou nie agv Covid-19. Al die vorige jare kon ek nie gaan nie want ek kon dit nie bekostig nie!
Dankie tog.
Mal-ema skryf vir my een laaste tjek asseblief. Ek sal die tjek bank op jou vet VBS rekening! Maak hom uit vir R2 miljoen.
Die probleem is nie COVID-19 nie maar die lock down, wat alles laat verkrummel het. Lock down wat die regering ingestel het moet veroordeel word. Dit is die Groooooot siekte, Die huisaress waaraan ons en alles onderwerp was en nog in ‘n mate is.
Ja cheques is verouderd maar baie mense het hulle werk nou verloor deur die einde van cheques.